1 Samuel 17
As gelowiges bely ons dat die Here Jesus Christus ons vrede, ons lewe en ons hoop is. Trouens, ons gaan selfs so ver om te sê dat ons enigste troos in lewe en dood is om aan Jesus Christus te behoort. Maar daar is ook ‘n ander stem, ‘n arrogante stem wat ons uitdaag om te sê: Nee, my geluk word bepaal deur die grootte van my bankrekening, deur waar ek woon, deur dit wat ek doen en bereik het. Daardie stem daag ons uit om die teendeel te bewys, verkleineer ons met opmerkings soos: Dit is seker goed en wel om in die Here te glo, maar dit gaan jou nie ver bring nie; wat die toekoms verseker en hoop gee, is dit wat jy het. Jy koop geluk; jy ontvang dit nie. Ons word deur die stem oorweldig en staan soms verleë en bang voor hierdie stem.

Dit is eintlik waaroor 1 Samuel 17 gaan: Die heidendom wat uitdagend teenoor God se kinders gaan stelling inneem en sê: Kom vat ons aan! Die hartseer is dat God se kinders soos bangbroeke in hul tente gaan wegkruip. Saul is ook ten spyte van sy grootte bang om Goliat aan te vat. Hy het al lankal sy vertroue in God verloor. Die volk sit met die gesalfde van die Here in hul midde wat vra vir leiding, maar hy het nie die moed nie.

Gelukkig is daar ‘n Dawid wat proefondervindelik weet wat dit is om saam met God ‘n pad te loop. Hy het die moed om op te staan en te verklaar dat die oorlog aan die Here behoort en dat God die Filistyne in hul mag gaan oorgee. Dit gaan dus nie eintlik oor Goliat of Dawid nie, maar oor God wat veel groter as die magte van hierdie wêreld is.

Wie of wat is die Goliat in jou lewe wat jou oorweldig?

In Romeine 10:14-15 vra Paulus ‘n paar goeie vrae: Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? 

As gelowiges glo ons: God roep mense. God. God sluit mense in by sy Koninkryksplan. God gee en ontwikkel gawes. God gee verskillende gawes om saam die liggaam op te bou. God vorm mense tot geestelike- en persoonsvolwassenheid.

Binne die NG Kerk is ons geseën met uiters be-“gaaf”-de mense: Mense wat deur die Here geseën is met gawes, opleiding, kennis en ervaring; ook met mense wat graag medeverantwoordelikheid wil neem vir die bediening van die Woord. Hierdie geroepenes is natuurlik nie net predikante nie; elke gelowige is ‘n geroepene, gestuurde en ‘n sendeling.

Ons leef ook binne ‘n veranderende konteks waarin die eskalerende koste van voltydse, residensiële studie talle geroepenes verhinder om aan te meld vir teologiese opleiding. Terselfdertyd kan ‘n groeiende groep gemeentes nie voltydse bedienaars van die Woord of méér bedienaars van die Woord volgens die tradisionele bedieningsmodel bekostig nie. In Helderberg Gemeente benodig ons ten minste 5 bedienaars van die Woord om op ‘n Sondag die Woord te bedien, maar vir hoe lank is dit finansieel volhoubaar?>>

Lees verder: Die bediening van die Woord

Sedert ek betrokke geraak het by die Uyavula-leesprojek, is Woensdae my gunsteling dag. Ek ry met 'n lied in my hart na Oklahomastraat Primêr, wat natuurlik in Oklahomastraat in Macassar is. As iemand wat baie van musiek hou, is dit vir my groot pret om in al die strate met musiekterme en musiekblyspele vir name te ry. Teen die tyd dat ek uit Musicalaan in Nagtegaal-straat draai, en dan links in Showboat en weer regs in Oklahomastraat, strek my glimlag van oor tot oor.

By die skool voel mens so welkom, en terwyl ons wag dat die klok moet lui om die einde van pouse aan te kondig, word mens verras met drukkies van kinders wat ons sien aankom. Wanneer die graad 3-klas in 'n koor sê: "Goeie môre tannie Annette, en hoe gaan dit vandag met u?” kan dit mos nie anders as om voor die wind te gaan nie. Die kinders stoei amper vir die beste plek op die mat, en wanneer jy begin lees, sit hulle met groot afwagting en luister. Al is daar hier en daar 'n outjie wat vroetel of 'n maatjie pla, let hulle oor die algemeen baie goed op en antwoord flink wanneer dit by vraetyd kom.

Wat ook verblydend is, is dat Juffrou hulle elke keer iets laat skryf en teken oor die dag se storie, en volgende keer kry ek voorbeelde van die skryf- en tekenwerk. Dit is kostelik om te sien hoe hulle die stories verstaan en probeer om groot woorde te skryf. En as een skryf dat hy nie kan wag vir die "neks" storie nie, dan gaan kies ek sommer dadelik die volgende storie wanneer ek by die huis kom.

As leser voel ek nie net bevoorreg om 'n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van kinders nie, maar ontvang ek soveel terug van hulle - liefde en onvoorwaardelike aanvaarding, en daar is niks wat mens meer spesiaal kan laat voel nie.

Annette Ruppert - Uyavula Leesprojek vrywilliger

Is jy ook lus vir lees? Kontak vir Amanda de Villiers 

Helderberg is ’n groot gemeente waar sommige lidmate wegraak in die massa. In die gesprekke oor die “restart proses” het talle lidmate die behoefte uitgespreek dat hulle êrens wil behoort, dat hulle op soek is na ’n plek waar hulle waarlik kan tuiskom. Lidmate het ook ’n intense behoefte om geestelik te groei en te leer saam met medegelowiges. Hoe kan ons mekaar help om werklik te behoort en om geestelik te groei? Jesus Christus het sy bediening op aarde met ’n kleingroep begin. Hy het twaalf dissipels gekies en ’n pad met hulle gestap. Die eerste gemeentes in die NT was eintlik maar kleingroepe wat in huise bymekaar gekom het. Kleingroepe is werklik ’n plek waar jy die wil van God op talle terreine kan uitleef (vgl Kol 3:12-17).>>

Lees verder: ‘n Plek waar jy behoort en geestelik groei

Vandag vier baie gesinne Vadersdag waar hulle vir pa’s of mense wat ‘n mentorsrol in hulle lewe speel, dankie sê.

Ons erken dat daar verskeie tipe mense is wat soos “vaders” is vir ons kinders: pa’s, oupas, stiefpa’s, aangenome pa’s, voog pa’s, kategete ooms, onderwysers, sportafrigters, goeie vriende, ouer broers, ooms en ander mans wat ‘n pa rol speel in kinders se lewens, ons wil vandag aan al die tipe pa’s dankie sê.

Ons erken ook vandag dat daar baie mense is wat vandag hartseer is of eensaam voel wat dalk ‘n pa of pa-figuur verloor het, wat dalk ‘n slegte herinnering het, of wie se pa of kinders nie nou by hulle kan wees nie.

Vandag wil ons vir spesiale mense dankie sê.

Top