Tyd van verootmoediging en gebed - 18 Maart 2018
Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort. Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. (Ps 73:15-17 – 1983 Vertaling) “Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. (Luk 15:17)

Ps 73 en die verhaal van die verlore seun kan met mekaar in verband gebring word. Ons ken almal die begin van die verhaal van die verlore seun: “Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.” Die uiteinde van die verhaal is eintlik so tragies, maar so werklik: Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe. Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly. Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie. (Luk 15:14-16)

Soos in Ps 73 is daar ‘n wending in die verhaal van die verlore seun: Hy het tot inkeer gekom. Die psalmdigter het die heiligdom ingegaan en besef. By altwee gebeur daar iets wanneer hulle ontdek waarom dit eintlik gaan.

Die verlore seun het ontdek wie hy werklik is, sy identiteit – hy is die geliefde seun van ‘n vader. Hy ontdek dat hy eintlik net by sy pa wil wees – net dit! Al kry hy niks meer as dit nie; om weer by sy pa te wees, is genoeg. Die psalmdigter kom tot dieselfde gevolgtrekking wanneer hy sy lewe begin vergelyk met die van ander.

Soms lyk dit so aanloklik om uit God se sorg en teenwoordigheid te wees. Totdat . . .

Gebed: Here om U te ken, is al wat ek vra. Amen

Tyd van verootmoediging en gebed - 17 Maart 2018
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. (2 Kor 3:18 – 1983 Vertaling)

Soos die kerk vandag, het die kerk in Korinte met ‘n klomp geloofsvrae gestoei rondom sake soos seksualiteit, geld, leierskap en wat dit alles behels om werklik getrou en gehoorsaam aan Christus te wees. Die tipiese vrae rondom gehoorsaamheid aan Christus binne ons konteks en kultuur.

Paulus wil hê dat die mense in Korinte en ook ons iets dieper sal raaksien: Die wonder van die opstanding in Christus het alreeds begin. Ons is alreeds deel van ‘n vernuwingsproses. Elkeen van ons is ‘n nuwe skepping: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” (2 Kor 5:17-18a) Die Gees wat die agent van hierdie nuwe werklikheid is, is besig om ons totaal-en-al te verander – God verander ons deur ons denke te vernuwe (Rom 12:2). Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Ons moet op Christus bly fokus en dit wat Hy besig is om in ons te doen. Ons kan soms so vasval in al die geloofsvrae van die tyd dat die veranderingsproses waarmee Christus in ons besig is, vervaag. Ons groei lê in Wie Christus is.

Gebed: Here dankie vir die veranderingsproses waarmee U in my besig is. Amen

Tyd van verootmoediging en gebed - 16 Maart 2018
Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir 'n man van honderd 'n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, 'n kind in die wêreld bring? (Gen 17:17 – 1983 Vertaling)

Rondom geloof is daar gewoonlik een van twee reaksie: “Kan jy jou dit voorstel?” Of “Ja, maar . . .”

Abraham se eerste reaksie was: “Ja, maar . . .” “Ja, maar ek is al baie oud.” “Ja, maar sy is nie verwagtend nie.” “Ja, maar ons twee het alreeds vir Ismael.” 

Abraham kon ook reageer deur te sê: “Stel jou voor ‘n baba op ons hoë ouderdom!” “Stel jou voor Sara is verwagtend!” "Stel jou voor na al die jare word God se belofte waar!”

God maak die onmoontlike moontlik. God skep; Hy is die Skepper-God. Ons kan sekere goed maak, vorm of vervaardig uit materiaal wat tot ons beskikking gestel word, maar ons kan nie iets uit niks skep nie. God kan uit niks iets skep. God kan nuwe moontlikhede ver bo ons verwagtinge skep.>>

Lees verder: Lydenstyd - dag 31

“To listen is very hard, because it asks of us so much interior stability that we no longer need to prove ourselves by speeches, arguments, statements or declarations. True listeners no longer have an inner need to make their presence known. They are free to receive, to welcome, to accept.” Henri Nouwen

Ons samelewing druk ons om opinies te vorm oor alles. Indien jy nie ‘n opinie het nie, sal iemand jou baie maklik afmaak as on-intelligent, onnadenkend, of selfs net oppervlakkig. Selfs al het jy die opinie dat jy nie ‘n opinie het nie, sal jy hoogswaarskynlik onder die selfde kam geskeer word. Daar is niks ongesond daaraan om ‘n opinie te hê nie…maar dit raak ‘n probleem as ons nie buigbaar kan wees en werklik kan luister na diegene rondom ons nie.

Dit was een van die dinge waarmee die Fariseers gesukkel het. Dit was vir hulle so belangrik dat hulle gesien en gehoor moes word, dat hulle in die proses heeltemal verleer het om leerbaar te wees, om ruimte te gee vir ander, om buigbaar te wees, en om genadig te wees. Hierdeur het hulle op die ou-end hulleself gevangenis gemaak van ‘n genadelose bestaan. Jesus moes harde woorde gebruik om hulle van hierdie realiteit bewus te maak (Matteus 23:13-28)…

Sy genade is en was nog nooit goedkoop nie: Dit het Hom sy lewe gekos.

Daarom smag Hy daarna dat ons erns maak daarvan en sodoende verfris kan word daardeur.

Familiebediening se jeug van graad 1 tot graad 11 het verlede Sondag saam met die gemeente nagmaal gevier. ‘n Onthou-fees van wat Jesus vir ons gedoen het: Sy liggaam wat vir ons gebreek is en Sy bloed wat vir ons gevloei het. In die Bybelse tyd was nagmaal ‘n groot feesmaal. Hierdie feesmaal is aan die jeug verduidelik deur om saam met mekaar die brood te breek, pizza te deel en sap te drink. Dit was voorwaar ‘n feesgeleentheid om hierdie belangrike herrineringstekens aan ons kinders oor te dra.

Top