'n Passie vir God

 
en 'n hart vir mense en 'n wêreld in nood

Helderberg Uitreik Dienssentrum
Ek het die voorreg gehad om met Yolandè Kennedy, die koördineerder van die Helderberg Uitreik Dienssentrum, te gesels oor haar passie vir die Dienssentrum en wat hulle alles daar doen.

Melanie: Hoekom is jy betrokke by die Dienssentrum?

Yolandè: Daar is soveel kinders wat skool toe moet gaan op ‘n honger maag. Hulle moet die hele dag konsentreer sonder ‘n kriesel kos. Ons droom is om kos so vêr en wyd soos God se genade aan honger mense te verskaf. Tans streef ons na hierdie droom deur 16 sopkombuise en kospakkie projekte te ondersteun. So is dit moontlik dat kinders en hulle ouers minstens een ete per dag kan kry. Dit maak dat ek in die nag kan slaap, wetende dat nie net my maag vol is nie, maar ook sommer ‘n hele klomp ander mense s’n ook.

Melanie: Hoe beleef julle die Here by die Dienssentrum?

Yolandè: Ons beleef die praktiese betekenis van afhanklikheid van die Here by die Dienssentrum. Ons is afhanklik van skenkings. Die voedsel word tans deur Spar De Helderbosch, Spar Heldervue, Checkers Sitari, Checkers Somerset Mall, Pick n Pay Waterstone, Pick n Pay The Sanctuary, Deli Veg, FoodForward, Woolworths CBD en Woolworths Waterstone geskenk. Ons is opreg dankbaar vir elkeen van hulle.>>

Lees verder: Vrae aan Yolandè

In die bekende ou Britse TV reeks Keeping Up Appearances het Hycanth Bucket kykers vir jare vermaak deur haar pogings om iets of iemand te wees wat sy nie is nie. Hoe hard sy ook al probeer om die sosiale leer te klim, sy en haar familie is nou maar een maal nie adel nie. In 1 Johannes 3 lees ons hoe die bejaarde apostel Johannes vir gelowiges skryf en hulle herinner om te wees wie hulle is. Hulle is adel. Hulle is kinders van God. Hulle het hulle vertroue begin verloor en begin wonder of hulle reg is. Johannes moedig hulle aan om te onthou dat hulle God se familie is en so kan en moet optree. Kinders van God leef rein. Kinders van God doen die regte ding. Kinders van God het mekaar lief.

Ons kan so die blink kant bo hou – nie omdat ons voorgee nie, maar omdat ons trots deel is van God se familie.

Ons is besig met ‘n reeks preke uit 1 Johannes. Sondag se teks is 1 Joh 2:28-3:10. Jy is uitgenooi.

Danie Möller

Klassieke Klanke is altyd 'n belewenis. Hierdie naweek is daar twee geleenthede, Saterdag en Sondag.

Vir die volgende vyf Sondae (7 April tot 5 Mei) gaan ons stilstaan by die eerste brief van Johannes. Volgens oorlewering het die apostel Johannes die brief geskryf. Hy rig dit aan ‘n hele paar nie-Joodse gemeentes in Klein-Asië. Sy doel is om Christene in hulle geloof te versterk en hulle te help om weerstand te bied teen valse leerstellings.

Daar is talle temas wat in die brief na vore kom: Sonde, skuldbelydenis en vergifnis; Liefde wat geleef moet word; Ons rol as kinders van God; Waarheid en valsheid; Geloof en sekerheid. Ons wil jou uitnooi om saam met ons hierdie brief te lees en self te beleef hoe God met jou praat.

Eerskomende Sondag se eredienste saam met Deon Els sal aansluit by 1 Johannes 1:1-2:2. Nooi vriende saam na die eredienste.

Ons wil dit wat ons Paasnaweek beleef het verder uitleef.

Danie O’Kennedy

Elke week stuur Kaapkerk (dit is die Sinode van Wes-Kaapland) ‘n nuusbrief uit met nuus van al die gemeentes in hul area, die nuusbrief se naam is VrydagNuus. Hulle het ook hul webblad opgedateer en dit is baie gebruiker vriendelik vir enigeen om te gebruik. Hier is die skakel na hul webblad, waar jy ook kan inteken op die VrydagNuus: https://kaapkerk.co.za/

Dan het jy seker al gehoor van die Kerkbode, hier is die skakel na hul webblad: https://kerkbode.christians.co.za/. Die Kerkbode het ook ‘n toep wat jy kan aflaai.

Die Lig-tydskrif se webblad is: https://lig.co.za/.

Gaan loer gerus na hierdie webblaaie vir iets interessant.

Lekker lees.

Top

LINK PARTNER: slot5000 idngg vegas88 elanggame koko303 gen77 hoki99 zeus138 roma77 ligaplay88 gaspol168 sikat138 bonus168 agen388 ligagaruda vegas77 vegasslot77 pokerseri