'n Passie vir God

 
en 'n hart vir mense en 'n wêreld in nood

Op ’n dag toe die kwik by 44˚C gaan draai het op Merweville, het Hannes Theron en Pia Nänny van Helderberg Uitreik se Rampverligtingsprojek ongeveer 60 Adventsbokse by die kerkkantoor op dié dorp gaan aflewer. Hierdie bokse met kruideniers- en toiletware is met liefde oor die Kerstyd deur gemeentelede saamgestel. Dit is vanuit die kerkkantoor in Merweville, 128km duskant Laingsburg, na die plaasgemeenskap versprei.

Dit is die warmste dag wat hy nog op Merweville beleef het, het ds Herman Burger gesê. Die veld is dor en vaal. Hy het gevra dat ons die gemeenskap se dank aan die gemeentelede van Helderberg Gemeente en Somerset-Wes Moedergemeente sal oordra en dat ons sal aanhou bid dat die boere nie moed sal verloor nie.

“Mense wat al 40 jaar hier boer, sê hulle het dit nog nooit so beleef nie,” vertel hy. Hy het bygevoeg dat die boere se grootste behoefte voer vir hulle diere is, en ook diesel om die voer by die diere te kan kry.

“Ons beweeg ook nou so stadigaan na ’n situasie waar mense kos nodig het. Dat hulle dalk nie meer hul rekeninge by die winkel kan betaal nie. Daarom wil ons net baie dankie sê vir wat julle doen. Elke bietjie help. Ons moet ook onthou dat gebed ’n kragtige uitwerking het en ons gebede is dat ons boere moed sal hou.”>>

Lees verder: Helderberg Uitreik staan droogtegeteisterde gemeenskappe by

Helderberg Uitreik stel graag ons dinamiese prediker vir die Uitreikfees op 2 Februarie, Alexander Melirrytos van die Omonia Christen Gemeente in Athene, Griekeland bekend.

Alexander was voorheen ‘n skeepskaptein van groot olietenkers wat ook aan die suid-punt van Afrika aangedoen het. Na baie seemyle, het hy geroepe gevoel tot voltydse bediening en na sy afloop van sy opleiding as leraar het hy en sy vrou, Eleni, hulleself beskikbaar gestel as sendelinge by die Omonia Christengemeente in die hartjie van Athene. Omonia word beskryf as die mees gevaarlike deel van Athene waar haweloses in die parke en op die Omonia-stadplein woon en waar dwelmmisbruik redelik algemeen voorkom.

Die gemeente dien enkele Grieke, maar fokus meestal op immigrante wat hulleself in Griekeland kon vestig. Hulle was dus perfek geleë en gerat om die invloei van vlugtelinge uit Sirië, Irak en Afghanistan sedert 2014/5 te bedien. Die vlugtelinge het letterlik op die kerk se voorstoep beland. Sedertdien het die gemeente ‘n omvangryke bediening aan die vlugtelinge gevestig en het selfs nou ‘n gevestigde “kerk” vir die Arabiese bekeerlinge uit die Moslemgeloof in die gemeente gevestig.

Kom luister gerus na die inspirerende prediker op 2 Februarie om 8:00, 9:30 en 19:00 in die kerk. Lees meer oor Eleni by https://christianchronicle.org/cast-out-fear-with-perfect-love/

Wat 'n lekker was dit nie om soveel opgewonde maats te sien by ons afskop die afgelope Sondag. Dit het my hart met soveel dankbaarheid en vreugde gevul en laat dink aan die woorde van Jesus: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie.” Dankie aan elke ouer wat hulle doopbelofte met erns opneem.

Net ter duidelikheid vir al die nuwe ouers en maats by ons:
Almal kom in Joppe bymekaar vir die grootgroepbyeenkoms waarna die kinders in hulle kleingroepe verdeel na hul onderskeie lokale. Tref asseblief die nodige reëlings met jou kinders oor waar presies julle mekaar weer kry na afloop van die diens om enige trane en ongelukkigheid uit te skakel.
Graad 1 – Bly in Joppe en ouers kom haal hul kinders weer daar 
Graad 2 – Die gang (naby die trappe by die hoofingang)
Graad 3 – Kerkkantore.

Ons sien uit na 'n heerlike kwartaal van saam aanbid en saam leer van ons wonderlike Koning Jesus en die skatte wat in Sy Woord vir ons wag. Indien enige ouer wil betrokke raak as groepleier, kontak my gerus. Ons benodig 'n pappa of twee by ons graad 1-manne.

Lizl

Wanneer ons ontdek wat dit is om liefde te ontvang en self lief te hê, kom ons die naaste aan God. In ons liefde vir God is die vraag wat ons onsself eerlik moet afvra: Is ek werklik op soek na God of sy gawes?

Ons tema Sondag is “Leef met ‘n passie vir God en ‘n hart vir mense en ‘n wêreld in nood” en ons teks-gedeelte is Matt 22:37-40. Ons droom vir hierdie gemeente is dat elke lidmaat vir God met sy/haar totale wese sal liefhê en dat hierdie passie vir God aansteeklik sal wees. Ons weet dat ons in ‘n onvolmaakte wêreld leef en ons droom ook dat elke lidmaat ‘n hart sal hê vir mense wat in geestelike en fisiese nood is. Jesus beklemtoon in Matt 22 dat dit die opsomming van die hele wet is – dit is die kern van die Woord wat ons glo en wil uitleef. 

Kom drink gerus ‘n heerlike koppie koffie of koue vrugtesap na die diens in die Tent. Ons koffiestalletjie waar jy ‘n cappuccino kan koop is ook weer oop. Dit is waar jy ander mense kan leer ken.

Baie welkom aan ons tieners en ouers. Dit gaan vir ons ‘n voorreg wees om hierdie jaar saam met julle geestelik in jul kinders se lewens in te bou. Graad 7 – 11 ouers word spesiaal uitgenooi om die Tienerkerk op Sondag, 26 Januarie om 18:00 – 19:00 by te woon. Kom kyk en beleef hoe ons jongmense en jul kinders die Here aanbid. 

Die graad 11 ouers word dan na afloop van die Tienerkerk genooi om die dissipelskapgroep in die Jeugsentrum by te woon. Paul Barnard sal meer vertel oor die belydenis van geloof-jaar en geleenthede.

Top