Tydens Palmsondag gedenk ons die dag wat Jesus op ‘n donkie Jerusalem binne gery het. Honderde mense het van heinde en verre in Jerusalem bymekaar gekom om Paasfees, die grootste fees, te vier. Daar is ‘n hele skare van mense wat Jesus toejuig, ‘Hosanna!’ uitskree en palmtakke swaai. Dis die koning waarop hulle so lank gewag het – die koning wat hulle sou bevry (ook van die Romeinse onderdrukking, of altans, so het hulle geglo).

Jesus wou egter koning op ‘n ander manier wees – ‘n dienende, nederige, koning wat vrede en heelheid in mense se harte wou (en wil) bring. Ten spyte van storms en geweld buitekant ons lywe, wil Hy vrede en heelheid bring binne ons lywe. En Hy is bereid om sy lewe daarvoor te gee. Geen wonder dat Hy begin huil wanneer Hy besef dat ‘n groot klomp van hierdie mense (en elkeen van ons op ‘n daaglikse basis) die innerlike vrede wat Hy wil bring mis kyk (mis ervaar!). Ons maak verkeerde keuses juis omdat ons maar net mense is. En sonder dat ons dit besef, blok ons Jesus seker oomblikke van die dag uit ons lewe uit. Jesus se droom is dat ons elke dag, elke oomblik, bewus sal bly van die innerlike vrede wat Hy aan ons wil gee.

Top