Wanneer die maatskaplike werker bel...

Wanneer die maatskaplike werker bel, is dit soms ‘n oproep waarvoor ‘n kanga-mamma gereed is. Die doekesak is gepak met die basiese benodigdhede om ‘n splinternuwe lyfie uit die hospitaal te ontslaan en huistoe te bring. Die bababedjie staan reeds opgemaak en die sagte speelgoedhasie wag om die nuweling te verwelkom. Dan kom die oproep uiteindelik! Vir ‘n rukkie gaan jy ‘n veilige plekkie wees, gaan jy middel-mamma wees vir ‘n babatjie wat wag op aanneming.

Soms is die oproep egter onverwags.

Maatskaplike werker: “Ek besef julle is nie eintlik nou beskikbaar om ‘n baba in te neem nie, maar ons het geen ander plek vir haar nie.” Dan dink jy aan Josef, wat aan wie weet hoeveel herberge se deure geklop het, voordat hy uiteindelik ‘n oop deur gekry het waar hy ‘n veilige lêplekkie kon voorberei vir die Baba wat Maria dra. Dan besluit jy in jou hart: “Vandag gaan ek nie die een wees wat ‘n baba by die deur van my herberg wegwys nie.” En jy begin skarrel om al die babagoed wat netjies in kaste weggepak was uit te haal. Jy tref die winkels met ‘n spoed vir formule melk en doeke. Ook brood en melk vir jou gesin, want jy weet nie wanneer jy weer by die winkels gaan uitkom nie. Jy het nie weke om voor te berei nie, jy moet die baba môre gaan haal!>>

Wat ook al die scenario, kanga-ouers maak plek in hul huise en harte om die mees kwesbaarstes in die samelewing in te neem en lief te hê – meestal ten koste van hulself. Nie net fisies en emosioneel nie, maar ook finansieel.

Die kanga&roo-projek het twee jaar gelede ontstaan om Tydelik Veilige Sorg-ouers, of kanga-ouers, wat maar ‘n skrale R27 per dag van die staat af ontvang, finansieel by te staan met die voorsiening van formule melk, weggooidoeke en baby wipes. As gevolg van die groot behoefte versorg sommige ouers selfs twee of drie babas op ‘n keer. Ongeveer 25 kanga-ouers en drie babahuise, wat deurlopend elk 6 babas versorg, is die afgelope twee jaar deur die kanga&roo-projek ondersteun. Ongeveer 70 babas het gedurende 2018 by die projek baatgevind. Só skryf sommige van die dankbare kanga-mammas oor die ondersteuning wat hulle van die kanga&roo-projek ontvang:

Ons is nuwe kanga-ouers en ons is uiteindelik by 'n welsynsprojek wat ons gesin perfek pas. Ons reis het baie jare terug begin en deurentyd was een van die groot struikelblokke finansies. In 'n gesin met vier kinders is daar min te spaar. In 'n tyd wat basiese produkte soos doeke en melk so duur geraak het is dit wonderlik dat julle projek ons kan help. Ons waardeer die finansiële ondersteuning opreg en dit maak 'n groot verskil aan ons begroting. Baie, baie dankie dat julle ons taak so makliker maak.
- Elana Lategan

When we decided to be Temporary Safe Care parents we didn’t have much finances for a baby, but we prepared as much as we could. When we heard about this kanga&roo project I was in awe of Gods provision. We always said God will provide for these babies and I’m telling you without this support, I don’t think we would have managed some months financially. Apart from milk, nappies, and baby wipes there are so much more expenses that we need to pay out of our pockets and this project has helped us see to other expenses without putting strain on our finances for our family. We are a big family with one moderate income and we are so thankful to you and all you do to make this happen month after month. I also thank God for what He does for us and these babies.
- Shevon Brymer

Na my man in 2016 retrench is, het dit vir ons finansieel onmoontlik gelyk om kanga-ouers vir ‘n baba te kan wees. Ons het begin Februarie 2018 in geloof ja gesê toe hulle ons bel om ‘n baba in te neem en het net gevoel dat om in te stem, ons die vyand nie toegang gee om veiligheidssorg van ‘n baba te steel nie. 2018 was ons jaar van Hoop, ons baba "Hope" was vir amper 10 maande in ons sorg en is einde November deur Hollanders aangeneem. Ons sou nie die ekstra finansiële uitgawes van ‘n baba kon bybring as dit nie vir die kanga&roo-projek was nie. Ons waardeer die projek se finansiële hulp ongelooflik baie.
- Karin Senekal

The kanga&roo project allows me to live my calling to the fullest. The donation allows me to help a second baby. I am able to support one baby but with the funding I am able to take in a second baby. Really appreciate the help. Words cannot explain my appreciation for your hard work. Thanking you kindly.
- Cherylee Jordaan

Ek moet net dankie se vir die donateurs wat vir ons soveel hulp gee. By Adaliah Sorg het ons altyd 6 babas en ons poog om elkeen na sy/haar eie behoeftes na die beste van ons vermoeë te versorg. Die geldelike hulp van engele soos julle maak dit vir ons moontlik. In moeilike finansiële tye in ons land, is dit waarlik antwoord op gebed elke keer as daar hulp inkom.
Dankie uit die hart......Mag julle BLESSINGS vir ons julle in dubbelvoud BLESS!
- Elsabe Engelbrecht, ADALIAH SORG

Ek wil net vir die donateurs baie, baie, baie dankie sê vir die bydrae wat julle in hierdie klein lyfies maak. As dit nie vir die donasie was nie, sou ek beswaarlik na een lyfie kon kyk, want ek het 4 van my eie kinders waar my eerste prioriteit lê en dan ons besigheid wat nie op die oomblik so goed doen agv die ekonomie nie, maar agv die donasies kan ek na twee en selfs soms na drie baba's kyk. So ek wil regtig net al my dank en seëninge vir julle gee. Mag Abba julle so bless dat julle instaat kan bly om ander te bless. En daarvoor wil ek julle ook eer dat julle gehoorsaam is om 'n bydrae te maak aan die wesies. In die Woord sê Hy ons moet na die weduwees en wesies kyk en julle stel ons in staat om dit te doen. So nogmaals baie, baie dankie, julle maak so groot verskil in so baie engeltjies se lewens.

- Elize Hayes

Finansiële bydraes kan gemaak word by Helderberg Uitreik, ABSA Helderberg, Rek. no: 911 4483 080, Takkode: 632005, Verwysing: kanga&roo.

Donasies van formule melk, weggooidoeke en baby wipes (enige soort) kan by die kerkkantoor afgegee word. Ons benodig tans veral Huggies/Pampers no 0, 1, 3 en 4 doeke en Lactogen 1 en Infacare 1 formule melk.

Baie dankie vir elkeen wat bydra sodat die kanga-ouers kan fokus op die liefhê en versorging van die babas en nie op die finansiële las wat daarmee saamgaan nie.

Projekleier: Tania Schultz

Foto krediet: Salomé Coetzee Photography

Top