Die mensdom probeer sy bes. Elke jaar. Maar ons kry dit nie reg om Kersfees heeltemal te bederf nie.

Ons plaas sosiale druk op mekaar om persente te koop wat ons nie kan bekostig nie. Ons laat toe dat banale Amerikaanse liedjies oral in openbare plekke gespeel word. Ons raak besig-besig-besig met kersversierings en gebruike wat geen verband met ons Suid-Afrikaanse somer hou nie. Maar ons kry dit nie reg nie. Want die ongelooflike storie van Kersfees – dat God gebore is as ’n klein kindjie – laat hom nie so maklik tem of sentimentaliseer nie. Jy kan net só ver kom om dit banaal of stroperig of doodgewoon te probeer maak, dan loop jy jou vas teen die kersverhaal.

Om te dink: Die babastemmetjie wat jy uit die doeke hoor, is dieselfde stem wat saamgesê het, “Laat daar lig wees!” Om te dink: Die klein, swak vingertjies is die hande waaroor Hy later kan sê, “Aan my is alle mag gegee.” Om te dink: Die broos klein babatjie wat teen die koue beskerm moet word, was daar voor die begin van tyd en sal daar wees wanneer al die horlosies ophou loop het. Kan ’n dun babavelletjie dit alles inhou?!

Die sterrekykers leer vir ons die regte manier om Kersfees te vier: Jy val voor Hom neer. As jy dit eers gedoen het, kan jy ’n nuwe jaar met vrede aanpak!

Top