Die afgelope paar Sondae hoor ons kinderstemme wat opklink uit ons jeugaksielokale wat verskeie vrolike Kersfeesliedere sing: Kersfees is ‘n Jesusfees, Kom kinders besing met ‘n vrolike stem en Welkom O stille nag van vrede.

Sondag neem die kleuters, Kiddies en Tekkies deel aan hierdie besonderse Familie-Kersdiens en kry geleentheid om saam met die gemeente die 1’ste Advent Sondag te vier.

Saam met die res van die wêreld se gelowige Christene vier ons *Adventus wat beteken en verwys na Christus se koms en Sy wederkoms. Sy ingryping in die geskiedenis deur die geboorte van Christus.

Advent fokus op die feit dat ons tussen die tye van Christus se eerste koms en Sy wederkoms leef en dit behoort ons leefwyse te bepaal. Dit is ’n tyd van afwagting en verwagting, maar ook ’n tyd om aktief God se liefde in die wêreld uit te leef.

Ons gebed hierdie feesseisoen is die lied wat ons Sondag gaan sing:

Christus kom, gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
in hierdie land, o Heer.

*Uit Seisone van die kerkjaar NG kerk Plumstead

Top