Ons sê maklik vir mekaar in hierdie dae “Geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwejaar”. Wat beteken dit werklik? Ons wil hê dat elkeen in hierdie tyd vir Jesus as die grootste geskenk van Kersfees sal beleef. Hy is ons Verlosser wat aarde toe gekom het om die “volk van hulle sondes te verlos” (Matt 1:21; Luk 2:11). Hy is die Immanuel, God met ons (Matt 1:23).
En sonder Jesus kan ons ook nie die nuwe jaar binnegaan nie. Ons glo dat Hy altyd by ons sal wees. Jesus het aarde toe gekom in ’n deurmekaar wêreld – ’n tyd toe die Romeinse Ryk die mense van Israel onderdruk het (Luk 2:1). Ons leef steeds in ’n deurmekaar wêreld met verskillende onsekerhede. Ons glo egter dat Jesus vir ons hoop, vrede, vreugde en liefde bring. Hy wil hê dat ons wat hierdie geskenk ontvang dit verder sal uitdeel sodat ander dit sal beleef.
Jesus Christus is die werklike Bron van seën en voorspoed: Geseënde Christustyd en voorspoedige 2023!
Danie O’Kennedy