'n Passie vir God

 
en 'n hart vir mense en 'n wêreld in nood

Hannes Theron, afgetrede leraar van Helderberg Gemeente, en Pia Nänny, projekleier van Helderberg Uitreik se Rampverligtingprojek, is veilig tuis nadat hulle die Boesmanland-Red-’n-plaas-Camino voltooi het. Hulle het oor 15 dae ongeveer 300 km van Calvinia na Garies gestap om fondse in te samel vir die NG Kerk in Noord-Kaapland se rampdroogteprojek. Lees wat vertel Hannes van sy ervaring:

314 km stap in die Knersvlakte en Boesmanland – van Calvina tot in Garies – geen regdenkende mens pak mos so-iets aan nie. Tog, as ek kan, doen ek dit weer. Die reuk van die aarde, die suiwer skoon lug, die helder sterre; ja, die droogte wat in jou gesigveld kom staan, die vernietigende effek daarvan op die plantegroei, gemeenskappe en omgewing - dit sal my altyd bybly. Die reuk van stof kom sit in jou neusgate en die droogte kom sit in jou hart en dit breek jou hart wanneer ‘n boer met ‘n diep hartseer in sy oë sê: “Al kom die reën weer, die veld sal nie in my leeftyd herstel nie . . . die vernietigende effek daarvan is net so omvangryk”.

Tog word jy ook geraak deur die hoop – die hoop as geskenk van God aan mense. Ek is geraak deur mense wat bly vorentoe kyk en ‘n boer wat sê: “Dalk moet ons minder bid vir reën en eerder begin bid vir wysheid om anders te begin boer in ‘n omgewing wat verander as gevolg van aardverwarming. Ons moet die nuwe werklikheid in die oë kyk”.>>

Die droogte is natuurlik ook ‘n produk van ons vernietigende leefstyl. Ek, jy, ons het die ekologie al grootliks vernietig met ons oorbenutting en wanbestuur van die aarde wat deur God aan ons geskenk is. Dalk moet ons meer luister na God en die noodkreet van die aarde hoor wat sug onder ons selfsugtigheid. Ons moet ook anders begin leef! Here Jesus wees ons genadig! Wees ons genadig. Gee asseblief vir ons die wysheid en die wil om anders te begin leef. Bewaar ons van doofheid om die noodkrete van die aarde te hoor.

Ek is ook diep geraak deur die mense en hul stories. So met die stof van die droogte in hul oë, hoor jy ook die lag en sien jy ook die vreugde en blydskap in hul oë; die liefde en gasvryheid om te wil dien; en die wil om met volheid te wil lewe. Sal ons ooit Donderdag, 20 Mei 2021, kan vergeet! Die wind is stormsterk, dit begin reën – sulke yskoue druppels wat jou laat lag en huil tegelyk, maar jou ook bekommerd maak oor die nag wat voorlê. Dan stuur die Here ‘n boer wat kom sê: “Luister julle kan nie vannag buite slaap nie; ek stel my woonhuis vir julle beskikbaar”. Dit word toe meer as net ‘n woonhuis – ons word ook bedien met heerlike vars gebakte brood. Die gasvryheid van mense in daardie omgewing was oorweldigend. Waar daar liefde en deernis is, daar is die Heer.

Natuurlik is daar ook die mense met wie jy saam die camino aanpak as geskenk van die Here. Wanneer jy so saamstap ontdek jy mense met stories wat jou diep aanraak; nee, jy ontdek weer ‘n God wat mense in hul seer heelmaak, perspektief gee, versoening bring en hoop gee. Ek is diep aangeraak deur God en mense, ook gevul met groot dankbaarheid in my hart oor die pad wat God met my loop en die mense wat God oor my pad gestuur het.
Die camino laat jou ook opnuut ontdek: Ons dra eenvoudig te veel goed en bagasie met ons saam. Ons kan eintlik met so min klaarkom – ‘n lewe van eenvoud is eintlik so bevrydend.

Sal ek dit weer loop? Verseker!
Hannes Theron (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.)

Gemeentelede wat nog tot hierdie projek wil bydra, kan 'n donasie inbetaal by Helderberg Uitreik, ABSA Helderberg, reknr. 9114 483 080, takkode 632005. Gee as verwysing “DROOGTESTAP” en kontak Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. indien jy ’n belastingsertifikaat benodig. Die finale bedrag sal dan eenmalig na die rampdroogtefonds oorbetaal word.

Top

LINK PARTNER: slot5000 idngg vegas88 elanggame koko303 gen77 hoki99 zeus138 roma77 ligaplay88 gaspol168 sikat138 bonus168 agen388 ligagaruda vegas77 vegasslot77 pokerseri