Covid-omgee projekte maak onverwagse deure oop

2020. ’n Uitsonderlike jaar wat wêreldwyd nooit vergeet sal word nie! Uitsonderlik vanweë die virus krisis, maar vir my persoonlik ook omdat dit die 20’ste jaar is vandat ek in Thailand begin werk het.

Gedurende hierdie 20 jaar het verskeie krisisse ons pad gekruis en al het dit onder andere ook ‘n tsunami ingesluit, vat 2020 se Covid-krisis verseker die koek!

Die Phuket-kinderprojek word deur Asia Center Foundation (ACF) bestuur en daar word deur middel van voorskoolse onderrig, beurse, gesondheidsorg en lesenswaardigheid onderrig uitgereik na kinders uit baie arm gesinne. Die voorskoolse projek gebou is reeds gebou maar ons beplan ook om Christelike laerskool onderrig aan te bied wanneer die perseel eendag klaar gebou sal wees.

In die Thai-kultuur speel trots ’n groot rol. Dis ook ’n verhoudings-gebaseerde kultuur en sonder verhouding gaan dit bitter moeilik om die boodskap van hoop blywend tot mense te laat deurdring. Na 20 jaar se werk onder minderbevoorregte, en kinders uit migrerende gesinne, was 2020 die begin van ’n volgende stap vir ons. Die mees algemeenste probleem onder die kinders waarmee ons werk is verbrokkeling van die gesinsverband. Mens se hart breek aan stukke wanneer ’n 4-jarige vra waarom haar ma haar nie lief het nie. Dit gebeur wanneer ouers een gesin verlaat en ‘n ander begin en vergeet van die kinders wat agter gelaat word. Ons beoog dus om hierdie jaar doelgerig uit te reik na die ouers van die kinders wat by ons projekte inskakel.>>

Onverwags het die Covid-krisis ons ’n hupstoot gegee. Phuket se toeristebedryf het in mekaar getuimel as gevolg van die krisis en ’n groot aantal van die ouers is totaal werkloos gelaat. Met min ander vaardighede en onvoltooide hoërskool-opleiding, vind hierdie ouers dit bitter moeilik om ander werk te kry en kan hulle nie hul gesinne versorg nie. Ons moes blitsvinnig planne maak om hierdie gesinne met meer te help as net voorsiening van gereelde kospakkies of maaltye. Met ‘leer mense om vis te vang in plaas van stop hulle ’n vis in die hand’ in ons agterkoppe het ons gefokus daarop om geleenthede te skep wat lewensvaardighede kon uitbou, en terselfdertyd ook werk kon skep.

ACF se ‘CovidCARE’, inisiatiewe, het gelei tot ’n splinternuwe groentetuin waarin ouers kan werk vir ’n dagloon. So is mense wat desperaat was weer ’n rede gegee om op te staan elke oggend, en al moes hulle hard in die warm son werk, is hulle oë weer vandag met hoop gevul. Ander ouers het gekies om ‘tuis-besighede’ te begin en ons het basiese toerusting beskikbaar gemaak wat gebruik word om kos te kan voorberei om te verkoop.

Die groentetuin is op ons perseel en ons het daagliks met die groenteboere te doen. Hulle eet ook middagete saam met ons span en binne twee maande het daar ’n natuurlike gebedsbyeenkoms onder ’n boom na middagete begin – vrug op ons skooltjie se skoonmaker se eie inisiatief! Drie van die ‘groenteboer’ dames het ’n week gelede reeds ’n besluit geneem om Jesus te volg.

Die virus krisis wat ons almal aanvanklik diep terneergedruk laat voel het, veral tydens die gebied-grendel tyd waardeur ons moes worstel, het ons almal se oë eerstens weer oopgemaak. Dit het baie mense laat besef hoe bevoorreg hulle was om werk en ’n gereelde inkomste te hê. Iets wat vir baie lank, vir baie mense nie meer ’n uitgemaakte saak gaan wees nie. En vir baie ander nog nooit ’n opsie was nie. Ons het opgemerk dat die situasie mense hier basies tot beter begrip vir dit wat baie ander mense daagliks mee te doen het, naamlik finansiële onsekerheid. Tweedens begin mense besef dat hulle werklik nie in beheer is van wat in die wêreld of in hul eie lewens aangaan nie, en bevraagteken hulle meer dikwels die doel van hulle lewens. Tydens tuisbesoeke het van die ouers ook duidelik aangedui dat hulle oop is om meer oor die evangelie te hoor en was daar van hulle wat ook reeds besluite geneem het om Jesus te volg. Dit nadat ons van hierdie gesinne al verskeie jare besoek en ’n pad met van hulle gestap het.

Ten spyte van die realiteite soos vyfster hotelle wat besig is om hul deure te sluit, ander kleiner besighede wat al reeds tou op gegooi het en grootskaalse werkloosheid, glo ek en my span dat 2020 vir ons die afskop van ’n bediening onder die ouers van die kinders waarmee ons werk gaan wees. Ons glo Covid-19 is ’n probleem wat ons moet leer hanteer. Soos iemand onlangs gesê het: ‘Life is not always perfect… there is always a possibility for a problem. The problem is not the end. It’s the beginning of a different life.’ Hierdie voorbeeld word die beste uitgebeeld deur na ’n potlood wat middeldeur gebreek is te kyk. Beide dele is steeds bruikbaar… as die tweede een ook skerp gemaak word.

Miskien gebruik God die virus om die norm waaraan ons almal gewoond geraak het te skud, omdat dit wat die wêreld vir ons voorhou as belangrik, ver verwyderd is van wat Hy vir ons in gedagte gehad het. In ’n groentetuin gaan die tyd stadig verby en mense het tyd om te dink. Maar as jy nie jou hande daagliks in die grond hou nie, gaan die onkruid oorneem. Ons gaan dus hier voort met ’n eenvoudige, kinderlike geloof in die God wat alles geskape het se vermoë om ons dag vir dag te lei, en te voorsien van dit wat nodig gaan wees om hierdie struikelblok ook te oorkom, sodat sy Naam verheerlik sal word deur alles wat ons elke dag doen.

Groete uit Phuket!
Roelien Muller - direkteur Asia Center Foundation 

Vandag sit ek na baie jare, en met ’n baie dankbare hart in ’n eie woonplek hierdie artikel en skryf. Na jare se woon in ’n kamer in ons kantoor, het ons in 2019 na ons eie permanente fasilteit getrek en moes ek natuurlik ook ’n ander blyplek vind omdat ons die gehuurde kantoor opgegee het. Hiervoor ’n spesiale dankie aan Helderberg Gemeente vir die ondersteuning wat dit mootlik maak vir my om voort te kan gaan met die werk wat ACF in die minderbevoorregte gemeenskap op Phuket doen.

Projekleier is Elsa Rinquest

Top