Nagmaal met ‘n verskil – 19 Julie 2020
Jesus het gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis. Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”

Van vroegoggend is daar geskarrel by die kerk, diensbare harte en hande, om alles gereed te kry vir die bediening van die nagmaal sakrament. Gemeentelede kom vroeg reeds ingery … “ons mis die kerk, mis die geselsies en saamkuier, ons verlang na kerkhou en kerkwees". Die getroues daag op, gesinne saam in motors en nie-kerkgangers, almal met dieselfde doel om kerk toe te gaan.

Terwyl lidmate in hul motors sit word hulle bedien met die nagmaal, aanbiddingsmusiek en gebed. Trane vloei van dankbaarheid, geluk en ook hartseer. Heilige momente in God se teenwoordigheid, saam lag, stilword en ook sommer net lekker saamkuier. Verbygangers op hul oggendstappie word ingehardloop en word ook met nagmaal bedien. Nadat ‘n ouer lidmaat met nagmaal bedien is, noem sy aan die dominee dat dit die hoogtepunt van haar lewe was. Alhoewel die kerkgebou se deure gesluit mag wees, het die kerk-sonder-mure soveel groter geword. Dit is mos kerk-wees.>>

 

Ook ‘n spesiale dankie-sê van Yolande O’Kennedy van die Dienssentrum vir elke bydra wat gegee is: “Dit is so groot voorreg om in hierdie gemeente te wees en te sien hoe mense hande vat in hierdie tyd van nood om Jesus se hande en hart op aarde te wees. Baie dankie ook vir die luukse items wat ingepak word, dit is die bederf van God aan ‘n spesifieke persoon wat dit moes kry. “

Agter die skerms het die kantoorpersoneel heerlik saamgewerk om dié geleentheid moontlik te maak. Ons leraars, Levi’s (te veel om te noem), klankspan, Stephan Geldenhuys en Erick Joosten, aanbiddingsgroepe, Yolanda en Jan Botha en Antoinette Erasmus, Keith Klose en Leonie Roux het hierdie geleentheid vir elkeen wat die dag ingery het baie spesiaal gemaak. Ons glo hierdie was die eerste van vele meer geleenthede by die kerk.

Meer fotos van die buitelug nagmaal kan hier gesien word: https://janib.smugmug.com/Other/NG-Kerk-Nagmaal-2020/. Op die gemeente se Facebookblad is ook nog foto's.

Top