COVID-19. Hoe het hierdie siekte nie ons lewe omvergewerp nie…  

Tot Maart was die voortdurende droogte die ramp wat voorop in ons gedagtes was. Maar Helderberg Uitreik-rampverligtingfonds se fokus het in die afgelope twee maande baie vinnig en baie intens na die uitwerking van die heersende inperking op mense se lewe verskuif.

COVID-19 bied baie uitdagings, maar ook wonderlike geleenthede om as gemeenskap saam te staan en nie net die kwesbares en weerloses te beskerm nie, maar ook die hand uit te steek na diegene wie se ekonomiese bestaan bedreig word.

’n Spesiale COVID-19-rampverligtingfonds en -komitee is in Maart op die been gebring, en vandat die inperking begin het, het die fonds al meer R225 000 uitbetaal aan individue, klein besighede, organisasies, sopkombuise en vennote wat kospakkies verskaf. Die fonds is gemik op bewese Covid-19-nood en fokus op verlies aan inkomste en die behoefte aan basiese middele soos kos, elektrisiteit en data (veral mense met skoolgaande kinders).>>

Enigiemand wat in die Helderbergkom woon, kan aansoek doen. Volg hierdie skakel om aansoek te doen: https://forms.gle/MdXWoEdxpAkHozC49. Navrae en aansoeke: Chris Eagar Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

Die beskikbaarheid van hulpverlening is afhanklik van die verkryging van bydraes uit die gemeenskap en is beperk tot beskikbare fondse ingewin vir hierdie doel. Daar word dus deurlopend ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hul hand uit te steek na mense in nood.

Die COVID-19-rampverligtingfonds bied ook van 25-31 Mei “Stap ’n myl”, ’n virtuele liefdadigheidspretdraf/-stap, aan om geld in te samel. ’n Borg het aangebied om elke ingesamelde rand tot en met R50 000 te ewenaar. Skryf hier in: https://forms.gle/eQ1QiJgfpc953v448

Ons het egter nie die gemeenskappe wat deur die droogte geteister word, vergeet nie.

Die rampverligtingprojek kon, te danke aan wonderlike bydraes uit die gemeenskap, in Desember die agterstallige kosrekeninge van agt boere in die Noord-Kaap by hul plaaslike winkel betaal, en voorskotte inbetaal op 19 rekeninge van boere wat swaarkry weens droogte. Die plaaslike tehuis vir bejaardes is ook ondersteun.
In 2020 het die projek 60 pakkies met kos en basiese toiletware na Merweville geneem en die agterstallige koshuisgelde van ses leerders van Hoërskool Vredendal betaal.

Mees onlangs, het die projek die Johenco Tehuis vir Bejaardes op Sutherland ondersteun. Hierdie tehuis is tans die tuiste van 50 inwoners, waarvan 28 erg verswak is. Die Beheerraad en Bestuur se doelstelling is om vir die inwoners bekostigbare verblyf, goeie versorging, menswaardige behandeling en goeie mediese sorg daar te stel, maar die tehuis sukkel finansieel. As gevolg van die droogte kan die inwoners nie bekostig om meer te betaal nie, want hul kinders, wat verantwoordelik is vir die losies, steier onder die uitmergelende droogte.

Helderberg Uitreik se Rampverligtingfonds het in April ’n bydrae gemaak tot die tehuis se kosrekening by die plaaslike winkel, en te danke aan ’n wonderlike skenking sal ons vir drie maande elke maand R10000 aan die tehuis kan bewillig.

Ons het ook inbetalings gemaak op boere in die omgewing se rekeninge by die plaaslike winkel, om só ’n bietjie verligting te bring.

Bydraes vir die COVID-19-fonds en droogtehulp kan gemaak word aan Helderberg Uitreik, ABSA Helderberg, reknr. 9114 483 080, takkode 632005, met die verwysing RAMP en jou naam. Jy kan ook spesifiseer COVID of DROOGTE, as jy wil. E-pos die bewys van betaling na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. as jy ’n Art 18A-sertifikaat vir belastingverligting wil hê.

Pia Nänny
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Top