Geloof is bedoel vir tye soos hierdie
(Sondag 22 Maart se tema)
Die wêreld kyk die Covid 19-virus in die oë en alles is deurmekaar, ontwrig en onseker. In hierdie onseker tye wil ons jou graag herinner aan die vastigheid wat daar lê in ons geloof in die Almagtige God. Geloof is “bedoel” vir onseker tye soos hierdie. Belangrik om te weet: Genoeg geloof gaan nie waarborg dat jy gesond bly nie, en te min geloof gaan jou ook nie laat siek word nie. Geloof is om met vrymoedigheid die onseker toekoms in te gaan, met groot verantwoordelikheid op te tree, en om met dankbaarheid te weet dat God elke tree van die pad met ons is (vgl. Matt 8:26; Mark 9:24; Hebr 11:1).

Verantwoordelike optrede is om die erns van die situasie te erken en onder andere maatreëls te tref wat sosiale en fisiese kontak tussen mense beperk. Ons het een kans om met nugtere pro-aktiewe optrede die verspreiding van die virus te verlangsaam. Daarom behoort ons nie die minimum vereistes van die regering na te streef nie, maar die maksimum te doen en die ekstra myl te loop. As dit met verantwoordelikheid gedoen word, kan die situasie omgedraai word. Dit vra van ons almal om, so vinnig as moontlik en so beslis as moontlik, maatreëls te tref wat sosiale en fisiese kontak tussen mense beperk. Die aard van die virus is uniek. Daarom vra dit ook van ons deernis en buitengewoon verantwoordelike optrede. Anders as onder normale omstandighede beteken deernis in hierdie konteks om sosiale en fisiese kontak sover as moontlik te beperk.

Hoe raak dit ons prakties?>>

Eredienste en ander byeenkomste
Ons gaan nie voortgaan met die normale eredienste by die kerkgebou nie, maar lidmate aanmoedig om op ’n nuwe manier erediens te hou by hulle huise (tot 14 April). Elke Sondag sal ’n YouTube erediens beskikbaar wees op die gemeente se webblad en ons wil lidmate aanmoedig om dit vir huiskerk te gebruik. Ons is opgewonde oor wat dit vir ons almal kan beteken. Daar gaan geen gereelde byeenkomste by die kerk gehou word nie. As jy enige vrae hieroor het, kan jy die kerkkantoor (021-851 5582) skakel (bv. oor begrafnisse).

Kerkkantoor
Die kerkkantoor sal gesluit wees tot verder kennisgewing, maar kan steeds soggens geskakel word (021-851 5582) en sal Vrydae-oggende (08:00 - 11:00) oop wees vir noodsaaklike sake. Die Dienssentrum bly oop om ‘n belangrike diens in hierdie tyd te bly lewer.

Beskikbaarheid van predikante
Die leraars is steeds beskikbaar. Kontak gerus die leraarnoodnommer (083 988 2003) of enige van die leraars. Ons wil graag in hierdie onseker tyd lidmate pastoraal bystaan.

Maak ’n verskil in die gemeenskap
In hierdie krisistyd is dit ’n ideale geleentheid vir ons as gemeente om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Dink saam met ons hoe jy in hierdie tyd ander kan bystaan? Maak voorstelle op ons Facebook bladsy of reageer op hierdie e-pos.

Fondse
In hierdie tyd is daar finansiële druk op almal, ook op die gemeente wat sonder sy gewone bankkollektes moet klaarkom. Ons moedig lidmate aan om steeds hulle bydraes elektronies in te betaal.

Bybelstudie
Daar is nie eerskomende Donderdag (19 Mrt) ’n leiersklas vir die Bybelstudie nie. Die uitdeelstukke is op die webblad beskikbaar, kliek hier.

Ons bid vir die volgende sake:
• Vir almal wat fisies, emosioneel en finansieel swaarkry weens die virus.
• Vir owerhede en mediese personeel.
• Vir kalmte en rustigheid.
• Vir wysheid om kerk te wees in krisis omstandighede.

Beradingsentrum
Die Beradingsentrum het 'n Facebook blad geskep waar ons mense wil ondersteun in die tyd wat voorlê. Ons gaan daagliks inligting deel oor self-sorg, asook idees oor hoe om jouself besig te hou tydens sosiale-isolasie. Ons is ook beskikbaar vir aanlyn en telefoniese berading. Versprei asb die woord sodat ons by almal kan uitkom wat emosionele ondersteuning gaan benodig in hierdie tyd.
Kontak ons by: 079 417 3863 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Facebookblad: https://www.facebook.com/Helderberg-Beradingsentrum-111281073832240/

Vir enige meer inligting oor wat gebeur in die groter kerkverband laai gerus die Kerkbode se toepassing (app) af of besoek hulle webblad deur op die skakel te kliek.

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Hebreërs 11:1

Indien jy nie die e-nuusbrief kry nie, stuur jou naam, van en e-posadres aan: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

 

Top