Marizanne Pfeil word hierdie Sondag bevestig by Hoop Geloofsgemeenskap en ons het haar 'n paar vrae gevra:

Hoekom het jy besluit op Hoop Geloofsgemeenskap? Wat het jou laat dink dis die plek vir jou?
Toe ek vir die eerste keer by Hoop Geloofsgemeenskap kom en sien hoe die mense om tafels gesels, lag en deelneem was ek dadelik aangetrokke tot hierdie alternatiewe manier van bymekaar kom as kerk. Ek glo dat in die mense van Hoop Geloofsgemeenskap lê daar die potensiaal om deur sulke aktiewe deelname by mekaar te leer en verhoudings te vestig en te bou waardeur die geloofsgemeenskap waarlik ‘n baken van hoop word daar waar hulle leef. Ek was net te nuuskierig en opgewonde oor hoe God in en deur hierdie gemeenskap leef om nie deel te raak van hulle nie.

Hoekom wou jy vir predikant gaan swot?
Ek wou eintlik ‘n sendeling word en het besluit om teologie te studeer sodat ek meer toegerus in die sendingveld kan ingaan, maar niks gebeur toevallig nie en hoe meer ek betrokke geraak het by gemeentes in my studentejare, hoe meer het ek besef om in ‘n gemeente betrokke te wees is my passie. Ek het in ‘n artikel gelees dat sendingveld nie ‘n plek daar vêr weg is oor lands-grense is nie, maar dat sendingveld elke gemeente is en elke persoon wie jy tegemoet kom, en voor die einde van my eerstejaar het ek besluit dat ek ‘n predikant wil word en my passie vir bediening wil uitleef in ‘n gemeente.>>

Wat beteken die Here vir jou? Hoekom het jy ‘n persoonlike verhouding met die Here?
Ten spyte van al die chaos in die wêreld, het God besluit om steeds aarde toe te kom, om steeds lief te wees vir elkeen van ons, ongeag wie ons is. God het vir elkeen wat gebroke, alleen en sondig is, aarde toe gekom om by ons te wees. Ek het ‘n persoonlike verhouding met God, omdat God vir my, wat self gebroke en sondig is, gekom het; in my kom leef het en daarom ook deur my kom leef vir ander mense. Dit is net deur my verhouding met God wat ek kan leer hoe om liefde en genade uit te leef na ander mense toe.

Wat doen jy as jy nie Marizanne die dominee is nie?
Afhangende van die seisoene draf ek graag, deesdae hou ek meer van die Parkrun afstande sodat dit vinniger verby is! Verder is my gunsteling stokperdjie om te veel vetplante te koop en in mooi potte te plant (en dan plek te soek vir hulle almal). Ek hou ook van nuwe kreatiewe giere uittoets, so huidiglik probeer ek leer hoe om te mosaïek, alhoewel dit nie aldag suksesvol is nie!

Die diens by Hoop Geloofsgemeenskap begin om 09:00 en almal is welkom.

Top