Ons Dienssentrum is in die bevoorregte posisie om voedsel te voorsien aan gesinne in nood in ons eie gemeente, sowel as Moedergemeente Somerset-Wes. Bo en behalwe die kospakkies wat ons vir die gesinne pak, word daar ook klere en huisraad voorsien aan die gesinne en projekte.

Aangesien ons nie self die geriewe het om voedsel voor te berei nie, is ons afhanklik van donateurs. Ons bedien ook ‘n hele klompie projekte in die gemeenskap, MAAR om te kan gee, moet jy ook ‘n bron hê wat verskaf, want ons gee weekliks vir meer as 2 000 mense kos.

Western Cape Lubricants is die wonderlike mense wat ons bakkie vir ons borg wat sewe dae ‘n week ry om kos op te tel by verskeie donateurs soos byvoorbeeld Pick ‘n Pay en Woolworths Waterstone, Romans Pizza Strand en Somerset-Wes en SPAR Heldervue en Helderbosch. Deli Fresh en King Pie is ook van ons groot borge wat voedsel betref. Baie dankie aan hierdie instansies, sonder julle oop harte en hande sou ons nie so ‘n groot verskil kon maak in soveel mense se lewens nie.>>

Ons het ‘n groot instap koelkamer waarin die kosse gebêre word totdat dit verdeel word tussen die verskeie projekte en gesinne. Ons wil ook elke vrywilliger wat kom help om die kosse te verpak bedank, hierdie mense doen dit sonder vergoeding, dit is wat die Here op hulle harte lê. Baie dankie aan elke bestuurder van die bakkie wat soms op ongeleë tye gekontak word om kos af te haal, ook naweke en na ure. Ons waardeer julle hulp opreg.

Baie dankie aan elke finansiële ondersteuner wat gereeld vir die Dienssentrum bydra om nie-bederfbare produkte aan te koop. Ook elke lidmaat wat klere, kos, huisvoorraad vir ons gee.

Indien daar enige verdere navrae is, kontak gerus vir Yolandé Kennedy by 021-851 5582.

 

Top