listen listen love love
‘n Jaarlange reis met Kairos Torch vind plaas in Drakenstein Jeug Fasiliteit. Opleiding, ‘n naweek in die tronk en elke tweede week se mentorsessie is gelyk aan ongekende genade en wonderwerke. My Kairos reis het afgeskop met ‘n bywoning van ‘n reünie binne Drakenstein Gevangenis.

Wat ek daardie dag gevind het, was onverwags en lewensveranderend. Om dit ‘n tuiskoms te noem sou vreeslik dramaties klink, tog was dit presies dit. ‘n Verskuiwing in my aardse blik na dit wat ons as veragtelik beskou en as monsters aanspreek. Al wat ek kon sien, al waarvan ek so diep en onuitspreeklik bewus was, is dat dit my seun kon wees, my broer. Die kurwe van die kakebeen, die holte van die wang, die sterk voorkop, die kwesbaarheid van die blik, die kind binne die lyf van ‘n man wat nog nie ‘n man is nie.

Die desperaatheid en onsekerheid, die toemaak en die seer, die vertroue wat soveel keer geskend is, die liefde wat nooit ontvang is nie. En dan, wanneer die stories begin deurskemer, die besef dat daar eintlik nooit kanse gegee was of voorbeelde gestel is of liefde en koestering ontvang is nie.>>

Ek staan dan voor die besef dat mens se lewe soos jy dit ken, net genade is, want iewers was daardie kind so diep seergemaak, is daardie kind so diep geskend deur ‘n individu, ‘n gemeenskap, ‘n samelewing, dat hy geen kans gestaan het om sy weg in die lewe op ‘n positiewe koers te plaas nie. Daar was geen rigting aanwysing, geen hand wat gestuur het of vasgehou het nie.

Ek weet dat ek hier moet wees, tussen vier mure met tralies en min lig, dat ek liefde moet gee sonder voorbehoud, dat ek moet luister, want dit kon my kind gewees het. Aanvaarding gesoek op die verkeerde plek, verkeerde tyd, verkeerde mense, ‘n lewe verwoes en die gevolg is twee lewensvonnisse. My persoonlike Christus uitdaging is om onvoorwaardelik aanwesig te wees binne die donkerste donker. Geloof te vestig, hoop te bring en onvoorwaardelik lief te hê.

Indien jy enigsins geroep word deur wat ek met jou deel, skakel my gerus.
Beatrix Pickard-Cambridge 078 141 2777 of Deon van Zyl 082 903 9781

 

Top