Eksodus 1:1-2, 10
Ons gaan hierdie kwartaal deur die boek Eksodus blaai. Die groot vraag agter die hele verhaal is, “Vir wie gaan Israel dien – God of die Farao?” God is die hele tyd aan die werk om sy kinders vry te maak nadat die Farao hulle slawe gemaak het.

Dikwels (soos Sondag se teks) werk Hy onsigbaar, agter die skerms. Ander kere kan jy sien en hoor dat Hy aan die werk is. Maar God kan net sy kinders vrymaak as hulle Hom dien. En as ek God dien, maak dit nie saak hoeveel mag of vermoëns ek het nie; God kan my gebruik.>>

Ons sien dit duidelik in die verhaal in Eksodus 1. Sifra en Pua is twee onbelangrike vroedvroue – die kraamsusters van daardie tyd. Die Farao is ’n magtige man, wat vir hulle beveel om die Hebreeuse seuntjies na geboorte dood te maak omdat hulle ’n bedreiging vir hom raak. Sifra en Pua is egter mense wat kies om vir God te dien, en daarom gehoorsaam hulle nie die Farao nie.

So word die volk gered en so word Moses gered, wat op die ou end die volk uit Egipte lei na vryheid. Die ironie is: Hulle name word in die geskiedenis opgeteken, terwyl ons nie eens weet watter van die Egiptiese Faraos dit is van wie hier gepraat word nie. Hulle tel en die Farao… nie juis nie!

So is dit met elke mens wat God dien.

Top