Pinkster en pannekoek het deur die jare in Helderberg gemeente al sinoniem geword. As ‘n mens darem op ‘n koue wintersaand die Tent inkom en jy kry die reuk van lekker warm pannekoek met kaneelsuiker, dan water jou mond nog voordat die dominee aan die woord kom. En vanjaar was dit nie anders nie.

Danksy die oorvloedige bydraes deur ons donateurs kon ons sonder ekstra uitgawes genoeg pannekoeke bak. Baie dankie. Maar nou val alles mos nie uit die lug nie. Baie dankie aan Odette vir die organisering van alles en haar en haar helpers vir die harde werk met bak en verkoop.>>

‘Om winkelhake in die reënboog weer te herstel’
Die verhaal van Nkosikho Mbele het die sosiale media op Hemelvaartdag soos ‘n donderslag getref. Die gebeure is seker in almal se geheue ingegraveer. Jy onthou mos die petroljoggie wat op die N2 nie ver van ons af nie, vroeg in die môre voor die druk verkeer in stad toe die dame wat kom brandstof ingooi het en ontdek het dat sy die genoeg geld by haar gehad het nie? En toe uit sy eie sak vir die brandstof betaal het. En niks gesê het van terugbetaling of adres of telefoonnommer nie. En onthou jy hoekom hy dit gedoen het? Omdat dit te gevaarlik was vir ‘n dame om daardie tyd van die dag alleen op die N2 te wees.

Maar weet julle wat my getref het: Sy eie woorde: “ I am a believer!” Nie allerhande mooi teologiese verduidelikings nie. Nee, net: Ek glo. Vanweë sy verbintenis met sy Verlosser, kan hy nie anders nie. En die winkelhake? Treffender kon ek dit nie sê as Nolan Venter in Van Alle Kante nie( Die Burger, 6 Junie 2019). “Dit is sulke dade wat die winkelhake in ons land se reënboog weer aanmekaar kan stik.”

Dit is toe dat ek dink aan wat die Versorgingsfonds in ons gemeente doen. Sonder dat dit aan die groot klok gehang word, word winkelhake in ons gemeente herstel.
En toe begin die Pinksterdienste.....en die Tema: Ek is Jesus se dissipel want... En hoe is elkeen wat die dienste bygewoon het, aangeraak om weer bewus te word van ons roeping, nl as ek sê ek is ‘n Christen, dan sê ek ook ek is ‘n volgeling van Jesus.

Joh. 15:9,10: “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in moet My liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in Sy liefde bly.”

Christo Albertyn

 

Top