Ons vier hierdie jaar KidsXpress se 15de bestaansjaar. Om hierdie mylpaal te herdenk het ons besluit om ’n CD vry te stel met ‘n versameling kinderliedjies wat oor die jare oorspronklik geskryf en opgeneem is as temaliedjies vir KidsXpress-publikasies.

KidsXpress is nie ‘n one man show nie. Terwyl ons met die saamstel van die CD besig was, het ons net weer opnuut bewus geraak van hoeveel mense deur die jare by KidsXpress betrokke was deur hul gawes in diens van die Here uit te leef. Ons kom onder die indruk van hoe belangrik die liggaam van Christus is, elkeen met sy of haar unieke gawes.

Annalise Wiid het vier van die liedjies op die CD geskryf en die CD is ook ter nagedagtenis aan haar opgedra. André en Elmarie Buÿs was deur die jare steunpilare met Elmarie wat die kinderstemme vir die meeste van die liedjies afgerig het. André begin sommer al stem opwarm wanneer hy sien dat hy ’n oproep van KidsXpress af kry en hul jongste seun, Stephano, vandag ‘n jongman van 21 jaar, het sedert hy ‘n klein tjokkertjie was al agter die mikrofoon ingeskuif vir KidsXpress opnames.>>

Deur die jare was daar talle ander Helderberglidmate en gemeentekinders o.a. die Van Geest kinders, wat vir KidsXpress gesing het. Lizl Botha het al die back tracks vir die liedjies op die klawerbord gespeel. Paul Bailey, lidmaat by Somerset-Wes Baptiste kerk, het as klankingenieur sy tyd en kundigheid gegee. KidsXpress se mees onlangse publikasie, Ahooi!, se temalied is deur Antoinette Erasmus van die Kinderevangelisasie-projek geskryf en natuurlik gesing deur niemand anders nie as André Buÿs, met Antoinette se kinders wat saamgesing het. Die lied verskyn ook op die CD.

Die CD getiteld, Roep Jesus aan, is ’n heerlike versameling saamsing-liedjies wat ouers en kinders sal geniet. Die CD is beskikbaar teen R80 KidsXpress en sal ook by die kerkkantoor beskikbaar wees. Vier asseblief ons verjaarsdag saam met ons deur die CD aan te koop. Dit is ook die ideale geskenk vir kinders of kleinkinders. Inkomste uit die verkope sal ons ook in staat stel om aan nuwe publikasies te werk.

Die feit dat mense na 15 jaar steeds KidsXpress se materiaal in gemeentes, bedieninge en skole regoor Suid-Afrika gebruik laat ons in verwondering dat die Here ons toelaat om op hierdie wyse in sy diens te kan staan.

Projekleier: Burgert le Roux
 

 

 

 

Top