In Jeremia 1:5 sê die Here: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken; voordat jy gebore is, het ek jou aan My gewy..." Die woorde aan Jeremia is natuurlik woorde wat oor/vir ons almal geskryf en bedoel is. My identiteit begin nie wanneer ek myself verstaan nie. Daar is iets van dít wat ek dink oor myself voorafgaan, en dit is wat God van my dink. Van daar af reageer ek eintlik net.

Ongelukkig vergeet ons so baie dat God die een is wat heel eerste inisiatief geneem het, dat Hy die Skepper is wat jou na sy beeld (ja, na SY beeld!!) geskep het en jou sy "geliefde" noem (Luk 3:22). Ons loop onsself oor en oor vas in die alewige leuens wat die samelewing na ons kant toe gooi. En dan... voor ons onsself kan kry, sit ons wéér in die woestyn en veg ons wéér vir 'n plek in die samelewing.

God het gelukkig meer genade met ons as wat ons met onsself het. Dis nie altyd maklik om dit werklik te glo nie, want genade laat ons, ironies genoeg, somtyds baie ongemaklik voel. Genade laat ons somtyds selfs skuldig voel, want ons kan nie verstaan hoe ons só maklik 'n ereplek ("geliefde van God") kan kry nie. God gee oor en oor die belofte dat maak nie saak hoe minderwaardig jy voel nie, Hy eis jou al vir Homself nog vóór jou geboorte en Hy sing van vreugde oor jou.