Eensaamheid: Genesis 2:18-25
In Genesis 2:18 sê die Here “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” Dit is die eerste keer dat God sê iets is nie goed nie. In Genesis 1 dink God oor en oor, “Dit is goed!” Ons weet almal dat eensaamheid nie goed is nie. God het ons geskep as verhoudingswesens. Daarom is eensaamheid so vernietigend. Dit is een van die pynlikste ervarings wat ons kan deurmaak en lei dikwels tot erge depressie.

Daarom tree God in om Adam se eensaamheid uit te wis. Maar Adam is nog nie reg vir Eva nie. Voor Hy Eva skep, maak hy eers vir Adam gereed om oop te kan wees vir ‘n verhouding deur die diere na hom te bring om vir hulle gepaste name te gee. Let wel: Hy moet hulle nie bloot tel nie; hy moet name gee. Dit kan jy eers doen as jy iets fyn bestudeer het en oopgemaak het daarvoor. Jy kan goed tel van ’n afstand, maar dit is nie goed genoeg nie. Eers dan skep God vir hom iemand soos hyself – iemand wat by hom pas op ‘n besondere manier.

Ons word dikwels vasgekeer in ons eensaamheid omdat ons nog nie kan oopmaak vir die wêreld om ons nie. Ons raak so besig met onsself en ons eensaamheid dat ons desperaat raak en nie leer om te kan fokus op ander mense en dinge buite onsself nie.

Top