Klassieke Klanke
Canticum Novum, ‘n a capella Christelike koor gesetel in Stellenbosch, is die eerste koor om 'n volledige konsertprogram vir die Klassieke Klanke-konsertreeks te doen.

Klassieke Klanke, in 2015 van stapel gestuur, se primêre doel is om fondse in te samel ter aanmoediging van plaaslike musikale talent, om 'n uitvoeringsplatform vir musikante te skep en om klassieke musiek te bevorder. Sedert die konsertreeks se aanvang is meer as 9 gratis konserte aangebied en meer as R50 000 vir hierdie visie geskenk.

Canticum Novum, die kerkkoor van die Moederkerk in Stellenbosch, is 'n konsertkoor met 'n passie vir uitreik. Daarom die naam en leuse: Cantate Domino Canticum Novum - Sing vir die Here 'n nuwe lied. Dit is een van die oudste kerkkore in Suid-Afrika en hulle vier hulle 60’ste bestaansjaar met 'n groot koor- en orkeskonsert wat in die Endlersaal, Stellenbosch, aangebied gaan word. Repertoire sluit werke en genres in wat oor eeue strek: van Renaissance-motette, Ierse psalms en meditatiewe Taizé-liedere tot tradisionele Afrika-liedere.

Die koorkonsert vind plaas by die Helderberg Gemeente en begin om 15:00 op Sondag 5 Mei. Toegang is gratis en donasies welkom. Verversings sal voor en na afloop van die konsert in die Tent verkoop word. Geen bespreking is nodig nie. Vir verdere inligting en ander konsertdatums, kontak die Musiekdirekteur: Yolanda Botha op Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of besoek ons Facebook-bladsy: Klassieke Klanke.

Donasies van hierdie konsert sal gaan na Canticum Novum se uitreikpogings en sal help om hul toer aan die Suid-Kaap te befonds.

Top