Kom proe en sien...
Ek hou nie baie van kosmaak nie, maar ek is mal oor smaaklike kos. Wanneer ek dan iets eet wat lekker proe, wil ek baie graag dat ander mense dit ook proe en saam met my geniet.
Soveel te meer is dit met die liefde en verlossing wat Jesus Christus vir ons gee. Ons kry dit gratis! Wanneer ons dit beleef in ons eie lewens – die vryheid, die vreugde, genade, liefde en soveel meer – kan ons nie anders as om dit met ander te deel wat dit nog nie vir hulleself geproe het nie.
Hoe weet ek iets proe lekker? Iemand kan vir ure lank aan my verduidelik hoe lekker iets proe, maar dis eers wanneer ek dit self geproe het dat ek uit ervaring kan vertel wat dit vir my beteken. Dan dra dit soveel meer gewig wanneer ek iemand anders nooi om ook te kom proe en vir hulleself te besluit.
Helderberg Uitreik is een van die voertuie waarmee ons die goeie nuus van Jesus Christus en die verlossing wat Hy vir almal gebring het, kan deel met mense wat smag na hoop wat nie vergaan wanneer die weer of die ekonomie verander nie.
Kom kyk en proe dat die Here goed is (Psalm 34 vers 8 in die New International Version vertaling). Wanneer ons proe dat die Here goed is, kan ons nie anders as om Hom met ander te deel dat hulle vir hulself kan ontdek en ervaar dat Hy God is en goed is nie.
Besoek gerus ons webblad om meer te sien van ons projekte en waar jy betrokke kan raak.

Kerkraadskamp
Verlede naweek het die kerkraad saam gaan kamp by Disakloof. Nee, moenie opgewonde raak nie, dit is nie luuks nie. Meeste van ons het met rugpyn opgestaan van die bedjies wat ek dink eintlik vir kinders en tieners bedoel is.
Vrydagaand se sessie het gegaan oor leef eerlik. Dit is week 3 van die 7 weke-boekie. My persoonlike ondervinding was dat kerkraadslede baie eerlik was oor hul angs in hul lewe. Dit is maar weer die waarheid van: jy weet nie wat in ander se lewe aan die gang is nie. Sommiges was regtig braaf om oop te maak en dit het die ander ook gehelp om eerlik oor hulle angs te wees met mekaar. ‘n Baie besonderse aand.
Saterdagoggend was in Harold Porter Nasionale Botanies Tuin. Tussen die bome en sommer om die gras het dit gegaan oor lewe vanuit die bron (week 2). Die middag by die kamp was dit om geleenthede raak te sien. Daar was ook uitdagings gestel aan die
kerkraadslede om eerlik te wees oor hulle rol as kerkraad en wat elkeen persoonlik gaan doen.
Ek het die kerkraadslede wat by die kamp was baie beter leer ken en kan opreg sê dat hierdie mense ‘n passie vir God en ‘n hart vir mense en ‘n wêreld in nood het. Jy kan regtig trots wees op die groep mense en weet die Here is besig in elkeen se lewe en hulle wil doelgerig die pad loop wat Hy vir ons as gemeente wil hê. Iemand het na die tyd gesê dit voel asof die kerkraad regtig 'n familie word.
Baie dankie aan elkeen wat daar was, vir elke skenking, vir die wat kos geskenk het, kos gemaak het, wat skoongemaak het en regtig mekaar aanvaar soos hulle is.
Hou asseblief die kerkraad en hul gesinne in jou gebede.
Lize

Week 10-16 Februarie
Ons onderbreek hierdie week die 7 weke program met ’n addisionele tema en spesiale fokus op die Uitreikfees eerskomende Sondag. Die tema is:
Ambassadeurs van Hoop – kom proe en sien.
Hier is die materiaal vir persoonlike voorbereiding en vir
groepgesprekke hierdie week 10 – 16 Februarie 2025.
Helderberg Uitreik se projekte stal Sondag 16 Februarie in die Tent uit en jy word uitgenooi om te kom kyk hoe die Here mense inspireer om betrokke te raak. Dalk praat die Here ook met jou.
Kliek hier vir die dokument.
Leef eerlik met jou angs
Ons is besig met ons 7 weke as Entrepreneurs van Hoop. As ons dink aan hoop, dan fokus ons daarop dat dit ‘n vaste oortuiging is van nader aan God beweeg, nader aan ‘n plek waar ek my menswees ten volle kan uitleef soos God dit bedoel het. Ons wil dink en praat oor die mooi die geleenthede en die vreugdes. Dit word dan baie keer eerder “wense” as hoop. Ek wens dat alles goed gaan terwyl hoop meer is as net goed gaan. Hoop is gewortel in die werklikheid en omdat ek die werklikheid om my erken en weet ek glo in God wat getrou is, het ek ‘n anker in die toekoms wat maak dat
ek nie opgee nie. Hierdie week staan ons stil by die tema “Leef eerlik met hulle angs”. Ons gaan saam lees uit Lukas 22:39-54 en dink oor hoe hanteer ons ons angs, dat ons angs nie ons hoop steel of doodmaak nie. Ons gaan kyk hoe Jesus self Sy angs hanteer het. Ons gaan die diens afsluit deur saam nagmaal te gebruik en die geleentheid hê om te luister na mense se getuienis oor hoe hulle dit in hulle eie lewens hanteer het. Sien uit om jou Sondag te sien.
Groete
Paul Barnard


Tienerkamp
Jugi Barnard vertel oor die tienerkamp die volgende: Ons jeug bring hoop vir die toekoms. Wat ‘n ongelooflike ervaring. Ons tema vir hierdie jaar was identiteit in Christus. Dit was belangrik om te verstaan wat hierdie ‘identiteit in Christus’ beteken en wat dit behels vir ons as gelowiges. Na die bespreking van identiteit en wat ons dink het ons gekyk na wat die Bybel sê en wie God sê ons is. Die Vrydagaand het ons die uitdagings as graadgroep neergeskryf wat ons keer om op tye nie ons identiteit in Christus ten volle uit te leef nie. Die ding wat vir my die meeste uitstaan is die manier waarop tieners net met bietjie begeleiding self verantwoordelikheid neem oor hierdie soort uitdagings. Lees ook van die getuienisse op die gemeente se Facebookblad.
truth2kids
www.truth2kids.org
Dear Tannie, thank you for teaching us Bible. At first I did not believe in Jesus but now I love Him. I love the Bible class, you taught me a lot, thank you for your love. Hoe kosbaar is dit om sulke briefies te ontvang van die kinders waarmee ons werk, en hoe wonderlik om te sien hoe ‘n paar van hulle spontaan op hulle witbordjies skryf: “I believe in Jesus”.
Ons gebed is dat elkeen van die meer as 1 900 kinders wat ons tans in 43 weeklikse Bybelklubs in skole, kleuterskole en in die gemeenskap bereik, vir Jesus sal volg. Romeine 10:9 sê: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal jy gered word.” Dit is so belangrik dat elke kind hierdie sekerheid in hul harte moet hê waar die omstandighede rondom hulle soms baie deurmekaar kan wees – maar meer mense word benodig om die boodskap te bring.
Wil jy graag betrokke raak?
Ons benodig persone wat kan help by ons Bybelklubs. Ons gee die lesmateriaal en ander praktiese idees om te gebruik. Helpers spandeer dan bv omtrent ‘n uur vir voorbereiding en 30 min tot ‘n uur vir aanbieding op verskillende tye in die week soos wat dit kan uitwerk by die verskillende Bybelklubs. Dalk wil jy net eers kom kyk?
Truth2kinds Kamp
Ons beplan ‘n kamp vanaf 14-16 Maart vir gr 4-6 kinders van ons Bybelklubs by Kleinmond.
Hierdie jaar gaan ons die Christen se Wapenrusting as tema behandel, die Jesus-film vir kinders wys, en daar is natuurlik ook tyd vir baie pret, sing en speletjies. Die
kinders is altyd baie opgewonde om die kamp by te woon, aangesien baie van hulle uit baie moeilike omstandighede kom en min geleenthede het.
Ons sal baie dankbaar wees as daar mense is wat kinders kan help borg om op die kamp te gaan deur R200 of enige bedrag by te dra. Houbare melk, koekies, aanmaak koeldrank, vrugte of beskuit sal ook baie waardeer word, merk net asseblief duidelik vir Truth2kids indien dit afgegee word by die kerkkantoor.
Opleidingsgeleenthede
Die eerste Donderdagoggend van elke kwartaal het ons ‘n werkswinkels waar toerusting gegee word oor hoe om die Evangelie op kinders se vlak te bring deur o.a Skrifgetroue Bybellesse, liedjies en ander kreatiewe idees. Ons is ‘n heerlike span en JY is baie welkom om by ons aan te sluit. Daar is ook ander kleingroep opleidingsgeleenthede.
Baie dankie vir die jarelange ondersteuning van die gemeente en individue deur gebed en finansies – ons het geweldig baie waardering daarvoor. Kontak ons gerus as jy meer wil uitvind.
Projekleier: Sus van Niekerk by 076 746 4581 of
Koördineerder: Minette Krog by 083 655 0111 of
Bankbesonderhede:
Helderberg Uitreik
ABSA Somerset-Wes
Rek: 9114 483 080
Takkode: 632005
Verwysing: Truth2Kids

Leef vanuit die Bron
Dit gebeur soms dat ons hoop gaan soek by verkeerde plekke of bronne – by ons eie vermoëns óf by geld óf by ander mense óf by politieke leiers. As ons entrepreneurs van hoop wil wees, moet ons op die regte plek gaan soek. Ons kan ons nie anders as om vanuit die ware Bron, God Drie-enig te leef nie.
Die profeet Esegiël leef in moeilike tye en die Here wys vir hom ’n visioen wat hy nie kan ignoreer nie. Esegiël 47 getuig van hierdie treffende visioen van die Here. Hy
sien water wat vanuit die tempel uitstroom en deur die woestyn vloei tot in die Dooie See. Orals waar die water vloei ontstaan daar heling, nuwe lewe en groei. Het jy ’n behoefte aan lewe en groei? Leef jy vanuit die ware Bron?
Sien jou Sondag tydens die tweede week van ons spesiale reeks “7 Weke as Entrepreneurs van Hoop.”
Kerk se ou asbesdak word vervang
Ons het die afgelope jare groot uitdagings gehad met die lekkende dakke van die kerk. Die vervanging van die kerk se ou asbesdak kan ongelukkig nie langer uitgestel word nie. Ons het alles moontlik gedoen om dit te verhoed. Met groot dankbaarheid kondig ons aan dat die dakprojek in Februarie afskop. Tydens die week van 3 Februarie sal daar begin word met voorbereidings en tydens die week van 10 Februarie sal daar met die vervanging van die kerk se asbesdak begin word. Die Indawo maatskappy het vir ons die versekering gegee dat ons nog veilig elke Sondag eredienste sal kan hou en dat hulle alles in hulle vermoë doen om die perseel te beveilig. Die projek sal ongeveer 12 weke duur en ons
bid dat alles goed sal afloop voor die swaar reëns kom. Ons besef dat daar wel ongerief sal wees en vra elke lidmaat se geduld in hierdie tydperk.
Alpha
Mense vra my waaroor Alpha gaan. Aan die begin het ek gesê kom kyk net vir jouself, want die kursus kan eintlik vir elkeen iets anders beteken. Dit is om mense te help in die ontdekking van en die groei in ‘n lewende verhouding met Jesus Christus. Vir mense wat soekend is, help Alpha jou om die Jesus te vind. Vir mense wat onseker in hul geloof is, help Alpha jou om geloofsgroei en sekerheid te vind. Vir mense wat glo, is Alpha ‘n opbou en verryking van jou verhouding met Jesus Christus. Alpha is nie net die kursus nie, maar ook die groepie mense wat saam met jou die reis deurmaak.
Prakties is dit groepe mense wat een keer per week bymekaar kom, ietsie eet en dan die video’s saam kyk,
saam gesels oor die vrae en saam te ontdek wat die Here jou leer. Jy hoef nie spanning te voel dat jy iets moet doen wat jy nie wil nie, daar word geen druk op jou geplaas nie.
Ons gaan in die tweede kwartaal weer met groepe begin, maar jy kan nou reeds jou naam en nommer vir aanstuur. Die Tienerkerk gaan die kursus ook in die derde kwartaal aanbied vir die tieners.
Indien jy meer wil weet of opgewonde daaroor wil raak, praat gerus Sondag na die dienste met die span fasiliteerders of kontak vir Melanie Smit by
Taizé
Die enigste ekumeniese klooster ter wêreld wat bestaande uit Protestantse, Anglikaanse en Katolieke priesters, vind mens in Frankryk in die dorpie Taizé in Borgondië. Gestig in 1940 deur Broer Roger Schütz.
Gelowiges oor die wêreld heen, veral jong volwassenes, stroom in hulle duisende jaarliks na Taizé. Die eenvoud van die daaglikse ritmes in kos, bybelstudies, gespreksreekse, praktiese werksessies, en drie aanbiddingsgeleenthede per dag is vir baie lewensvernuwend.
Die dieptepunt vir die meeste is egter die aanbiddingsgeleenthede in die kapel waar met ‘n eenvoudige liturgie en liedere (chants) meestal uit die
psalms en ander bekende Skrifgedeeltes God aanbid word. Die eenvoud en die herhaling van die liedere
word helaas die pelgrim se smeekgebed tot God en waar God dan deur die fluisteringe van Sy Gees in die stilte van die ruimte, en die meditatiewe omgaan met Sy Woord antwoord.
Voortaan, op die eerste Sondag van elke maand tydens die Meditatiewe Diens in die Kapel, word die diens ingerig met die basis-liturgie soos gedoen by Taizé. Ons eerste Taizé diens is Sondag 2 Februarie om 08:30 in die Kapel.
‘Jesus, your light is shining within us, let not my doubts and my darkness speak to me. Jesus your light is shining within us – let my heart always welcome your love’ (Broer Roger)
- Theunis Botha
Entrepreneurs van Hoop sien geleenthede
Ons skop hierdie week met groot afwagting ons program van 7 weke as Entrepreneurs van Hoop af. Ek wil jou van harte uitnooi om die sewe weke reis saam met ons aan te pak.
Entrepreneurs word beskryf as mense wat geleenthede raaksien waar ander mense moeilikheid sou sien. Ons dink dit is ‘n manier om ons roeping in hierdie tyd te verstaan. In hierdie sewe weke gaan ons saam dink oor hoe God ons kan gebruik om in die situasies waar ons woon en werk entrepreneurs van hoop te wees.
Hierdie week is ons tema Entrepreneurs van Hoop sien geleenthede. Ons lees uit Jeremia 32 dat hoop glad nie iets passief is nie, maar juis ’n daad van aktiewe gehoorsaamheid aan God se wil is.
As jy nie reeds deel van ‘n groep is nie, vra ‘n paar vriende om die volgende paar weke saam die program te volg. Die boekies is by die kerk of aanlyn (kliek hier) beskikbaar.
Geniet die reis
Danie Möller

Kliek hier en sien wat Onderlinge Sorg bediening alles doen en dalk wil jy ook betrokke raak by die bediening. Kontak vir René by
Wat is ‘n “Entrepreneur van Hoop”?
Die idee van ’n Entrepreneur van Hoop is ’n analogie vir ons roeping as gelowiges in ons dorp, land en wêreld in 2025.
• Entrepreneurs van Hoop word juis wakker wanneer daar moeilikheid is en wanneer optimisme taan. In 2025 gaan ons saam soek na die gapings vir die Koninkryk van God – nuwe skuiwe, nuwe geleenthede.
• Entrepreneurs van Hoop het fyn aanvoeling vir die nood rondom hulle, maar ook ’n helder visie van die oplossing, want hulle is in voeling met die Bron.
• Entrepreneurs van Hoop soek en skep die kanale waardeur nood en oplossing, geleentheid en liefde bymekaar kan uitkom. Dit is die grootste gawe wat Entrepreneurs van Hoop het, naamlik om nie net te sien nie, maar te doen.
• Entrepreneurs van Hoop het die vermetelheid om te bly hoop waar ander al die aftog geblaas het. Hardnekkig vol te hou dat God met ons besig is en dat ons maar net moet probeer agterkom waar en hoe Hy werk en Hom dan daarin moet volg.
Die volledige advertensies van beide poste is beskikbaar onder "Aflaai dokumente", kliek hier.
Vir navrae kontak vir Marisa Viljoen by
Voorgee of Voorberei
Ons is reeds drie weke in ’n splinter nuwe jaar. Die kanse is goed dat as jy nog nie begin het met jou gameplan vir verbetering of fiks word of slimmer word of ryker word of nader aan God groei nie dan is die kanse goed dat jy die 2025 trein weer gaan mis.
“Past behaviour predicts future behaviour.” Navorsing dui aan dat enige vorm van verandering of vernuwing of verbetering van die status quo benodig ’n vorm van intervensie.
So, die rol van ’n gemeente soos Helderberg is juis om ’n stokkie te steek voor jou status quo, om ’n soort intervensie, ’n soort ontwrigting op jou pad te wees wat jou in 2025 in ’n nuwe rigting kan instuur.
Die kerk se plek in jou lewe is om leiding te gee rakende die asemrowende vernuwing wat God in jou lewe wil doen.
Kortom, daar lê vir jou ’n verhouding met die Here en wag in 2025. Een wat diep gaan en vêr strek, ’n verhouding wat grootskaalse vernuwing vir jou inhou sou jy kies om te volg.
Hierdie komende Sondag nooi ons jou uit na ons eredienste. Ons tema hierdie week is, Voorgee of Voorberei. Ons is besig om reg te maak vir ’n wonderlike 7 weke wat vir ons voorlê.
Geseënde week
Deon Els
7 weke as...
Dis ons gewoonte om aan die begin van die jaar die 7 weke reis te neem en daarom begin ons volgende Sondag, 26 Januarie, met hierdie jaar se boekie: 7 weke as Entrepreneurs van HOOP.
Dit sal goed wees as jy in hierdie tyd dit saam met jou omgeegroep, gebedsgroep of enige ander kleingroep doen.
Die boekie is Sondag beskikbaar in die kerk, ook by Ontvangs en dan is dit digitaal beskikbaar.
Enige persoon want op die skakel heel onder kliek, kan gratis registreer vir die toep en as jy dan bo op die Helderberg Gemeente logo kliek, het jy toegang tot die 7 weke materiaal vir volwassenes, asook tieners. Jy kan ook die QR-kode (regs) gebruik om die toep gratis af te laai.
Skakel: https://app.rightnowmedia.org/join/Helderberggemeente
Afsondering en stilte
Ons elke dag se bestaan is gevul met woorde. Henri Nouwen skryf: ’Wherever we go we are surrounded by words: words softly whispered, loudly proclaimed or angrily screamed; words spoken, recited or sung… words, words words! They form the floor, the walls and the ceiling of our existence.’
Markus 1:33-39 wys op die belangrikheid wat Jesus aan stilte gegee het (lees gerus). In ons gemeente word al vir jare ruimte gemaak vir ‘stil’- dienste of meditatiewe dienste – ‘n ruimte wat prioriteit gee aan afsondering en stilte. Dit gaan nie uiterlik net om stilte nie, maar om
veral ‘n ruimte te skep vir ‘n innerlike ontvanklike stilte waar vir God plek gemaak word om te werk.
Dit is die Katolieke monnik Thomas Keating wat dan skryf: ‘Silence is God’s first language, everything else is a poor translation.’
Jy word uitgenooi na só ‘n plek van ontmoeting wanneer ons meditatiewe dienste weer in aanvang neem komende Sondag om 08:30 in die Kapel. Kom beleef so ‘n ‘thin space’ waar hemel en aarde ontmoet.
Theunis Botha
Familiebediening
Ons stel die jeugleiers aan julle bekend:
Jorgen Barnard (Jugi) - Tienerkerk
Ulrich Barnard (Uli) - Tekkiekerk (gr 4-6)
Marinda Prinsloo - Kiddiekerk (gr 1-3)
Hulle vertel meer van hulself:
Ek is Jugi Barnard, ek is ‘n doodgewone ou wat die Here baie lief het en glo dit is my roeping om die Here te dien as predikant. Ek het nog 1 jaar oor dan kan ek wettig dien as predikant. My verantwoordelikheid is die tienerbediening hier by Helderberg Gemeente. Ek is verloof aan die pragtige Caira Lombard en my passie is hengel en mense.
Ek is Ulrich Barnard, meeste mense ken my as Uli. Ek is tans besig om my nagraadse studies in teologie te voltooi, maar was laasjaar gelegitimeer as diensleraar in die kerk. Ek het ‘n ongelooflike groot passie vir kinders.
Marinda Prinsloo: My passie is om met kinders van alle ouderdomme te werk. Ek is hierdie jaar in beheer van die Kiddiekerk (gr 1 -3). Wat vir my die meeste uitstaan om met kinders te werk, is die feit dat ek elke dag by hulle iets nuuts leer en dat hulle ‘n besonderse manier het om mens lewendig te laat voel met elke interaksie.

Dis Feestyd!
Vandag is amper die laaste HelderNuus van die jaar. Ek kan dit amper nie glo nie. Dit voel soos nou die dag toe ons opgewonde ons 7-Weke reeks in Januarie 2024 begin het. In die gemeente het ons ’n baie spesiale en vol jaar gehad. Ons dank die Here wat ons elke dag gelei en gedra het.
Sommige lidmate het die voorreg om weg te gaan met vakansie, maar gelukkig hou ons nie op met eredienste nie. Ons berei ons voor vir Kersfees en die oorgang van 2024 na 2025. Ons gaan eerskomende Sondag nadink oor die tema van versoening; in die daaropvolgende
weke saam feesvier oor Jesus wat spesiaal aarde toe gekom het; en op Oujaarsaand afsluit met die belofte van die Here aan elkeen “Ek is met jou.”
My wens is dat hierdie feestyd vir jou ’n geleentheid van geestelike groei sal wees. Ons het meer tyd vir familie en vriende, maar ook meer tyd om na te dink oor Jesus. Mag jy ’n geseënde Christusfees beleef en mag 2025 vir jou ’n jubeljaar wees.
Hoe lyk jou emoji?
Ek hou van die idee van emoji’s as ’n manier om meer as woorde te sê. Veral in ’n WhatsApp-boodskap werk dit lekker. Ek doen moeite om die gesiggie te soek wat pas.
Toe ek Sondag in die diens die mooi lofliedere sing en omkyk, het dit my – soos dikwels van te vore – opgeval hoe onemosioneel (suur) sommige mense se gesigte lyk wat staan en lofliedere sing. Ek het gewonder of hulle gesig emoji’s pas by wat hulle sing.
Kersfees gaan oor God wat hierdie wêreld so lief gehad het, en nog steeds het. Ons vier fees in reaksie op hierdie liefde. Hoe lyk jou fees gesig in die aanloop na Kersfees?
Die Lukas evangelie maak baie meer as die ander evangelies van die feestelike aankondiging en verwagting van die koms van Jesus. Lukas het ’n paar lofliedere aangeteken. Sondag kyk ons na die loflied van Sagaria, die pa van Johannes die Doper in Lukas 1:68-79. Dit spoor ons aan om vreugde te wys en “gesig getuies” van Jesus se liefde te wees.
Sien jou Sondag.
Danie Möller


Vrede
Seniorsorg
Seniorsorg wil al ons lidmate van Omgee- en Helderberg Gemeente bedank vir jul oop harte en skenkings om ons Kersbokse vol te maak. Ons waardeer elke bydrae en die jaar verbly ons die senior burgers in Huis Marie Louw. Ons het besluit om die oorskot aan ons ander tehuis wat Helderberg Uitreik ondersteun te skenk. Die geskenke sal gaan aan Huis Esperanza in die Strand. Ons is so bly dat ons met jul hulp die harte van baie eensame inwoners in die tehuise te kan verbly. Seniorsorg wil ook ons gereelde finansiële donateurs bedank wat deur die jaar skenkings maak. Geseënde Kersfees aan jou en jou geliefdes.
Elna Ludik
Helderberg Uitreik: Tereo Skool Broodjieprojek
Tereo Skool, geleë te Victoriastraat 91 in Somerset-Wes, is ‘n geloofsgebaseerde gemeenskapskool vir straatkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar.
Tereo Skool is in 1999 gestig as ‘n nie-winsgewende organisasie. Die skool sien om na straatkinders in die Helderbergkom en bied vir hulle die geleentheid om onderrig te ontvang in ‘n plek van veiligheid, waar hulle gereed gemaak word vir hoofstroom onderrig. Die skool bied ook daaglikse maaltye, klere en emosionele ondersteuning aan die kinders. Tereo Skool se hoofdoel is om vir hierdie kosbare weerlose kinders ‘n kans te gee om onderrig te ontvang en sodoende die gaping te oorbrug tussen die huidige ongeskoolde status en hoofstroom onderrig. Deur die opvoedkundige aspekte en sosiale behoeftes van die kinders aan te spreek, word die inskakeling van die kinders in die groter gemeenskap bevorder.
Besoek gerus Tereo Skool se webwerf vir meer inligting: https://tereo.org/
Behoefte: Vrywilligers wat brood en smeergoed sal skenk vir Tereo Skool gedurende 2025.
Hierdie is ‘n inisiatief van individue, besighede en kerke. Helderberg Uitreik se Hawelose projekte is ook deel hiervan om elke Maandag en Woensdag tydens die skoolkwartale, brood en smeergoed vir toebroodjies vir die 120 kinders van Tereo Skool te verskaf.
Die skedule vir 2025 word tans opgestel. Ons is dringend op soek na nuwe skenkers, om ons in staat te stel om die aantal beurte te verminder en/of die koste te deel.
Kontak asseblief vir Willie Theron by 076 034 9071 op WhatsApp of vir Reinet Prosch by 083 443 2429, indien jy kans sien om ‘n skenker te wees.
Advent van Hoop - Jesus se Nuwe Woonbuurt
Ons ry so rukkie gelede en verdwaal op pad huis toe. Ons wou die verkeer mis ry. Ons ry toe deur ’n woonbuurt waarop ons oudste dogter vra, “Pappa, hoekom is daar soveel gemors op die strate. Bly morsjorse hier?” Hoe antwoord jy dit, want nie almal wat hier bly is morsjorse nie. Sonder twyfel bly hier mense wat skoonmaak, recycle en opruim.
Waar jy bly maak saak. Jou posadres is deel van jou identiteit. Dit gee die wêreld ’n goeie idee van die mens wat jy is. Dit is die valse idee wat mense in Jesus se tyd ook gehad het.
Hoe hoër op met die berg jy bly hoe beter is die mense. Jesus is op pad aarde toe. Met sy koms bring hy ’n nuwe soort woonbuurt. Die snaakse ding van hierdie woonbuurt is dat almal wat intrek een ding in gemeen het.
Kom Sondag Helderberg Gemeente toe. Kom kyk. Kom hoor. Kom gesels. Kom drink koffie.
Sien jou Sondag.
Deon Els
Kerkraad
By gisteraand se kerkraadsvergadering is Roux Joubert herkies as voorsitter en Annette Gerber as ondervoorsitter. Mag julle baie geseënd wees in die groot verantwoordelikheid.

Die grootste geskenk
Oral begin die Kersfeesmusiek al speel en in Sondag se Informele Diens vier ons Familiekersfees. Onwillekeurig begin ons dink aan al die geskenke wat ons wil hê en nie wil hê nie. Net nie nog ‘n paar kouse of ‘n das nie. Wat ek moet koop vir my geliefdes en hoeveel van hierdie geskenke ek op “Black Friday” kan koop vir helfte van die prys. Hierdie Sondag kyk ons na een van die grootste geskenke wat ‘n vrou ontvang het.
Dit was nie ‘n geskenk wat sy gesoek het nie, inteendeel
sy was nie eers bewus daarvan dat sy smag na hierdie geskenk nie. Sondag staan ons stil by Johannes 4 en die Samaritaanse vrou by die put. Kom deel in die vreugde miskien is daar ook vir jou ‘n geskenk wat jy nie geweet het jy na smag nie.
Groete
Paul Barnard
Familiekersdiens
Informele Diens
Ons staan Sondagoggend by die Informele Diens (09:30) stil by die krip, in Betlehem, waar alles begin het. Met Jesus se geboorte het Hy die wêreld vir altyd verander vir Sy ouers, Sy gesin en familie, maar dit strek soveel wyer as dit. Ons word herinner aan die vier geskenke wat Jesus se geboorte bring: Vanuit die krip groei HOOP, VREUGDE, VREDE en LIEFDE.
Hierdie Jesus-kind wat gebore is in ’n brood dorpie maak steeds die honger van my, jou en die wêreld stil. Jy word uitgenooi om saam met Familiebediening, die kleuters, Kiddies, Tekkies en tieners hierdie Adventstyd binne te gaan!

Helderberg BikersKerk het verlede Sondag tot by Bettiesbaai gery en kerk gehou op die strand. Daarna Kleinmond toe en terug deur Houwhoekpas en by Elgin Railway Market geëet.
Ben-Jason Dixon was Sondag by die Tekkiekerk gewees en Grazie Beets het namens Bybelverspreiding aan hom ‘n 2020 vertaling van die Bybel oorhandig.
Die kinders het vir Ben-Jason vrae gevra en hy het stories met hulle gedeel en van sy geloof in die Here vertel. Hy het selfs saam met die Tekkiekerk-kinders gesing en dans.
'n Dankbare hart is 'n gesonde hart
Sommige aande klop die bekommernisse van die lewe my vroeg wakker. Gedagtes oor dinge wat verkeerd loop, verwerping en uitdagings van die toekoms omring my bed. Dit is bitter sleg as jou hart wankelbaar is oor dinge waaroor jy geen of min beheer het. Dit is amper asof jou hart oorgelewer word aan die onbekende van jou omstandighede. Ons omstandighede bepaal so gereeld die ritme van ons hart. Die Here ken ons in ons wakker lê. En juis daarom maak dit hom bekommerd as ons lewens se ritme onnodig hoog klop. Hierdie komende Sondag kyk ons na die boek van Kolossense. Ons sien hoe die Here vir Paulus gebruik om ’n meesterklas in vryheid en dankbaarheid kom aanbied. Die Here bring medisyne vir wankelbare harte. Jy sal so dankbaar wees jy het Sondag bygewoon dat jy nie anders as om op jou knieë voor die Here te leef nie.
Kom Sondag kerk toe. Beplan voor die tyd om saam met jou gesin, vriende en familie enige een van ons eredienste by te woon. Ons tyd is min en ons dankgebede baie. Ons sien uit om jou hier by ons te verwelkom. Dankie, aan elkeen van ons leiers, lidmate en vrywilligers wat iewers betrokke is by die gemeente of Uitreik. Jou liefde, bydrae en gebede bou ’n Koninkryk vêr mooier as wat ons ooit kan droom.
Sien jou Sondag.
Deon Els
Sondag 17 November
Hekke
Bybelverspreiding
Dié projek het hande gevat met die Hemel-op-Aarde projek en 106 Bybels geskenk aan elkeen van die skooltjies wat deel is van hulle projek. Die Bybels gaan gegee word saam met die Kuns vir Koningskleuters / Crafts for Kingdom Kids wat pas gepubliseer is.
Daar is Arikaans, Engels en Xhosa Bybels gegee. Hier is Melanie Smit (Uitreikbestuurder) en Grazie Beets (projekleier van Bybelverspreiding) besig om die Bybels aan te ry.
Erken jy die Here as Koning?
Wat sal jy doen as ’n wêreldbekende president of koning vandag by jou wil kom kuier? Ons sal waarskynlik hom of haar baie vriendelik innooi en ons beste voetjie voorsit. Dit is waaroor hierdie week se preektema gaan. Ons sluit ons reeks af oor die boek Sagaria en lees saam uit Sag 9:9-12. In hierdie gedeelte word daar getuig van ’n koning wat sal kom na Jerusalem. Hy is regverdig. Hy is die oorwinnaar. Hy is nederig. Hy sal vrede bring en heers oor die uithoeke van die aarde.
In die Nuwe Testament word Sag 9:9 aangehaal wanneer Jesus se intog in Jerusalem beskryf word (Matt 21:5; Joh 12:15). Ons glo dat Jesus Christus die volmaakte koning is. Erken ons Hom as ons Koning? Leef ons werklik as koningskinders? Kom gesels Sondag saam hieroor.
Jo Black
"Vrydagaand 1 November het Jo Black en Frank&I ons vermaak met hul musiek en ook iets persoonlik van hulself met die gehoor van nagenoeg 400 mense gedeel. Deur hul musiek en persoonlike getuienis is ons almal weer bewus gemaak van die Here se groot genade en dat Hy getrou is en ons dra wanneer ons nie meer antwoorde het nie." Manne van Elizayo Projek
Nog terugvoering:
"Jo Black was regtig so lekker ervaring. Hy was so vriendelik en die konsert was besonders."
"Mooi mense, lekker vibes en 'n great show!"
"Jo was rêrig baie nice en het mens weer so bietjie laat dink aan goete wat saak maak, maar mens nie meer wil aanspreek..."
Kreatiewe Kuiers
Die Kreatiewe Kuiergroep is hoofsaaklik op dames gemik ... die afgetredenes, eensames, geskeides, weduwees, nuwe intrekkers en enige ander jonger persoon wat elke tweede Woensdagoggend 2 ure oop het om saam informeel kreatief te kom kuier. Niemand hoef werklik kreatief te wees nie en dis die lekkerte van hierdie kuiersessies!
Ons weet om ’kreatief’ te wees, in watter vorm ook al, voed jou denke en gees. Dit verminder angs, verlig spanning en depressie en laat jou weer produktief voel. Daarom doen ons ‘n wye variasie van vaardigheidsaktiwiteite deur die jaar. Ons benut verskeie herwinbare materiale, oortollige voorwerpe, weggooibare artikels, stukkies papier, ou knope, lint en alles en nog wat.
Ons poog om iets te leer wat ons weer kan gebruik soos geskenke maak. Natuurlik vorm hekel en brei deel van die aktiwiteite, want die repeterende bewegings help met die vrystelling van serotonien wat ‘n natuurlike antidepressant is.
Net soos enige ander kunsvorm gee dit elkeen die vermoë om haarself uit te druk deur iets unieks te maak.
Lede se terugvoering het ons laat besef dat Kreatiewe Kuiers waarde tot elke lid se lewe toevoeg. Nuwelinge in die gemeente skakel dadelik in en herken van die dames in eredienste. Saamgesels oor ‘n koppie koffie laat ons sommer tuis voel en ons deel Jesus se liefde met mekaar. Nuwe vriende word gemaak. Vir sommiges is dit ‘n ‘uitlaatklep’ terwyl ander weer ‘krag’ uit gesels put. Van ons het werklik aanklank by sekere aktiwiteite gevind en doen dit voltyds om as geskenke te gee. Horisonne ten opsigte van iets soos herwonne materiaal is verbreed. Ander voel hul kan weer iets daarvan aan mense in ‘n gemeenskap teruggee. Oumas kry weer nuwe idees vir vakansietye saam met hul kleinkinders.
Kom kuier gerus saam en jy kan vir my kontak by 082 400 0903.
Magdel Janse van Rensburg
Ons het gehoor God is by julle
Sagaria 8:23 “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Dit sal in daardie dae wees dat tien mense uit al die tale van die nasies die kleed van 'n Jood gryp en vashou terwyl hulle sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.”
Hierdie woorde van die profeet Sagaria is ook vir ons in Helderberg ’n droom. Dat mense vir ons sal sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.” Ons wil so leef dat mense iets van God in ons kan raak sien. Ons wil ’n gemeente wees wat nie net self die teenwoordigheid van God beleef nie, maar dat God ook vir elkeen wat met ons te doen kry, ‘n werklikheid sal wees.
Braam Hanekom gesels by Sondag se oggenddienste hieroor. Hy is die Direkteur van ons NG sinode se Sentrum vir Publieke Getuienis. Deur hierdie Sentrum span ons as gemeentes van die sinode saam om ’n verskil in die openbare sfeer te maak. Ons vier ook die NG Kerk in Suid-Afrika se 200-jarige bestaan. Twee honderd jaar gelede het die gemeentes in die Kaap die eerste keer saam vergader om as sinode saam te werk.
Novembermaand is Dankbaarheidsmaand
In 1 Thess 5:18 lees ons die volgende woorde: “Wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.” November is ons Dankbaarhheidsmaand en 17 November is ons spesiale Dankbaarheidsondag.
Hoe sê ons dankie? Ons wil dankie sê met ons monde, hande en gawes. Ons dank die Here met sang, gebede en woorde. Ons dank die Here deur dade van dankbaarheid te doen. Ons dank die Here met ons fisiese gawes. As jy vanjaar materiële seën van die Here ontvang het, wil ons jou aanmoedig om in hierdie maand iets ekstra vir sy koninkrykswerk te gee.
Dankbaarheidsmaand loop oor na Advent - ’n tyd waarin ons God dank dat Hy sy Seun aarde toe gestuur het. Ons kan nie anders as om die Here te dank nie!
Danie O’Kennedy
Kliek hier vir ons bankbesonderhede
Bybelverspreiding
Die BikersKerk het dit goed gedink om uit te reik na die mede-motorfietsryers wat onder alle weerstoestand huis aflewerings doen. Die wat onder die vaandel van Checkers se Sixty60 ry. Een van die behoeftes wat aangespreek word, is om Bybels aan hulle te voorsien. Sover is Engels en Xhosa Bybels uitgedeel. Blessing, 'n pastoor van die plaaslike Light of the world ministries wat ook 'n Sixty60 drywer is, het die Xhosa Bybels, namens sy gemeente in ontvangs geneem.
Daar bly natuurlik 'n behoefte aan nog Bybels, maar ons is so dankbaar dat ons die Woord kan deel.
– Schalk Herholdt
Sterk hande van hoop
Ons is besig met ons reeks oor Sagaria, ‘n boek van hoop en bemoediging. Die volk kom terug uit slawerny en moet nou weer alles opbou. Dit gaan egter nie altyd so maklik nie en hulle kry baie teenkanting. Dit klink maar soos ons lewens, ons hoop vir iets beters en as dit kom dan besef ons dit bring ook weer nuwe uitdagings, dan hoop ons vir oplossings of ons is teleurgesteld omdat ons verwagtinge was dat as die oplossing vir ons probleem/situasie kom, dat ons soos in ʼn feëverhaal gelukkig vir altyd leef. Tog is die werklikheid dat elke nuwe situasie selfs as dit goed en lekker is nuwe uitdagings bring – dit is die lewe!
God kom praat ons en die Israeliete van Sagaria se tyd moed in, maar kom vertel ons ook wat die inhoud van die hoop is en hoe dit gaan uitspeel. Wat is jou definisie van hoop? Wat bedoel jy as jy vir iemand sê “hou moed”? Kom ons soek Sondag na God se definisie van hoop en wat Hy bedoel as hy sê: hou moed. Ons gaan dan ook saam nagmaal vier as ons na God se motiewe kyk, want dit gee nuwe moed en hoop!
Sien jou Sondag
Paul Barnard
Tekkiekerk op die strand
Daar is min dinge so inspirerend soos om ons jongmense in God se natuur te sien en te beleef hoeveel genot hulle uit dit put. Een maal ’n jaar gaan Tienerkerk strand toe. Daar is gewoonlik op die Sondag ’n skielike vrees wat die volwassenes vaspen, “hoe gaan ons maak met die wind?” Die Suidooster speel eintlik nooit saam nie en ons is sand en wind verwaai, maar ons jongmense hardloop, speel bal en swem in die yskoue water.
Saam met hul groepleiers gaan sit hulle dan en word stil dankbaar vir die mooi sonsondergang, die sterk wind en die geleentheid om saam met vriende, God se landskap te kan geniet.
Lentegeloof in moeilike tye
Dit is die maand Oktober – die mooiste mooiste maand. In die Kaap is dit waar. Die lente begin stuk-stuk haar vlerke oopsprei – en die natuur pof haar mooiste blomvere vir ons uit. Die winter was lank en nat, maar dit is blykbaar juis die rede hoekom die blomme nou so mooi is. Lente is ’n tyd van nuwe lewe en ’n nuwe begin. Tog is daar nog gereeld koue en winderige dae wat ons pla en herinner aan die winter.
Baie van ons het ook in ons persoonlike lewens behoefte aan tyd van lente en nuwe groei. Ons wil in ons lewens floreer, maar dit is asof daar elke keer ’n winter kom wat die groei wil bederf.
Dan gebeur daar dinge wat ons frustreer en ons magteloos laat voel. Gelukkig is daar vir ons raad. Hierdie week kom die insig van die Ou Testament profeet Sagaria. Hy sê in Sagaria 4:6: “’Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die Here, Heerser oor alle magte”. Ons gesels Sondag by die eredienste hoe dit ons kan help.
Sien jou daar.
Danie Möller
Bikers Kerk
Baie geluk aan Helderberg Gemeente se Bikers Kerk. Ons het die eerste prys gewen as klub by die Christian Motorcycle Association se Mystery run. Dankie aan almal wat deelgeneem het. Behalwe die beker en eerste plek was dit reeds die moeite werd om so die dag saam te spandeer. Dankie aan die CMA vir ‘n mooi geleentheid.
Kiddiekerk oorslaap
Hoe klink byna 80 jillende 7-9 jariges op ‘n Vrydagaand? Lekker chaos, maar wat klink dan nou lekkerder as ‘n oorslaap by die kerk? So iets pak jy net aan met ‘n formidabele span mense. Dit was net matrasse, beddegoed, kussings, groot glimlagte en hope energie met almal se aankoms.
Daar is speletjies gespeel op Talanja se speelgrond terwyl die afwagting groot was vir hul pizza-aandete. Nadat die pajama- en tandeborsel-dril agter die rug was, het almal hulle gemaklik gemaak vir ons eerste van twee movies. Daar is maar min geslaap en net na 05:00 die Saterdag het van die kinders reeds begin roer. Oppak en skoonmaak is nooit pret nie, maar almal het mooi saamgewerk om Talanja mooi netjies agter te laat.
Lekker moeg, maar met groot glimlagte is die kinders huis toe teen 07:00. ’n Groot dankie aan al die helpers (groepleiers en tieners) wat saam gespeel het en help ogie hou het oor die kinders. Julle is ysters.
Ek vertrou dat daar nog lank gesels gaan word oor die uitslaap by die kerk, een van die pa’s het gevra dat so ’n oorslaap weekliks gehou moet word. O aarde?! Daardie skip sal beslis nie seil nie, maar ons sal weer ’n oorslaap in gedagte hou met ons beplanning vir 2025.
Lizl Botha
Helderberg Babas
Friends forever
Baie maal doen die Here iets agter die skerms en wanneer die gordyn oopgaan en die storie homself voor jou oë afspeel weet jy net dat hierdie nie die werk van mense-hande was nie. En dit hoef nie ‘n aardskuddende storie te wees nie. Soms is dit net verrassend!
So het ons by Helderberg Babas op 14 April hierdie jaar ‘n dierbare vyf weke oue seuntjie, Jamie*, van die hospitaal af huis toe gebring. En op 29 April het ons ‘n kosbare, dag oue Oliver verwelkom. Saam met ’n pragtige prinsessie, Anathi, het die drie ons huis en ons harte volgemaak. Teen begin Augustus is Anathi by haar aanneemouers geplaas terwyl die twee seuntjies nog ’n paar weke langer by ons gebly het.
Ek neem baie foto’s en video’s van die babas in ons sorg, sodat ek die kosbare mylpale wat die aanneemouers van hulle baba mis vir hulle kan vasvang. Ek neem individuele foto’s van elke baba wat saam met hulle huis toe gaan, maar ek neem ook die babas wat gelyktydig in ons sorg was saam met mekaar af, sommer net vir ons eie rekords. So het ek ’n paar kosbare foto’s en video’s van Jamie en Oliver afgeneem. Die verwagting is egter nie dat die babas wat saam by ons was se paaie ooit in die toekoms sal kruis nie.
Teen einde Augustus was dit tyd vir Oliver om huis toe te gaan. Hy is by ’n oulike ouerpaar geplaas en hy was sommer gou tuis in sy nuwe omstandighede. Ons kon egter agterkom dat Jamie sy “boetie” mis.
Toe ons drie weke later Jamie se ouers ontmoet toe ons hom aan hulle oorhandig, maak die mamma iewers tydens die gesprek ’n opmerking: “We can tell Oliver’s dad that we can now arrange a play date for the boys.”
My ore spits. ”Oliver?”, vra ek verbaas. “Yes”, sê die mamma, the little boy that was with you until recently.” ... “You know each other...?”, gaan my verbasing voort. “Yes, we were in the same adoption preparation group and have become good friends.”
Wat is die kans dat hierdie twee seuntjies se aanneemouers mekaar leer ken het nog maande voordat hulle gebore is? En wat is die kans dat albei seuntjies by ons kom bly het voordat hulle na hulle aanneemouers toe is? En dat die ouers kontak gehou het en nou “play dates” vir die tweetjies gaan reël?
Eendag, wanneer die seuntjies ouer is en vrae begin vra oor waar hulle was voordat hulle aangeneem is, kan ek vir die ouers die foto’s aanstuur waar hulle saam hier by Helderberg Babas was en kan die ouers vir hulle verduidelik dat oom Werner en tannie Tania hulle albei se veiligheidsouers was. Hulle sal hoor dat hulle van die begin af maatjies was wat ’n gedeelte ervaring by Helderberg Babas gehad het.
Dit is vir my so ’n mooi storie! So verrassend! Soos net die Here dit kon skryf en laat uitspeel.
(*Skuilname is vir die babas gebruik.)
Projekleier: Karin Alheit by 082 909 0204 of
Helderberg Babas bestuurder en Tydelik Veilige Sorg-ouer: Tania Schultz 084 717 0660 of
Diewe steel en breek
Hierdie komende Sondag het ons die 115 leerling koor van Laerskool De Hoop wat by ons kuier. Kom vier hierdie spesiale geleentheid saam met die belydenisklas van 2024.
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes.” Johannes wil hê dat jy notisie moet neem van die feit dat die bose ‘n plan het. Boosdoeners kom met ’n duidelike uitgewerkte strategie. Aardse diewe is kansvatters, maar die bose dra in homself ’n intensionele bedoeling om gebrokenheid by jou te veroorsaak, ’n “malicious intent”.
C.S. Lewis skryf in die aangrypende boek, Screwtape Letters, oor die bose se strategie,
"Indeed the safest road to Hell is the gradual one—the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts."
Hierdie komende Sondag gesels ons verder vanuit die aangrypende boek, Sagaria. Ons sien hoe die Here die planne van die bose met krag en vergifnis uit die weg ruim.
Maak seker om Sondag jou gesig te kom wys vir die 35 jongmense wat belydenis van geloof aflê. Kom bemoedig hulle deur jou teenwoordigheid.
Sien jou Sondag.
Deon Els
Hoekom ‘n reeks oor Sagaria?
Ons begin hierdie Sondag, 6 Oktober, met ‘n nuwe preekreeks van ses Sondae oor die boek Sagaria. Hoekom glo ons dat die boodskap van die boek vir ons nou aktueel is? Die boek Sagaria is geskryf in ‘n oorgangstyd nadat die volk Israel uit Ballingskap teruggekeer het. Hulle was opgewonde om terug te keer na Jerusalem, maar daar was ook onsekerheid op verskillende vlakke – polities, ekonomies en godsdienstig. Die Here roep in hierdie tyd sy volk op om die tempel en gemeenskap op te bou. In Sagaria 1-8 vind ons byvoorbeeld ag visioene waar die Here boodskappe het vir die geestelike leiers, vir die provinsie Juda (Jehud) en vir die hele wêreld van daardie tyd.
Ons leef in ‘n oorgangstyd in ons land en gemeente. Daar is opgewondenheid, maar ook onsekerheid. Opgewonde oor ‘n gemeente wat fisies groei na Covid. Opgewonde oor talle lidmate wat ‘n dieper behoefte het aan opbou en geestelike groei. Daar is energie om die Here beter te leer ken deur sy Woord en Gees. God is besig in Helderberg met hierdie bou proses. Hy is die groot Bouer en gebruik vir ons as mede-bouers. Ons glo dat die boek Sagaria ons in hierdie tyd kan help.
Sondag lees ons uit Sagaria 1:7-17.
Danie O’Kennedy
Pos beskikbaar
Die pos van Algemene Skoonmaker is beskikbaar by Helderberg Gemeente vanaf 1 November 2024 (40 uur per week pos)
Vereistes:
• Matriek met relevante ervaring
• Tweetalig (Afrikaans/Engels)
• Eie vervoer na en van die perseel
• Fisies fiks en geestelik gesond wees, bevoeg en bekwaam om alle pligte uit te voer
Kliek hier om meer oor die pos te lees.
Sluitingsdatum is Maandag 14 Oktober 2024 om 10:00
Aansoeke kan per hand ingehandig word vir Marisa Viljoen (kerkkantoor) se aandag of via e-pos gestuur word na:
Dis nooi te laat nie
Was jy al moedeloos oor persone wat net aanhou om teen die Here te kies? Het jy al vir iemand gebid en gewonder of die persoon ooit tot bekering sal kom? Die verhaal van Manasse (2 Kron 33:9-17) gee vir ons hoop dat dit nooit te laat is nie. Manasse was een van die mees goddelose konings van Israel en Juda. En deur sy ongehoorsaamheid het hy die hele volk verlei (v 9), Maar toe Manasse in ballingskap was, het hy tot die Here gekeer en om vergifnis gebid (vv 12-13a).
Die Here het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem (v 13). Manasse het die Here voluit begin dien (vv 14-16). Manasse se verhaal motiveer ons om nooit moed op te gee met myself of ander mense nie. By God is enigiets moontlik. Kom gesels Sondag saam met ons.
Groete
Danie O’Kennedy
Maak van hierdie plek 'n nog beter plek
Laat ‘n plek in ‘n beter toestand agter as wat jy dit gekry het. Dit is al jare een van ons gesin se waardes - of dit nou ’n huurwoonstel of ’n kuierplekkie is. Hoe lekker was dit nie, toe ek verlede week hoor een van my kollegas sê presies dieselfde. Ons vier in hierdie tyd Erfenisdag. Dit wat ons geërf het, wil ons in ’n beter toestand agterlaat. Dit gaan oor ons kulturele erfenis, ons geestelike erfenis en ook ons ekologiese erfenis.
By Sondag se eredienste gaan ons gesels oor ons natuur erfenis. Ons het hierdie wonderlike aarde geërf. Ons het die voorreg om in van die mooiste dele van hierdie aarde te kan woon.
Hoe dink ons en leef ons as Christene om te kan verseker dat ons kinders en kleinkinders met net soveel vreugde dit kan geniet? Hoe leef ons as groen Christene, of is ons eintlike fokus nie eintlik die nuwe hemel en die nuwe aarde nie? Ons lees Sondag uit Genesis 1:26-30.
Sien jou Sondag
Danie Möller
BoekeHoekie
Zani Malan het Vrydag hierdie stukkie op Facebook geskryf:
Vanoggend loop ek my vas in 'n geskarrel by die boekwinkel in die Tent. Ek is een van daai mense wat sukkel om verby enige tweedehandse iets te stap, maar boeke veral. Meestal koop ek nie juis nie (krap net die volgorde om), maar dis net lekker om daar te wees. Tussen mense se stories. Boeke oor verlies, vakansies in Botswana, "How to become a great golf player", potjiekosresepte en wat elke tiener blykbaar moet weet.
Ek ontmoet vir Avril Labuschagne waar sy besig is om 'n trollie boeke uit te pak (ek herken Ludlum, Smith, Matthee). Eers dink ek sy is net 'n gewillige hand wat help, maar hoor dan dat sy lank gewerk het as bibliotekaresse, eers in Harrismith en Caledon en toe vir baie jare by Worcester se skool vir blindes.
Sy vertel my van klankopnames van boeke wat daar opgeneem en versprei is en hoeveel spasie 'n Bybel in braille opneem.
As kind het sy ook in Somerset-Wes gewoon en haar pad het haar later jare weer hiernatoe teruggebring. Nou is sy al 4 jaar deel van die BoekeHoekie. Steeds tussen mense se stories.
Ons praat oor planne wat hulle nog het met die boekwinkel en ek kan hoor dat Avril besig is met iets wat deel is van haar passie. 'n Sleutel wat pas in die slot.
As jy nog nie het nie, doen jouself ‘n guns en kom loop ‘n draai deur die BoekeHoekie in die Tent (en kry sommer ‘n koffie langsaan en pakkie koekies oorkant ook). Jy sal nie spyt wees nie. Ekself is weg met 'n paar lekker boeke en natuurlik 'n pakkie koekies (of twee).
In die kol waar jy nie kan sien
Die boek van Markus vertel van ‘n wilde storm wat “skielik en hewig” oor die see losbars. Onstuimige waters, uitdagende seisoene en gejaagdheid in ons lewens doen dieselfde. Die realiteit is dat die lewe ons soms gaan druk. Sekere dele van die pad gaan moeiliker wees as ander. Die vraag is wat gebeur met ons in hierdie tye? So gereeld is dit juis in hierdie tye wat ons sig verloor oor wat werklik belangrik is. Ons “kyk” is beperk en al wat ons voor ons sien is die pikswart onsekerheid van donkerte. Die vraag is of daar iets goed kan kom vanuit die donker storm in ons lewens.
Waarvoor moet ons uitkyk in die oog van die storm? Hierdie komende Sondag gesels ons rondom die tema, In die kol waar jy nie kan sien vanuit Matteus 14:22-33. Maak seker om saam met ons te stap in Jesus se rigting. Nooi gerus ‘n vriend, vreemdeling of familielid wat die Here op jou hart plaas. Mag die vrede van Jesus jou vooruit gaan.
Mooi week,
Deon Els
Koop (wyn en) melk, sonder prys en geld
Ons lees in Jesaja 55:1:
“Almal wat dors is, kom na die water toe.
Selfs al het jy geen geld nie, kom, koop en eet.
Kom, koop wyn en melk, sonder prys en geld.”
Ons weet dat Jesus die Lewende Water is wat ons nooi om ons geestelike dors te versadig deur in Hom te glo – ’n gratis genade-geskenk!
Maar sjoe, waar koop ’n mens deesdae elders so gratis - sonder prys en sonder geld?
Die kanga&roo projek het die afgelope jaar hierdie uitnodiging, om gratis “te koop”, op ’n baie praktiese vlak beleef. Ek deel graag die wonderlike getuienis en die effek wat dit op die veiligheidsouers en babas gehad het.
Op Sondag 12 November 2023 het ons oudergewoonte die jaarlikse geleentheid gehad om tydens die eredienste te getuig en om ook ’n artikel (soos hierdie) oor die kanga&roo-projek te skryf. Ek het die getuienisse gedeel van dankbare veiligheidsouers oor die maandelikse ondersteuning wat hulle ontvang om die babas se basiese behoefte van formule melk, weggooidoeke en baba-afvee doekies te dek.
As deel van die getuienis het ons ook ’n video gewys waar ek een aand bottels gestaan en aanmaak het vir die vier babas wat ons op daardie stadium in ons sorg gehad het. ‘n Blik Alula formule melk (voorheen bekend as S-26) was heeltemal toevalling mooi sigbaar van voor. Ek het net ’n maand te vore van ’n ander maak af oorgeskakel na die Alula formule. Dit eerste keer dat ek dit gebruik het.
Na die oggend se twee eredienste, toe ons by die huis kom, sien ek dat ek ’n WhatsApp-boodskap van ‘n onbekende nommer op my selfoon het. Ek lees die boodskap... en ek lees dit weer...
“Hallo Tania, my naam is Margaret. Ek was vanoggend in die kerk en ek wil graag vir julle help. Ek werk vir die maatskappy wat die S-26 formule maak en ek wil graag deur die maatskappy vir julle al julle melk maandeliks borg. Ek sal jou môre bel en dan kan ons gesels. Lekker dag verder.”
Toe ek en Margaret die volgende dag met mekaar gesels vind ek uit dat hulle nie net die babas wat ek en Werner deur Helderberg Babas versorg, wil borg soos ek aanvanklik gedink het nie, maar al die sowat 80 babas wat jaarliks deur die kanga&roo-projek ondersteun word. Daar is tye in ‘n mens se geloofspad saam met die Here dat jy weet, wat nou gebeur is nie iets wat mense kon organiseer nie. Net die Here self kon dit doen!
Sedert Desember 2023 drink die babas in tydelike veilige sorg dus nou gratis melk. Ons kan ook kies uit die verskeidenheid opsies soos die Alula Gold vir babas 0-6 maande en 6-12 maande, die Anti Relux formule vir babas wat met refluks sukkel en Comfort formule vir babas wat koliek het. Die kanga&roo-projek het net beperkte fondse en veiligheidsouers moes dikwels self duur vir die meer gespesialiseerde formule melk betaal wanneer ’n baba dit nodig het. Nou kry die babas kwaliteit formule wat elke baba se unieke behoeftes aanspreek. En die babas floreer! Hierdie skenking gee veiligheidsouers maandeliks die waarde van ongeveer R1 500 ekstra en dus kan die kange&roo-projek ook ander behoeftes soos baba-badprodukte dek.
Ouers met babas wat uit hulle “gently used” babaklere en ander items soos bv. karstoeltjies, stootwaentjies, sitstoeltjies, babamonitors, mikrogolfoond-steriliseerders ens. ontgroei, is baie welkom om die items aan die kanga&roo-projek te skenk. Daar is baie maal nuwe veiligheidsouers wat aanmeld en moontlik van vooraf vir ’n baba moet voorberei en sulke skenkings is dan goud werd. Items kan by Helderberg Gemeente se kerkkantoor afgegee word, gemerk “kanga&ROO”.
Tania Schultz
Tydelike veilige sorg-mamma en kanga&roo koördineerder
084 717 0660 of
Projekleier: Karin Alheit by 082 909 0204 of
Wit olifante en vergete skatte
Die witolifanttafel by die basaar trek my altyd soos ’n magneet. Ek dink dit is omdat ek nog altyd droom ek gaan eendag daar ’n groot skat ontdek. Ek het al wonderlike winskopies daar gekry, maar meestal later besef dat dit eintlik presies was wat die naam dit noem – wit olifante.
Hoe lekker sal dit nie wees om ’n skat te ontdek wat mense weggooi of verwaarloos, omdat dit nie meer vir hulle waarde het nie; of omdat hulle nie weet hoe kosbaar dit eintlik is nie? Ek het hierdie week gekyk na video’s oor die ontdekking van die eerste Land Rover wat vervaardig is en ook van ’n skaars ou Ferrari 250 GT, al twee in ou plaasskure.
Dalk is dit hoekom die gelykenis wat Jesus volgens Matteus 13 vertel oor die koninkryk van die hemel wat soos ’n skat is wat jy kan ontdek, my so aanspreek.
Maar het jy die gelykenis al andersom gelees? Het jy al gedink dat ek en jy dalk die persoon kan wees wat die skat wat ons het, verwaarloos en nie meer waardeer nie? Of ek kan dalk die persoon wees wat die gehuurde stuk grond ploeg en vies is omdat ek al weer “’n dekselse klip” raak geploeg het en nie besef ek het met ’n skat te doen nie.
Om deel te kan wees van God se koninkryk en om dit te kan uitleef in sy geloofsfamilie hier in Helderberg Gemeente is die skat wat ek hierdie week weer nuut ontdek het. Wat ’n voorreg! Dalk het jy ook behoefte aan hierdie skat. Psalm 51:14 sê dit so: “Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is. Laat my U weer met toewyding dien.”
Kom beleef dit Sondag saam by ons eredienste.
Danie Möller
Basaar

Baie dankie vir elkeen se bydrae tot die ongelooflike basaar en die lekker saamkuier. Dit was regtig 'n geseënde dag. Daar is soveel om oor dankbaar te wees en ons sien al klaar uit na volgende jaar sin.

Sir Lowry’s Pass Projek se Leerderondersteuningsprogram
God het vir elke mens talente en gawes gegee wat ons moet gebruik om die blye boodskap na ander uit te dra daar waar ons woon, werk en speel. Wanneer daar egter konstante finansiële en sosiale uitdagings is, verloor jongmense maklik hoop en bly vasgevang in ’n siklus van armoede. Die toekomsgerigte doelwit van die Sir Lowry’s Pass Leerderondersteuningsprogram is om ons beurshouers te mentor en te begelei om hul hoërskoolopleiding suksesvol te voltooi, hul volle potensiaal te bereik, en hul talente en gawes te ontgin om ’n goeie toekoms vir hulself te verseker. Behoeftige leerders ontvang vanaf Graad 8 ‘n beurs wat hoofsaaklik skoolfooie, uniforms en skryfbehoeftes dek, maar ons wil graag ’n gesonde, gebalanseerde lewenstyl aanmoedig en ondersteun hulle ook om aan sport en ander buitemuurse aktiwiteite deel te neem. Ons beplan om deur die loop van hul hoërskoolloopbane hul verder te ondersteun om gepaste studiemetodes aan te leer, aanvullende tutorklasse in spesifieke skoolvakke te ontvang, hul loopbane te beplan en daarvolgens die regte skoolvakke te kies. Die program bestaan tans uit 14 Graad 8-beurshouers, 8 mentors en ’n aantal hoërskoolleerders en studente wat as tutors optree.
Behoeftes:
Ons wil graag jaarliks ‘n nuwe groep Graad 8’s in die program inneem (aansoeke vir 2025 is reeds oop). Die volhoubaarheid van die program is egter totaal afhanklik van die volgende:
• Mentors: Omgeegroepe of individue wat ’n passie vir jongmense het en bereid is om een of meer leerders deur hul hoërskoolloopbane te mentor
• Tutors: Hoërskoolleerders of ander gemeentelede wat met spesifieke vakke kan help of hulpbronne beskikbaar kan stel
• Slimfone vir e-leer en tutoraktiwiteite
• Finansiële bydraes
• Gebede
Dankie aan almal wat gereeld bydraes lewer om ’n verskil in die lewens van die kinders van Sir Lowry’s Pass Village te maak en sodoende vir hulle hoop vir die toekoms te gee.
Kontak asb die projekleier, Sarita Groenewald, by 082 557 5551 of
Foto: Die psigometris, Sanet Lipp, het in Mei 2024 ’n Studievaardigheidswerkswinkel vir ons beurshouers by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool aangebied.

Sondag se erediens
Dit is basaar-naweek en ons gaan heerlik saam kuier en ontspan en Sondag sluit ons dit af met ‘n familiediens. Kinders, tieners en hulle ouers woon saam met ons die dienste by en ons vier God se getrouheid. Hy wat van geslag tot geslag sy liefde aan ons bewys. Die tema vir Sondag is “Groen druiwe maak jou kinders se tande stomp”. Ons gaan saam lees uit Eksodus 20:5-6 en dan ook Esegiël 18.
Het jy al gewonder oor die teks wat sê dat God die sondes van die kinders tot in die derde geslag besoek? Wat sou dit beteken en wat is die boodskap vir ons vandag?
Die Familiebedieningspan gaan help in die aanbieding van die diens en ons gaan saam die Here loof, aanbid en stilstaan by sy Woord. Maak seker dat jy goed voorberei vir die diens deur Saterdag heerlik saam met jou familie by die basaar ontspan.
Groete
Paul Barnard
God se liefde en genade is groot
Charlotte Sibanyoni-Mahlangu het haar Baccalaureus graad in Teologie, Hebreeuse honneurs en Teologie-meesters met lof verwerf aan die Universiteit van Pretoria. Sy was 'n Hebreeuse dosent in die Departement Antieke en Moderne Tale en het Hebreeus gegee aan die Universiteit van Pretoria tot sy na Noorweë verhuis het om haar studies te voltooi.
Sy is verbonde aan NG Universiteitoord waar sy vier jaar gelede georden is – en word die eerste swart vrou wat in die NG Kerk georden is. Charlotte is besig met haar Ph.D. in Ou Testament aan VID Gespesialiseerde Universiteit in Noorweë.
Indien jy meer wil lees oor haar, kliek hier of jy kan selfs ‘n video kyk, kliek hier, wat by die Sinode opgeneem was.
Charlotte kom Sondag haar storie van hoop met ons deel. Sy sal by die Klassieke en Informele Dienste wees en ook die aand om 18:00. Daar is steeds ‘n diens om 19:00, maar ons hoop egter dat almal eerder die 18:00 diens in die kerk sal bywoon.
Speletjiesaand
Die kerkraad van Helderberg en die kerkraad van die VGK Somerset-Wes het 'n speletjiesaand gehad verlede Vrydag.
Almal het lekker gelag, gekuier en saam geëet. Die bou van verhoudinge is belangrik vir die kerkraad.
Bybelverspreiding
Bybelverspreiding (BVS) is ‘n projek wat God se Woord aan mense oordra deur ‘n Bybel aan hulle te gee. Die afgelope jaar het ons projek oor die 700 Bybels versprei, waarvan die meeste Afrikaans was (sien tabel vir meer statistiek). BVS strewe daarna om soveel as moontlik Bybels aan mense in hul moedertaal te versprei en daarmee saam God se liefde en hoop.
Neem ook kennis daarvan dat ons gebruikte Bybels ontvang en weer versprei, so bring asseblief jou ekstra Bybels vir ons.
Kontak my gerus indien jy Bybels benodig vir verspreiding ek help graag, by die kerkkantoor (021 851 5582) of epos
Seënwense
Grazie Beets
Alle paaie lei nie na Rome nie
Alle paaie lei nie na Rome nie. Veral nie geestelike paaie nie. Dit klink dalk meer gemaklik om te sê dat elkeen op sy eie pad en op sy eie manier by die geestelike heerlikheid, of by God, kan uitkom. Maar dit is nie waar nie. Daar is net een pad.
Anders as die GPS-tannie wat vir jou ’n paar moontlike roetes na ’n bestemming voorstel, het Jesus dit duidelik gemaak: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6)
Jesus is die pad. Die vroeë volgers van Jesus was bekend as die mense van die pad.
Ons is bevoorreg om die pad te ken. Dit is ook waar dat ons maklik ons eie afdraaipaadjies neem, of die spoor byster raak en verdwaal.
Ek wil jou uitnooi na Sondag se eredienste. Ons sluit ons reeks oor sleutels vir die toekoms af met die uitnodiging om die toekomspad saam met Jesus Christus te loop. Deur die nagmaal gaan jy jouself kan verbind tot hierdie pad.
Bid daaroor. Berei jouself voor en kom gereed.
Somer eredienstye
Basaar
truth2kids
www.truth2kids.org
Jesus said: “I am the WAY, I am the TRUTH, I am the LIFE. No one comes to the Father except through Me.” Só sing die kinders van ons Bybelklubs die teksvers uit Joh 14:6. Dit was spesiaal om die Bybelverhaal met hulle te kon deel oor Jesus wat saam met Sy dissipels eet. Net soos die dissipels het elke kind ook nodig om te weet dat net Jesus die WEG, die WAARHEID en die LEWE is. Om hierdie boodskap aan kinders te bring, is die visie van Truth2kids.
Ons is so dankbaar vir die geleenthede wat die Here vir ons gee om tans meer as 1 800 kinders weekliks in skoolkwartale te kan bereik in 43 Bybelklubs in skole, kleuterskole en die gemeenskap. Een skool het ons ook gevra om 10 nuwe bykomende klasse te doen nadat ons al jare daar werk.
Ons hou ook elke jaar ‘n kamp en kon 57 baie entoesiastiese kinders vanaf 10-12 Mei na Kleinmond neem. Ons tema was “Vertrou op God soos Josef” en die lesse en fliek hieroor het die kinders diep getref. Alle eer aan die Here dat daar ook kinders was wat oorgawes aan Hom gemaak het. ‘n Spesiale hoogtepunt was die feit dat Joshua, wat in 2015 die eerste keer as ‘n graad 4 seun op ‘n kamp was en daarna baie kampe bygewoon het, hierdie keer ‘n “volwasse” groepleier kon wees. Hy was uiters opgewonde hieroor en sy getuienis het die groep sterk aangespreek.
Op die vraag oor wat hul geleer het en wat die lekkerste was, sê hulle:
“Dit was baie, baie lekker op die kamp, veral die fliek, die stort, en die koekies met hot chocolate.”
“Die skatir jag en speeliekies was lekker, ook die sing en nuwe vriende maak.”
“Ek het geleer om te vergewe, en om God voor te sit en goed te doen en nie te kla nie.”
“Ek het geleer van die nuwe verse in die Bybel wat ek vir my ma gaan vertel.”
“Ek het geleer dat God altyd aan my sy sal wees in goeie en moeilike tye en dat ek net op Hom moet vertrou en glo dat ek Sy kind is.”
“Ek het my elke oomblik geniet op die kamp en niks was verkeerd vir my nie.”
Ons gee ook gereeld opleiding aan volwassenes om hulle toe te rus om die Evangelie op kinders se vlak te bring. Kwartaallikse werkswinkels en kleingroep-opleiding is geleenthede waar kreatiewe idees vir Bybelellesse, liedjies en speletjies uitgeruil word en Skrifgetroue lesmateriaal gegee word. Jy is só welkom om deel te raak van ons entoesiastiese span. Ons benodig tans mense om te help by Bybelklubs. Helpers gee byvoorbeeld ‘n uur vir voorbereiding en 30 min tot ‘n uur vir aanbieding op ‘n vaste tyd weekliks by een Bybelklub, maar kan ook by meer klubs help.
Baie dankie aan elkeen wat ons deur betrokkenheid, gebed en finansies ondersteun – ons het geweldig baie waardering daarvoor. Kontak ons ook as jy dalk vir ‘n spesifieke kind wil bid.
Projekleier: Sus van Niekerk by 076 746 4581 of
Koördineerder: Minette Krog by 083 655 0111 of
Bankbesonderhede: Helderberg Uitreik, ABSA Somerset-Wes, Rek: 9114 483 080, Takkode: 632005, Verwysing: Truth2Kids

Ek is reg! Dink ek
Om reg te wees is vir my baie belangrik, dit maak dat ek dink oor wat ek doen en glo. Ek probeer om besluite te maak wat goed deurdag en ingelig is. Dit is deel van my mensheid en die manier hoe ons grootgeword het. Ek hou daarvan om te dink dat my opinies gegrond is in nugtere denke en dat ek nie deur elke ding saamgesleep word nie. Tog is daar dinge wat my elke dag konfronteer wat my ‘n oomblik laat stilstaan en wonder. Om te leef uit vaste oortuigings is vir my ononderhandelbaar, maar om oop te wees om my vaste oortuigings te bly toets is net so belangrik. Dit is veral waar as dit kom by my geloof.
Ek het God lief met my hele hart, siel en verstand, of dit is soos ek veronderstel is om Hom lief te hê. Tog besef ek dat ek baiekeer meer funksioneer uit die emosionele van my liefde vir God en dan optree uit die passie van my hart en my verstand heeltemal verbygaan.
Dit gebeur wanneer jy regtig vir iemand lief is dat hulle vir jou so belangrik is dat jy eers emosioneel optree voordat jy die proses deurdink.Dit is nie iets nuuts nie, ook Jesus se dissipels het dit op verskeie geleenthede beleef. Hulle het groot geloofsuitsprake gelewer in die oomblik net om te beleef dat Jesus hulle eers net stilmaak en terugbring na die kerk van sy liefde. Hierdie week kyk ons na Markus 9 vanaf vers 38 na een so ‘n geleentheid. Ons besef dat ons moet streef daarna om eg voor God te leef met die regte oortuigings, maar met die openheid om te verander as God met ons besig is. Hy is dan ook partykeer met ons besig oor mense wat anders as ons dink. Om te kan se: Ek is reg! Dink ek. Maar met die nederigheid om te luister en self ondersoek te doen.
Geskenkpak te wen
Die geskenkpak word by Ontvangs uitgestal.
Ester op reis
Hierdie is ‘n nuwe projek van Helderberg Uitreik. Vir meer inligting
kontak vir Willemien Janse van Rensburg by
Ek het nie die sleutel vir al die slotte nie
Het jy al gesukkel om iets oop te sluit omdat jy die verkeerde sleutel gehad het? Daar is nie net een sleutel vir al die slotte op aarde nie. God gebruik verskillende mense in sy koninkryk net soos daar verskillende dele van die liggaam is (1 Kor 12:14-22). Een persoon kan nie alles doen of “oopsluit” nie.
Diensbare mense wat hulle gawes gebruik is belangrik, maar dit kan gebeur dat ons te veel van onsself dink.
Dit is steeds God wat deur ons werk en die groei bewerkstellig (1 Kor 3:6-9). Jy is een van die sleutels. Is jy bereid dat die Here jou gebruik om die volle potensiaal van God se koninkryk oop te sluit.
Sien jou Sondag wanneer ons lees uit 1 Korinthiërs 3:6-9 en 12:14-22.
Ons is op Instagram
Gaan kyk gerus op Instagram en soek vir Helderberggemeentedigitaal.
Basaar 2024
Indien jy dalk een van die mense is wat nog nie deel is van die basaar nie of jy het nie nou tyd om deel te raak nie, hier is ander maniere hoe jy betrokke kan wees:
* Daag op by die basaar en kom geniet die kuier saam met almal.
* Help om die basaar te bemark, vertel vir mense daarvan en plaas dit op jou sosiale media.
* Bring bestanddele en plaas dit in die houer by die ingang van die Tent.
Hemel-op-Aarde Projek / Heaven-on-Earth Project (HOEP)
Vandag, 14 jaar later kan ons met oorgawe getuig dat wanneer ons Vader ‘n sleutel aan ‘n bediening toevertrou en daardie sleutel word volgens Sy bedoeling gebruik, dit gepaard gaan met die gewig van Koninkryk outoriteit agter daardie bediening.
By HOEP het die deur wat oopgeswaai het gelei na ‘n spesifieke area binne vroeë kinderontwikkeling, naamlik die skoolgereedheid van jong leerdertjies uit bitter moeilike omstandighede. In hierdie area beleef ons seën op seën en wonderwerk op wonderwerk!
HOEP het gegroei van waar ons 15 leerders uit een skool in Sir Lowry’s Pass gehelp het tot waar 2 700 leerders uit 106 skole en kleuterskole regoor die Wes-Kaap nou met HOEP se vroeë remediërende intervensieprogram bygestaan word en 166 opvoeders opgelei word om die program in hul eie klasse aan te bied.
Alle eer aan die Here, want ons intervensieprogram het ook ons Trojaanse perd, of die sleutel tot nóg ‘n slot geword: die deure is vir ons geopen om die Woord van die Here aan elke leerdertjie op die program te bring.
Kom maak gerus ‘n draai na Sondag se diens by ons uitstaltafel om te kyk na ons opwindende boek Kuns vir Koningskleuters wat pas gepubliseer is. Dit is iets wat elke mamma met jong kinders, elke ouma met kleinkinders wat sy van tyd tot tyd moet besig hou en elke jeugaksieleier móét hê! Die boek is propvol oulike kuns aktiwiteite, wetenskap eksperimente en die deel van die wonderbare Woord van God op ‘n vlak wat kinderharte beslis sal aanraak.
“No one can do everything, but everyone can do something”. Kom vind gerus uit of daar nie dalk ‘n sleutel in jou hande lê om slotte in jong leerders se lewens oop te sluit nie.
Ons wag vir jou.
Sunette Erasmus by

KidsXpress is 20 jaar oud
KidsXpress se lesmateriaal rus predikante, jeugwerkers en vrywilligers toe om kinders tussen die ouderdomme 2-16 jaar met die evangelie te bereik in gemeentes regoor Suid-Afrika en in Namibië in ’n wye spektrum van denominasies wat wissel van gereformeerde gemeentes tot onafhanklike charismatiese gemeentes.
Dit is ons doel om jeugpredikante, jeugwerkers en ouers te bemagtig met opwindende, Skrifgetroue, evangeliese inhoud waarmee hulle kinders weekliks in gemeentes, skole en gemeenskappe kan bedien deur Bybelklubs, naweekkampe, vakansie Bybelskool, asook skolebediening.
Mense wat hulleself aanbied om die kinderkerk te hanteer of ’n kleingroepleier te wees is baie maal ouers van kinders wat op daardie stadium in die kinderkerk is. Hulle is gewillig, maar soms onseker omdat hulle nie altyd weet wat om week na week aan te bied nie. Sodra aanbieders egter KidsXpress se materiaal in die hand het, sien ons hoe hulle aanvanklike huiwering verdwyn soos hulle al meer en meer bemagtig voel. Predikante en jeugwerkers wat nie altyd die tyd het om self materiaal te ontwikkel nie, vind baat by die tematiese reekse wat kontinuïteit in hulle bedieninge skep.
Gedurende 2023 het die kinderkerk van Die Omgee Gemeente in Somerset-Wes KidsXpress se reeks, Eendag as ek groot is, aangebied. In hierdie reeks droom kinders oor wat hulle eendag wil word, bv. Eendag wil ek ’n spioen wees. Dan hoor hulle die verhaal van Josua en Kaleb uit die Bybel van eendag lank lank gelede wat by die beroep aansluit. Kinders kan met die karakters identifiseer, uit hulle foute leer en geïnspireer word om vandag vir God te leef. Toe die boodskap “Eendag wil ek ’n perdefluisteraar wees” aan die beurt kom, het kinders en hulle ouers ’n perdryskool by Journey’s End gaan besoek en geluister na die verhaal van Bileam en die pratende donkie. Tydens “Eendag wil ek ’n visserman wees”, het gesinne saam by ’n dammetjie gaan visvang en gehoor hoe Jesus Petrus geroep het om ’n visser van mense te wees.
Hierdie jaar word KidsXpress se reeks, Op ’n Skattejag, tydens die gesinsdienste aangebied.
Een van Helderberg Uitreik se projekte, Truth2Kids, wat uitrek na kinders in verskeie gemeenskappe, skole en plase in die Helderberg Kom, het tydens hulle onlangse, jaarlikse kamp die reeks, Droomland, wat handel oor Josef se verhaal, aangebied. Tydens die kamp het kinders ontdek dat God ’n plan met elkeen se lewe het.
Antoinette Erasmus en Minette Krog van Truth2kids getuig:
Vir Truth2Kids is dit ’n groot voorreg om die materiaal van KidsXpress te kan gebruik. Die materiaal is Skrifgetrou, vars, relevant, goed nagevors en uitstekend uiteengesit. Die boeke met klaar uitgewerkte lesse, visuele hulpmiddels en liedjies is wonderlike hulpmiddels wat help om ryk geestelike waarhede aan kinders van verskillende ouderdomme en in verskillende kontekste te onderrig. Dit bied hope idees wat op eenvoudige maniere tot uitvoer gebring kan word en ons kan dit met vrymoedigheid aanbeveel. Die formaat werk lekker in die praktyk en deurstaan beslis die toets van tyd. Baie dankie aan Werner en Tania Schultz en span, wat hierdie materiaal met soveel sorg skep en beskikbaar stel.
Dit is elke jaar vir ons kosbaar om te sien hoe opgewonde aanbieders en kinders is om God te ontdek deur temas wat ons jare gelede reeds geskryf het en wat vandag steeds relevant is. Dit is net weer vir ons ’n bevestiging dat God se Woord lewend en kragtig is en gister, vandag en tot ewigheid vasstaan.
Projekleier
Berthold Alheit 082 806 6121 of
Projekkoördineerder/Personeellid
Werner Schultz 084 645 1173 of
Wounded Healer
Jare gelede vat my pa ons om diepsee te gaan visvang. Ons is jonk en opgewonde om uiteindelik saam met die wilde vissermanne op ’n tjokka-boot die diepsee in te vaar. Die kaptein is gebou soos ’n “bar fridge” met so lang grys baard. Die reuk van Peter Stuyvesant Blou hang so oor die boot voor ons die oggend dou voordag van Jeffreysbaai se strand die groot branders gaan trotseer. Sommer vinnig het ek besef ek is nou groot. Geen lifejackets of “head count” nie, nee. Ons is die manne. Kyk, jy weet jy is saam met ’n goeie kaptein op die see as hy met die een hand die boot se “throttle full blast” kan druk en nog Peter Blou aansteek. Alles terwyl die 6 voet branders ons in die gesig staar. Ons oor ’n paar groot branders, maar die laaste een was die see se swanesang en ons ondergang. Ons tref die reuse brander reg van voor en meeste van die bemanning eindig op die dek. Ek val ook tot teenaan die twee 120 perdekrag Mariner engines. Gelukkig nog op die boot.
En toe die trane wil loop tel die kort koddige oom my op en sê die woorde wat ek nooit sal vergeet nie, “Cowboys don’t cry”. Ek het myself afgeskud en die beste dag op die see saam met my pa gehad.
Ongelukkig dra baie van ons hierdie waardevolle lewensles by ons geloof in. Ons word ouers met die leun dat hierdie les orals en altyd van toepassing is. Dis bloot nie waar nie. Jesus self stuur ons na die wêreld toe met ’n boodskap. En so dikwels hang die impak van hierdie boodskap af van ons eie broosheid. Hierdie komende Sondag gesels ons oor die waarde om ons eie storie met waagmoed te leef. Hoe lyk dit as gelowiges die Here vertrou met hulle lewens-storie? Nooi asseblief mense wat jy dink nodig het om te dink oor hulle lewens. Ons is oop en almal is welkom.
Groete,
Deon Els

Tertia vertel
Die Graad 10 meisies was ‘n rukkie gelede by Pêrelprojek om te help met die regpak van die biblioteek. Daardie Saterdag was ook Internasionale Biblioteekdag. Hier is hoe Tertia du Plessis dit beleef het:
“Dit was vir my so ‘n wonderlike ervaring gewees. Dit was baie anders as wat ek verwag het, maar toe ons op daardie reënerige dag by die klein houthuisie van die Sentrum van Hoop aankom, het ek besef dat daar by hierdie projek mense betrokke is wat regtig ‘n verskil in ander se lewens wil maak. Ons het al die boeke uitgesorteer en reggepak volgens genres. Die volwasse boeke op die hoogste rakke en die kinderboeke onder. Dagstukkies en Bybels het hul eie rak gekry.
Dit was vir my so lekker om te dink dat ietsie klein soos boeke regpak tog ‘n verskil sou maak in iemand anders se lewe. Dit was heerlik om ‘n Saterdagoggend so te spandeer en ek sal graag meer betrokke wil raak."
Indien jy meer wil weet van hierdie projek, kontak vir Frederike van Schalkwyk by
Moontlike nuwe projek
Bybel gebaseerde geletterdheid oefen 'n kragtige invloed uit op beide sosiale en geestelike waardes. Lewens word getransformeer deur die evangelie te leer en te vertrou, en nuwe geleenthede vir evangelisasie ontstaan natuurlik uit die opwinding om God se Woord te leer lees. Die geletterdheid verhoog opvoedkundige vlakke en lewenstandaarde regdeur gemeenskappe.
In ‘n Bybel gebaseerde geletterdheidsprogram leer mense om te lees en om te skryf deur Bybelse teks te gebruik. Ek ondersoek die moontlikheid om ‘n Uitreikprojek te begin wat die probleem kan help aanspreek. Indien jy wil betrokke raak, kontak asseblief vir my by 081 798 3242 of
Jurie Joubert
Sluit die verlede oop met die oog op die toekoms
Hoe dink jy oor die toekoms? Wat is jou drome vir jouself, vir jou familie, vir jou gemeente, vir die gemeenskap? Dit is belangrik om na te dink oor die toekoms, maar ons weet dat ons nie die toekoms kan ingaan sonder om na te dink oor die verlede nie. Ons moet bereid wees om die verlede “oop te sluit.” Dit is waaroor ons lees in die lang gebed van die Leviete in Nehemia 9:15-21, 38. Hulle besef dat God in die verlede by hulle was en vir hulle gesorg het (v 15). Hulle besef dat hulle foute gemaak het en eerlik voor die Here moet wees (vv 16-17a).
Maar hulle besef ook dat ons Here die God van die toekoms is – genadig, barmhartig, geduldig en vol liefde (v 17). Hy belowe dat Sy Gees by ons sal wees (v 20). Is jy bereid om saam met die Here verantwoordelikheid vir die toekoms te neem (v 38)?
Ons begin eerskomende Sondag met ’n nuwe preekreeks van vyf Sondae met die oorhoofse tema “Sleutels vir die toekoms”. Ons is opgewonde om die pad saam met jou te stap.
Sien jou Sondag.
Danie O’Kennedy
Nuwe lidmater kuier saam
Vir enige vrae kontak asseblief vir Olivia by
Helderberg Uitreik Jaarvergadering:
Bevestig asseblief by Melanie Smit deur vir haar e-pos te stuur na
Gedurende die week:
Hierdie week begin ons weer met al die gewone byeenkomste:
Dinsdae kom die Gebedsgroep bymekaar in die Kapel van 06:00-06:45 en bid oa vir ons gemeente en ons land. Danie O'Kennedy vra dat jy asseblief saam kom bid al is dit net een keer per maand.
Elke tweede Woensdag is dit die Kreatiewe Kuiergroep om 10:00 in die Tent, kontak vir Magdel by 082 400 0903 indien jy meer wil weet.
Bybelstudie is op Donderdae. As jy wil inskakel by ‘n groep kontak vir Ina van Niekerk by 082 578 9893 (dames) of Johann Swart by 082 928 7596 (mans). Die groepe kom 10:00 bymekaar en 08:15 is daar ‘n Zoom-byeenkoms.
Vrydae is dit die Mannebediening wat om 06:00 saam bid in die Kapel. Kontak vir Jaco by 083 675 5687 of Leon by 081 019 0710 indien jy meer wil weet.
In wie se diens is God?
Dink jy aan God as jou beste vriend, of as die Almagtige God? Is God jou helper, of die Een wat jy aanbid? Dit kan al die moontlikhede gelyktydig wees, maar ons tree dikwels op asof God eintlik in ons diens is. Veral so aan die begin van ’n nuwe kwartaal wil ons graag vir God inspan om dinge vir ons glad te laat verloop.
In wie se diens is God? Beslis nie in jou of my diens nie. Waarom tree ons dan so op?
As ek mense vra wie hulle gunsteling karakter in die Bybel is, en jy mag nie Jesus kies nie, is die antwoord gereeld, Dawid. Dawid, omdat ons met hom kan identifiseer. Ons hou van sy passie en ons verstaan sy menslikheid en foute.
By die eredienste van hierdie Sondag lees ons uit 2 Samuel 6 oor Dawid wat die verbondsark na Jerusalem bring. Weer hang Dawid se onderrok uit – of het hy dalk vergeet om dit aan te trek?
Dawid wil vir God in hierdie stukkie geskiedenis gebruik, maar ontdek dan weer met groot ontsag wie God regtig is. Ek nooi jou om Sondag saam met Dawid hierdie ervaring te beleef.
Dit is die eerste Sondag van die derde kwartaal. Ons is in die middel van die winter, maar in hierdie kwartaal op pad na die lente toe. Kom reis saam.
Rampverligting
Indien jy weet van ‘n area waar hulp benodig word, kontak asseblief vir Anna-Marie Beytell, projekleier van die Rampfonds, by 082 776 1717 of
Madibadag inisiatief
Kom neem gerus deel aan hierdie geleentheide. Dit maak 'n groot verskil vir die projek.
Borg-'n-stoel projek
Een van ons lidmate het hierdie projek begin vir die stoele in die Kapel. Die Kapel lyk nou so pragtig en daar is ‘n groot behoefte om na soveel jare die stoele ook weer nuut oor te trek. Aangesien die rame nog baie goed is en daar ‘n borg vir die materiaal is, hoef ons net die arbeid te betaal van R250 per stoel.
Daar is 100 stoele en ons vra of jy ook graag ‘n stoel of twee wil borg? Jy kan inbetaal by die gemeente se bankrekening of SnapScan (vir albei kan jy net hier kliek).
Baie dankie vir Amanda Ferreira wat hierdie projek behartig.
Hoe het die helde geval?
Mense het verskillende helde op aarde – vanaf sporthelde tot hul eie ouers. Maar ons weet dat aardse helde ons kan teleurstel. In 2 Samuel 1:17-27 lees ons ’n treurlied van Dawid oor koning Saul en sy seun Jonatan. Twee keer lees ons die woorde “Hoe het die helde geval” (vv 25 en 27).
Ons maak soms te veel van aardse helde. Die eintlike Held is God. Hy is die enigste Een wat nie kan val nie.
Kom kuier saam hierdie Sondag.
Hoekom Here?
Ons dank die Here dat hy vir ons goed was. Voor die verkiesing het ons baie benoud gebid, want daar is soveel dinge wat vir ons onseker was. Ons weet dat aardse regeerders kom en gaan, maar is oortuig daarvan dat ons God was, en is, en sal wees. Maar alles werk nie altyd vir ons uit soos ons daarvan hou nie, of soos ons verwag nie. Dit maak dat ons met baie vrae in ons rondloop. Party sê dat as ons glo mag ons nie vrae vra nie, ander sê weer dat God moet of sal ons antwoord. Daar is selfs die wat sekere beloftes in die Bybel op hulle self van toepassing maak en dan sê God het nie ‘n ander keuse nie, Hy moet nie net vir ons antwoord nie, maar Hy moet ook doen wat ons vra.
Ons weet egter uit ervaring uit dat dit nie so werk nie. Maar wat doen ek nou met al die vrae wat in my gedagtes aanhou maal? Wat doen ek met die onsekerhede van die lewe, die seer en teleurstellings wat ek nie verstaan nie? Hierdie Sondag gaan ons hierdie vrae vir God vra en vra dat Hy uit sy Woord vir ons antwoord. Kom aanbid God saam met ons en beleef ook iets van die warm gemeenskap van gelowiges.

Helderberg op Spotify
Dis reg, ons is ook nou op Spotify te vind. Jy kan net die toep gaan aflaai en soek dan vir Helderberg Gemeente onder potgooi (podcast). Dit is heeltemal gratis. Jy betaal eers as jy ‘n “playlist” wil opstel, maar dis nie nodig om dit te doen nie. Ons gaan elke week ook die klank van die voorafopname van die preek hier oplaai.
Daar is reeds ‘n hele klompie preke al gelaai, so gaan luister gerus. Ek luister graag na ‘n potgooi terwyl ek wasgoed ophang of kosmaak. Nou gaan dit eers lekker wees.
