Helderberg Uitreik / Helderberg Outreach
(Vennootskap tussen Helderberg Gemeente en Omgee Gemeente Somerset-Wes)
Tereo Skool Broodjieprojek
Tereo Skool, geleë te Victoriastraat 91 in Somerset-Wes, is ‘n geloofsgebaseerde gemeenskapskool vir straatkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar.
Tereo Skool is in 1999 gestig as ‘n nie-winsgewende organisasie. Die skool sien om na straatkinders in die Helderbergkom en bied vir hulle die geleentheid om onderrig te ontvang in ‘n plek van veiligheid, waar hulle gereed gemaak word vir hoofstroom onderrig. Die skool bied ook daaglikse maaltye, klere en emosionele ondersteuning aan die kinders. Tereo Skool se hoofdoel is om vir hierdie kosbare weerlose kinders ‘n kans te gee om onderrig te ontvang en sodoende die gaping te oorbrug tussen die huidige ongeskoolde status en hoofstroom onderrig. Deur die opvoedkundige aspekte en sosiale behoeftes van die kinders aan te spreek, word die inskakeling van die kinders in die groter gemeenskap bevorder.
Besoek gerus Tereo Skool se webwerf vir meer inligting: https://tereo.org/
Behoefte: Vrywilligers wat brood en smeergoed sal skenk vir Tereo Skool gedurende 2025.
Hierdie is ‘n inisiatief van individue, besighede en kerke. Helderberg Uitreik se Hawelose projekte is ook deel hiervan om elke Maandag en Woensdag tydens die skoolkwartale, brood en smeergoed vir toebroodjies vir die 120 kinders van Tereo Skool te verskaf.
Die skedule vir 2025 word tans opgestel. Ons is dringend op soek na nuwe skenkers, om ons in staat te stel om die aantal beurte te verminder en/of die koste te deel.
Kontak asseblief vir Willie Theron by 076 034 9071 op WhatsApp of vir Reinet Prosch by 083 443 2429, indien jy kans sien om ‘n skenker te wees.
Seniorsorg sê dankie
Seniorsorg wil al ons lidmate van Omgee- en Helderberg Gemeente bedank vir jul oop harte en skenkings om ons Kersbokse vol te maak. Ons waardeer elke bydrae en die jaar verbly ons die senior burgers in Huis Marie Louw. Ons het besluit om die oorskot aan ons ander tehuis wat Helderberg Uitreik ondersteun te skenk. Die geskenke sal gaan aan Huis Esperanza in die Strand. Ons is so bly dat ons met jul hulp die harte van baie eensame inwoners in die tehuise te kan verbly. Seniorsorg wil ook ons gereelde finansiële donateurs bedank wat deur die jaar skenkings maak. Geseënde Kersfees aan jou en jou geliefdes.
Elna Ludik
Helderberg Uitreik Reünie
Die Helderberg Uitreik Reünie was so ‘n lekkerte. Groot vreugdes om mekaar weer te sien, heerlike stories gedeel van hoe die Here met ons en deur gewerk het, en die onthou en eer van hulle wat nie meer saam met ons is nie. Elsabe Louw (Bulgarye Projek) is onlangs oorlede en dit was ‘n voorreg om vir Jack en Lora saam met ons te hê vir die geleentheid.
Helderberg Uitreik het die geleentheid gehad om oud-personeellede, oud-bestuurders en oud-bestuurslede te vereer vir hul passie vir die Here wat hulle uitgeleef het tydens hul tyd by Helderberg Uitreik. Ons is diep onder die indruk van die werk wat elkeen van hulle gedoen het, gehoorsaam aan hulle roeping van die Here. Ons wat na hulle kom, staan op die skouers van reuse.
Janlu Kuyler, die eerste bestuurder van Helderberg Uitreik, het ‘n lekker verlangbrief geskryf wat ons ver terug gevat het in die geskiedenis van Helderberg Uitreik. Lees gerus die brief hieronder.
Beste Helderberg Uitreik en Reunie-gangers.
Ek sou so graag saam met julle wou wees vandag – om stories te hoor en ou vriende weer te sien. Maar ongelukkig is dit nie vir my moontlik nie. Robertson is ‘n dinamiese plek en 3 dogters hou vir my en Suzanne taamlik besig!
20 jaar gelede het ons almal baie anders gelyk!!
Ek was jonk, ongetroud, lomp en dom in die wêreld. Met ‘n groot entoesiasme wat net die Heilige Gees kon bewerk, het ek gedink ons kan die wêreld verander! En op wonderlike maniere, hét ons die wêreld verander. Ek eer die Here vir daardie gedagte!
As ek dink aan Helderberg Uitreik, dink ek aan soveel fantastiese dinge.
Ek onthou wonderlike uitreike Mosambiek toe. Hoe ek saam met ‘n spannetjie opgevlieg het met ‘n klein vliegtuigie, hard gewerk het en baie gespeel en gelag het. Dit was een van 8 kere wat ek saam met die gemeente opgereis het en soveel kosbare lesse geleer het. Die eerste keer wat ek by Danie en Bonny gearriveer het, het hulle nooit die e-pos gekry dat ek op pad is nie... Ek onthou die maandelikse rubriek wat gevolg het – Pale kerk. Onthou julle? Hoe die Mosambiekers kerk hou in ‘n pale kerkie en almal wat buite verbystap hoor en sien die Evangelie en staan sommer stil om te luister. Dan preek die abusa vir hulle in die kerk maar ook vir hulle wat buite staan en luister. So ‘n diep indruk op my gemaak van kontekstuele
inspraak wat die Evangelie van Jesus in ons gemeenskappe het. Ek onthou die opofferings wat sendelinge maak om Jesus aan mense te kommunikeer maar ook te demonstreer. Jongmense en ou mense wat hulle lewens in Suid-Afrika opoffer om ‘n verskil te maak in Mosambiek.
Ek onthou die Geloofoffer fonds – en die 600 seels wat ek destyds op elke koevert moes plak!!! - en die Waar Behoefte Bestaan fonds wat meer as dikwels gehelp het waar hulp nodig was. En ek weet eendag in die hemel is daar ‘n hele groep Mosambiekers wat hulle krone voor Jesus se troon gaan neersit. Juis omdat Helderberg Uitreik sendelinge kon uitstuur. Ek dink nou nog terug aan daardie kosbare tye in Mosambiek as fondasie tye. Dit het ‘n geestelike fondasie in my gelê waarop ek die res van my bediening kon bou.
Ek dink aan ons Uitreikfeeste en al die sendelinge wat kom kuier het. Ek onthou hoe Lora in die paadjie afgehardloop het en in my arms gespring het en hoe ek en sy al huilende gestaan en dans het terwyl die foto van haar as baba en kleuter op die skerms vertoon. Maggies, nou loop my trane sommer! Elsabe, jy het jou hart uitgewoed in Bulgarye! Rus in vrede, my sendingsussie.
Ek dink aan die Ontwikkelingsentrum en die kosbare siele wat hulle gehelp het. Hoeveel lekker tye het ons nie gehad en altyd lekker gelag nie. Ek wou net altyd kom kuier wanneer die studente middagetes of aandetes voorberei het. Ag jinne tog, die jeugdigheid het lank gevat om uit
my uit te groei. Ek gebruik nou nog die skerp chef’s knife wat ek present gekry het as afskeidsgeskenk toe ek Ficksburg toe beroep is. En die goeie raad: Koop altyd die goedkoopste glase, want dit breek maklik!
En hoe kan ek nié vir Mama Bôllo en die Dienssentrum ooms en tannies onthou nie? Tannie Alta en haar minions wat net aanhou en aanhou en aanhou. En tannie Alta wat net planne maak en nog en nog en nog het om uit te deel. Julle het so diep impak op my gemaak.
Ek onthou die bestuurspan wat my mooi gehelp het toe ek aanvanklik Helderberg Uitreik moes registreer. Ek onthou die video’s wat ek in Bertus van Schalkwyk se garage moes maak om inligting deur te gee elke Sondag tydens die erediens. Ek onthou die kameraderie saam met Danie Moller en daardie lekker trip deur Namibië Danie.
En ek onthou hoe ek julle almal gemis het toe ek destyds doer ver in die Vrystaat gesit het. Alleen.
Koud.
Onervare.
Maar hoe julle my vertroue gegee het om nie die Heilige Gees entoesiasme te verloor nie. En hoe daardie selfvertroue my gehelp het om elke dag ‘n sukses te maak van my lewe en bediening. Op baie maniere was Helderberg Gemeente en Helderberg Uitreik ‘n fondasie van my lewe. Vandag, saam met Suzanne en my 3 pragtige meisiekinders, leef ek steeds die waardes uit wat ek by julle geleer het. Kan ek steeds my passie vir God en my hart vir mense sien in die bediening wat die Here vir my oopgemaak het die afgelope 20 jaar.
Mag Helderberg Uitreik in die volgende seisoen van uitreik en diens, nog meer groei en nog meer Jesus sigbaar maak in ‘n wêreld wat soms verward is oor wie Jesus werklik is. Mag julle Petrus en Johannes se getuienis deel in Hand 4:12 dat daar geen ander naam op die aarde gegee is waardeur God vir mense verlossing wil gee nie. Dat Jesus ons Hoëpriester is wat vir ons ‘n vaste en stewige lewensanker anderkant die voorhangsel gaan vasmaak het, Hebr 6:19. Mag julle vra vir die nasies, Ps. 2:8 en mag julle in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld dissipels maak vir ons Koning Jesus.
Hier is op goeie fondasies, 20 jaar se uitreik en verskil maak en ‘n entoesiasme wat net van Jesus af kom.
Lief vir julle!!
Janlu
Ons het ook terugvoer gekry van John en Stephanie Roux (Mosambiek Geletterdheid):
Liewe Helderberg gemeente
Baie dankie vir die heerlike ete en kuier by julle. Ek en John kon weer al die mooi herinneringe oproep en opnuut waardeer hoe die Here hierdie gemeente gebruik het om ons te seën en op te bou.
Baie dankie vir die" geur van die lewe" die sout en peper potjies en die heerlike heuning wat ons as geskenke gekry het.
Ons wil ook sommer weer vir elke predikant geestelike leier en kosbare gemeentelid uit ons verlede bedank vir julle liefde, tyd en gebede tydens ons lidmaatskap en ons tyd in die sending.
Sonder julle sou ons nie wees nie.
Liefde,
John en Stephanie Roux
Anna se huis Yzerfontein
Baie dankie aan elke sendeling, personeellid, bestuurder, bestuurslid en medewerker van Helderberg Uitreik wat deur die jare seker gemaak het dat ons die woorde van Psalm 34 vers 8 in die New International Version kan waar maak: Taste and see that the Lord is good; blessed is the one who takes refuge in him.
Melanie Smit
Helderberg Uitreik Bestuurder
Bybelverspreiding en Hemel-op-Aarde Projek
Dié projek het hande gevat met die Hemel-op-Aarde projek en 106 Bybels geskenk aan elkeen van die skooltjies wat deel is van hulle projek. Die Bybels gaan gegee word saam met die Kuns vir Koningskleuters / Crafts for Kingdom Kids wat pas gepubliseer is.
Daar is Arikaans, Engels en Xhosa Bybels gegee. Hier is Melanie Smit (Uitreikbestuurder) en Grazie Beets (projekleier van Bybelverspreiding) besig om die Bybels aan te ry.
Bybelverspreiding
Die BikersKerk het dit goed gedink om uit te reik na die mede-motorfietsryers wat onder alle weerstoestand huis aflewerings doen. Die wat onder die vaandel van Checkers se Sixty60 ry. Een van die behoeftes wat aangespreek word, is om Bybels aan hulle te voorsien. Sover is Engels en Xhosa Bybels uitgedeel. Blessing, 'n pastoor van die plaaslike Light of the world ministries wat ook 'n Sixty60 drywer is, het die Xhosa Bybels, namens sy gemeente in ontvangs geneem.
Daar bly natuurlik 'n behoefte aan nog Bybels, maar ons is so dankbaar dat ons die Woord kan deel.
– Schalk Herholdt
Helderberg Babas
Friends forever
Baie maal doen die Here iets agter die skerms en wanneer die gordyn oopgaan en die storie homself voor jou oë afspeel weet jy net dat hierdie nie die werk van mense-hande was nie. En dit hoef nie ‘n aardskuddende storie te wees nie. Soms is dit net verrassend!
So het ons by Helderberg Babas op 14 April hierdie jaar ‘n dierbare vyf weke oue seuntjie, Jamie*, van die hospitaal af huis toe gebring. En op 29 April het ons ‘n kosbare, dag oue Oliver verwelkom. Saam met ’n pragtige prinsessie, Anathi, het die drie ons huis en ons harte volgemaak. Teen begin Augustus is Anathi by haar aanneemouers geplaas terwyl die twee seuntjies nog ’n paar weke langer by ons gebly het.
Ek neem baie foto’s en video’s van die babas in ons sorg, sodat ek die kosbare mylpale wat die aanneemouers van hulle baba mis vir hulle kan vasvang. Ek neem individuele foto’s van elke baba wat saam met hulle huis toe gaan, maar ek neem ook die babas wat gelyktydig in ons sorg was saam met mekaar af, sommer net vir ons eie rekords. So het ek ’n paar kosbare foto’s en video’s van Jamie en Oliver afgeneem. Die verwagting is egter nie dat die babas wat saam by ons was se paaie ooit in die toekoms sal kruis nie.
Teen einde Augustus was dit tyd vir Oliver om huis toe te gaan. Hy is by ’n oulike ouerpaar geplaas en hy was sommer gou tuis in sy nuwe omstandighede. Ons kon egter agterkom dat Jamie sy “boetie” mis.
Toe ons drie weke later Jamie se ouers ontmoet toe ons hom aan hulle oorhandig, maak die mamma iewers tydens die gesprek ’n opmerking: “We can tell Oliver’s dad that we can now arrange a play date for the boys.”
My ore spits. ”Oliver?”, vra ek verbaas. “Yes”, sê die mamma, the little boy that was with you until recently.” ... “You know each other...?”, gaan my verbasing voort. “Yes, we were in the same adoption preparation group and have become good friends.”
Wat is die kans dat hierdie twee seuntjies se aanneemouers mekaar leer ken het nog maande voordat hulle gebore is? En wat is die kans dat albei seuntjies by ons kom bly het voordat hulle na hulle aanneemouers toe is? En dat die ouers kontak gehou het en nou “play dates” vir die tweetjies gaan reël?
Eendag, wanneer die seuntjies ouer is en vrae begin vra oor waar hulle was voordat hulle aangeneem is, kan ek vir die ouers die foto’s aanstuur waar hulle saam hier by Helderberg Babas was en kan die ouers vir hulle verduidelik dat oom Werner en tannie Tania hulle albei se veiligheidsouers was. Hulle sal hoor dat hulle van die begin af maatjies was wat ’n gedeelte ervaring by Helderberg Babas gehad het.
Dit is vir my so ’n mooi storie! So verrassend! Soos net die Here dit kon skryf en laat uitspeel.
(*Skuilname is vir die babas gebruik.)
Projekleier: Karin Alheit by 082 909 0204 of
Helderberg Babas bestuurder en Tydelik Veilige Sorg-ouer: Tania Schultz 084 717 0660 of