1 Samuel 17
As gelowiges bely ons dat die Here Jesus Christus ons vrede, ons lewe en ons hoop is. Trouens, ons gaan selfs so ver om te sê dat ons enigste troos in lewe en dood is om aan Jesus Christus te behoort. Maar daar is ook ‘n ander stem, ‘n arrogante stem wat ons uitdaag om te sê: Nee, my geluk word bepaal deur die grootte van my bankrekening, deur waar ek woon, deur dit wat ek doen en bereik het. Daardie stem daag ons uit om die teendeel te bewys, verkleineer ons met opmerkings soos: Dit is seker goed en wel om in die Here te glo, maar dit gaan jou nie ver bring nie; wat die toekoms verseker en hoop gee, is dit wat jy het. Jy koop geluk; jy ontvang dit nie. Ons word deur die stem oorweldig en staan soms verleë en bang voor hierdie stem.

Dit is eintlik waaroor 1 Samuel 17 gaan: Die heidendom wat uitdagend teenoor God se kinders gaan stelling inneem en sê: Kom vat ons aan! Die hartseer is dat God se kinders soos bangbroeke in hul tente gaan wegkruip. Saul is ook ten spyte van sy grootte bang om Goliat aan te vat. Hy het al lankal sy vertroue in God verloor. Die volk sit met die gesalfde van die Here in hul midde wat vra vir leiding, maar hy het nie die moed nie.

Gelukkig is daar ‘n Dawid wat proefondervindelik weet wat dit is om saam met God ‘n pad te loop. Hy het die moed om op te staan en te verklaar dat die oorlog aan die Here behoort en dat God die Filistyne in hul mag gaan oorgee. Dit gaan dus nie eintlik oor Goliat of Dawid nie, maar oor God wat veel groter as die magte van hierdie wêreld is.

Wie of wat is die Goliat in jou lewe wat jou oorweldig?

Top