Helderberg is ’n groot gemeente waar sommige lidmate wegraak in die massa. In die gesprekke oor die “restart proses” het talle lidmate die behoefte uitgespreek dat hulle êrens wil behoort, dat hulle op soek is na ’n plek waar hulle waarlik kan tuiskom. Lidmate het ook ’n intense behoefte om geestelik te groei en te leer saam met medegelowiges. Hoe kan ons mekaar help om werklik te behoort en om geestelik te groei? Jesus Christus het sy bediening op aarde met ’n kleingroep begin. Hy het twaalf dissipels gekies en ’n pad met hulle gestap. Die eerste gemeentes in die NT was eintlik maar kleingroepe wat in huise bymekaar gekom het. Kleingroepe is werklik ’n plek waar jy die wil van God op talle terreine kan uitleef (vgl Kol 3:12-17).>>

Dit is daarom ons droom dat elke lidmaat in Helderberg deel van ’n kleingroep sal wees. Tans is die meeste van ons kinders en tieners deel van ’n kleingroep wat weekliks byeenkom en ons sien die vrug daarvan. Buiten die jeuggroepe is daar ’n verskeidenheid van groepe in ons gemeente: omgeegroepe, Bybelstudiegroepe, dissipelskap groepe, gebedsgroepe, uitreikprojekspanne, wyksgroepe, bedieningsgroepe, beradingsgroepe, ens.

Wat is ’n omgeegroep?
’n Omgeegroep is ’n kleingroep van ongeveer 10 persone of 5 gesinne wat op ’n gereelde basis op ’n tyd en plek van hulle keuse bymekaar kom. Enige persoon kan lid van omgeegroep word. Jy maak self die keuse of jy deel van die groep wil wees of nie. Daar is talle kleingroepe waar families geskei word volgens ouderdom, geslag of belangstellings, maar by die omgeebediening is dit ons wens dat huwelikspare of gesinne saam betrokke sal wees. Dit is ons droom dat omgeegroepe nie net op een element van ons gemeentebediening sal fokus nie, maar dat die volgende vier elemente in balans sal wees: (1) Om mekaar onderlinge te versorg; (2) Om saam met mekaar God te aanbid; (3) Om mekaar op te bou uit die Woord van God; (4) Om mekaar te ondersteun sodat ons kan uitreik na ’n wêreld in nood. Ons het gevind dat daar werklik geestelike groei in groepe plaasvind wanneer al vier elemente uitgeleef word.

Hoe kan ek lid van ’n omgeegroep word?
Die maklikste is om iemand te kontak wat reeds deel van ’n omgeegroep is óf kontak die kerkkantoor by 021-851 5582 om jou naam op te gee óf stuur ’n e-pos aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. met al jou besonderhede. Mari van der Bank kom elke Dinsdag na die kerkkantoor om persone by groepe in te deel.

Kan ek ’n nuwe groep begin?
Ons is altyd op soek na leiers om nuwe groepe te begin. Dalk het die Here jou geroep om ’n nuwe groep te begin onder jou vriendekring of in jou omgewing. Ons sal jou ondersteun met materiaal en persoonlike begeleiding.

Kontak vir Danie O’Kennedy (083 375 8441; Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) of Herman du Plessis (078 456 6875; Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.).

Top