"Don't judge me by my face
by my religion or by my race
Don't laugh at what I wear
or how I look
Don't sit there and stare
look a little deeper..."
(Uit: Look a little deeper, deur Jasmyn Nordstrom)

Ten spyte van die feit dat ons voor ons siele wéét dat ons met skeefgetrekte voorveronderstellings en wanopvattings na mense kyk, sukkel ons steeds om ons genade-bril op te sit en daardie bril van genade op te hóú! Dit is dalk makliker om iemand in 'n boksie te plaas, want dan het ons 'n opinie - en om een of ander rede dink ons somtyds ons móét oor alles opinies hê. Dalk het dit iets met beheer te doen?

Wat hierdie probleem nog méér problematies maak, is dat ons ook met "beperkte oë" na onsself kyk. Ons kyk 'n klomp goed binne in onsself mis. Blinde kolle. Slegte goed...maar ook goeie goed.

Die lewe begin al hoe beter word hoe meer ek dit reg kry om met God se oë te kyk. God kyk verby die oppervlak. God se oë sien altyd die potensiaal raak. God se oë sien altyd die hart raak wat Hy in die eerste plek geskape het. God se oë is 'n "jy-is-my-geliefdes-kind" oë. Ten spyte van die feit dat Dawid somtyds erg droog gemaak het (net soos elkeen van ons), word daar steeds na hom verwys as "man na God se hart". Dís nou iets om oor opgewonde te raak!!

Top