Hoop in ‘n nuwe gemeenskap
Hoop Geloofsgemeenskap / Hope Faith Community is ‘n kerkplant inisiatief van Helderberg Gemeente en as projek by Helderberg Uitreik geregistreer. Ons is ‘n geloofsgemeenskap wat op ‘n vars manier die liefde en hoop van Jesus probeer lewe.

Ons kom Sondae om 09:00 byeen in die saal van die Curro Sitari skool en bedien veral die groeiende gemeenskap aan die westekant van Somerset-Wes in die omgewing van Curro Sitari.

“Hoop” is ‘n warm en gasvrye tuiste waar ‘n verskeidenheid van mense God met vrymoedigheid kan aanbid. Ons stel geen voorwaardes of vereistes om deel te word van ons gemeenskap en ons reis saam met God nie. Almal is welkom. Kom kuier gerus. Vertel ook van ons vir vriende of familie wat jy dink by “Hoop” sal tuis voel.>>

Ons storie

Helderberg Gemeente het die behoefte raakgesien aan ‘n nuwe en eiesoortige gemeente wat ‘n geestelike tuiste kan bied aan die mense van die omgewing, maar veral ook aan mense wat om verskeie redes nie tuis voel in die gevestigde kerke nie. ‘n Vestigingspan het in Januarie 2017 afgeskop met byeenkomste in die saal van Curro Sitari en in November 2017 het die eerste verkose leierspan uit die nuwe geloofsgemeenskap die leierskap en verantwoordelikheid oorgeneem. Hoop Geloofsgemeenskap funksioneer as ‘n onafhanklike geloofsgemeenskap met noue bande en ondersteuning van die NG Kerk via Helderberg Gemeente en Helderberg Uitreik. 50% van Danie Möller se tyd word by Helderberg gekoop en hy is leraar van ons nuwe geloofsgemeenskap.

Verhoudings
Verhoudings is vir ons belangrik. Ons verhouding met God en met mekaar. Jy sal dit sien in ons byeenkomste. Ons kom bymekaar rondom tafels. Ons is gasvry en eet, drink en gesels saam. Ons is opgewonde daaroor dat die Skeppergod met ons in ‘n verhouding wil wees. Ons respekteer en geniet die feit dat elkeen van ons se reis met God uniek is. Ons skep daarom ruimte vir mekaar in ons byeenkomste en styl van aanbidding. Deur kleingroepe wat in die week bymekaarkom in die omliggende landgoed, bou ons verder aan ons verhouding met God en met mekaar. Ons verhouding met die gemeenskap waarbinne ons leef en werk, is vir ons net so belangrik. Ons verstaan dat ons hier is om die hele gemeenskap te dien met God se onselfsugtige liefde.
Die beste is natuurlik, kom kuier by HGG en ervaar self die hartlikheid en gasvryheid, omgee en liefde vir mekaar.

As jy meer wil weet kontak:
Hoop Geloofsgemeenskap e-pos Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.  
Edwin Anderssen (Voorsitter van die leierspan) Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Danie Möller (geestelike leier) 083 375 8444

Top