Getuienis van ‘n gesin gehelp deur die Versorgingsfonds:

“Een aand ‘n hele paar jaar gelede het ek in my kamer gesit en gedink: Dis nou die EINDE – Wat Nog ? Dit kan nie erger nie. Waar is God? Ons gesin is verlam van vrees en kommer, my liewe sus besig om te sterf agv nierversaking, my ouers versorg ons almal fisies en finansieel. Ons lewens en alles om ons spat aan skerwe. Daar is so baie stukkies om op te tel. Hoe doen jy iets so onmoontlik? Hoe harder jy probeer, sny die skerwe jou stukkender en die pyn is groter, die wonde is groter. Jy is verlam van vrees. Waar is God dan?

My man verloor sy werk en vir 2 jaar loop hy van deur tot deur om werk te kry, stuur CV’s uit en niks positiefs gebeur nie. Hy raak stiller en stiller en later kan jy fisies sien sy menswaardigheid is weg. Ek moet my tas pak om in Johannesburg te gaan werk, want die inkomste van my halfdagpos was skaars genoeg om melk en brood op die tafel te hou. My kinders hier los! My siel is verpletter, in alles moet ek nou sterker as ooit wees, want ek bekommer my oor my ouers, suster, werklose man en kinders. Die pyn, vernedering, skande en angs is te veel. Jy moet funksioneer, maar jy kan nie eers dink nie. Ek lewe net van uur tot uur, daar is nie ʼn manier wat ek vooruit kan dink nie. Ek is nou die nek wat alles moet regop hou en bymekaar moet hou, maar hoe?>>

Daardie aand ontmoet ek die Versorgingspan wat met onselfsugtige liefde lidmate van Helderberg Gemeente help en ondersteun. Die span is sinoniem met respek, vertroue en liefde. Hulle hou jou vas en regop as jy nie meer kan nie. Hulle help jou om weer rigting en perspektief te kry. Jy voel weer menswaardig. Dis menslike mense wat jou help om al die wortels van euwel te help uitroei. Dit wat hulle aan die gemeenskap en aan my gesin teruggegee het, is nie ongelooflik nie maar gelooflik.

Die belangrikste ding in die hele proses is dat die Versorgingsfonds jou help om jouself te kan help. Met die Versorgingsfonds se hulp het ons as gesin tree vir tree op ons voete gekom. Die fonds “voed” ons fisies en geestelik. In der waarheid is dit elke persoon wat die Versorgingsfonds finansieel ondersteun en bydra wat ons help. Ons besef baie goed dat dit God se genade en liefde is wat jou toevou. Glo my, dit voel nie so as jy in die bootjie sit nie, maar dit is God. Hy is daar.

Die pad was lank met bulte en skerp draaie wat fratsongelukke in ons lewens veroorsaak het. Maar die Versorgingsfonds help jou genees. Hul offer op, hul liefde is onselfsugtig. Hulle stroop jou nie van jou menswaardigheid nie. Wees oop en eerlik met hulle, so kom jy uiteindelik by die wortel van die kwaad. Dis seer, jy raak moedeloos en opstandig.

My man word nou gediagnoseer met dimensia. Wanneer is genoeg nou genoeg? Vir lank het dit gevoel ek het al elke les geleer wat daar te leer is, maar dit stop net nie. In al hierdie tye is die Versorgingsfondsspan daar vir jou. Stadig maar seker sien jy God se Hand in alles. Stadig maar seker kom die sonskyn weer in en stadig maar seker begin jy weer lewe en lag.

Vir almal wat deel vorm van die Versorgingsfondsspan wil ons as familie net dankie sê vir julle harde werk en vir die liefde waarmee julle ons toevou, in besonder Andre en Marie du Preez wat daagliks ons nog ondersteun. Julle hulp en bystand word gerespekteer en waardeer. Deur alles kan ons sê God is hier en Hy sluimer of slaap nie. Ons dank aan die Hemelse Vader vir die gemeentelede wat omgee.”

Namens die Versorgingsfonds wil ons die leraars en gemeentelede bedank vir hulle gebede, offervaardigheid en liefde wat julle aan die Versorgingsfonds bewys om ons in staat te stel om die Gemeente se passie vir God en hart vir mense uit te leef.

Leier is Hennie Smit

Top