Ons verwar baie keer gasvryheid (“hospitality”) met vermaaklikheid (“entertaining”). “Entertaining” kan maklik spanning veroorsaak, want dit laat ‘n mens onder andere voel dat alles perfek moet wees voor jou gaste arriveer – en die perfeksie moet deurgaans (kuier met die kos, die dekor, die gesprek en die speletjies) behou word.

Gasvryheid gaan nie in die eerste plek oor perfeksie of hoe iets van buite lyk nie. Gasvryheid wil eerder iets sê soos: “Ek is nie perfek nie. My huis is nie perfek nie. Maar kom in elk geval asseblief oor en kom kuier.” Om regtig gasvry te wees, is eintlik net om iemand uit te nooi en toe te laat om hulself te wees.

Die Groot Gasheer is natuurlik die Vader wat ons telkens uitnooi om by sy voete en aan sy tafel te kom sit. Die uitnodiging bly altyd oop om met jou hart in jou hand by God te sit en vanuit hierdie plek daardie selfde ruimte vir ander te bied.

Top