Helderberg Gemeente is ‘n familie wat almal graag wil innooi, laat welkom voel en deel van die gemeente wil maak. Ons wil daar wees om mense tuis te laat voel en om die warmte van die gemeenskap van gelowiges te ervaar.

Maar gasvryheid gebeur nie net Sondae nie. Oral waar ons gasvry teenoor mekaar optree deur na mekaar te luister, deur mekaar lief te hê en te bedien, daar ontvang ons en ontmoet ons die Here Jesus Christus, en God die Vader.

Dit beteken ook om soms uit jou gemaksone te beweeg, 'n grens na ander oor te steek, en vreemdelinge welkom en veilig te laat voel.

Ons is opgewonde oor De Villiers Engelbrecht as die nuwe bedieningsleier vir Gasvryheid. Hy en sy span staan voor ‘n groot uitdaging om Helderberg se gasvryheidskultuur weer wakker te maak en uit te brei.

Omdat ons ‘n diverse gemeente is met verskillende dienste, is daar mense wie se paaie nooit kruis nie. Ons wil ‘n kultuur skep van gemeentebetrok-kenheid sodat dit dan sal oorspoel na spontane gasvryheid op Sondae. As mense lekker saamkuier, dan leer hul mekaar ook sommer beter ken en is daar ‘n groter gevoel van “behoort” by die gemeente. Ons het alreeds ‘n paar afskop planne – hou die Helderstem en webblad dop.>>

Maar om suksesvol te wees wil ons graag soveel moontlik lidmate betrokke kry by ons gasvryheid aktiwiteite. Ons benodig mense wat deel kan wees van spanne wat o.a. op ‘n Sondag by die koffiebediening leiding neem en lidmate en gaste laat tuisvoel, ons Nuwe Lidmaatbediening op die been kry, gemeentekuiers help reël, idees en planne het vir fondsinsamelings en dies meer. Dus mense wat wil help droom maar ook doeners op die grond.

Met dit alles het ons jou hulp dringend nodig – laat weet ons asseblief as jyself of iemand ken wat sal wil betrokke raak, ‘n plekkie soek om te behoort of ‘n goeie voorstel het. Enige naam en voorstel sal ons opvolg. Kom gesels gerus met Corneille Barnard daaroor.

Dankie dat jy ons help slaag om ‘n gemeente met ‘n warm hart te raak.

Top