“Bob the builder, can we fix it? Bob the builder, yes we can!” Dit is wat kinders in talle gemeentes in Suid-Afrika verlede jaar tydens Kinderpinkster gesing het. Bob die bouer was die karakter wat by elke geleentheid vir die kinders kom kuier het. Bob het die kinders telkens opgewonde gemaak met die sing van die liedjie. Die reeks wat aangebied was, is KidsXpress se publikasie, God se Extreme Makeover-plan, met die Nehemia-verhaal as basis.

God gee aan elkeen wat deur sonde stukkend gebreek is, ’n extreme makeover wanneer ons in sy Seun, Jesus, glo. Hy roep ons om sy herstelplan aan die wêreld bekend te maak en só sy geestelike huis op aarde al groter en groter te bou. God rus ons toe met geestelike gereedskap om sy plan uit te voer. Ons leer by Nehemia hoe belangrik gebed, spanwerk en God se Woord is. Ons sien ook uit na die dag wanneer ons, soos in die Extreme Makeover-program op TV, as’t ware sal uitroep: “Bus driver, move that bus!” en God se volmaakte nuwe wêreld sal sien.

100 handleidings van die reeks is landwyd vir Kinderpinkster 2017 versprei en baie kinders is hierdeur bedien. Dit was vir ons heerlik om foto’s te ontvang en te sien hoe kreatief gemeentes met die extreme makeover-tema gewerk het. Kerksale is in konstrukisie-persele omskep, kompleet met scaffolding, kruiwaens, sement en sand! Sit jou harde hoed op, Helderberg Gemeente, want tydens Kinderspinkster 2018 is dit ons kinders wat God se Extreme Makeover-plan gaan beleef!>>

KidsXpress se reeks, Die Kerk Werk Wêreld Wyd, wat in 2009 vir die eerste keer die lig gesien het, het ’n splinternuwe baadjie aan en gaan ook tydens Kinderpinkster in gemeentes aangebied word. Die reeks bestaan uit ses lesse uit Handelinge om kinders te help om getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Deur hierdie reeks sal kinders ontdek hulle is Duurgekoop deur die kruisdood van Jesus, Ingeprop in die krag van die Heilige Gees en Aangeskakel om die evangelie te verkondig. Kinders gaan op ’n virtuele reis saam met Werk Wêreld Wyd toere en word blootgestel aan verskillende lande waar die apostels die evangelie die eerste keer verkondig het. Ons besoek Israel, Etiopië, Sirië, Damaskus en Italië. Kinders word ook aangemoedig om vir elke land te bid.

Ons vertrou dat die Here die kindergebede kragtig sal beantwoord en dat daar vrede in veral Sirië en omliggende gebiede sal kom.

KidsXpress versprei lesmateriaal vir kinders tussen die ouderdomme 2-16 jaar na gemeentes, bedieninge en skole regoor Suid-Afrika en in Namibië. Die feit dat mense na 14 jaar steeds KidsXpress se materiaal gebruik laat ons in verwondering dat die Here ons toelaat om op die wyse in sy diens te kan staan.

Projekleier: Burgert le Roux

Top