Hemelvaart en Pinkster
Só anders – dit is Neels Jackson se opskrif in die Kerkbode wanneer hy oor Hemelvaart en Pinkster skryf. Die opskrif het sommer ‘n klomp emosies en gedagtes by my losgemaak.

Aan die eenkant vier ons Hemelvaart – Ons neem afskeid van Jesus. Hy gaan weg om vir ons plek voor te berei en aan God, die Vader, se regterhand te gaan sit. Hy wat God se koninkryk aan ons bekend gestel het, het Hom onttrek. Gelukkig is dit oor ‘n paar maande Kersfees. Dan vier ons darem weer Sy koms na hierdie wêreld. Intussen is Hy weg; vir sommige tot en met Sy wederkoms.

Aan die anderkant vier ons Pinkster waartydens ons juis die aktiewe teenwoordigheid van Christus vier. Hy is toe nie weg nie. Hy kom nie eers weer na vore met die viering van Kersfees nie. Ons hoef ook nie te wag tot die wederkoms nie. Hy is aktief betrokke by elkeen van ons. Hy is ook nie net daar waar ons ‘n erediens hou of saambid nie. Hy is by my huis, by my werkplek, in my motor – waar ek ookal beweeg, daar is Hy.

Jesus se belofte in Matteus 28:20 is so spesiaal: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Die manier waarop God met ons op reis is, is so verrassend en tog ook so vreemd. Dit maak dit terselfdertyd ook so spesiaal.