Psalm 23
As ʼn vliegtuig deur digte mis vlieg of in ʼn storm beland en dit is net donker wolke waar jy kyk, spring ʼn mens nie uit nie. Jy bly sit en vertrou die vlieënier dat hy/sy weet wat hy/sy doen. Hoekom doen ons dit so moeilik met God?

Die Psalmdigter wéét van die donker klowe en die gevaar. Dit is deel van die lewe. Om elke hoek en draai word jy daarmee gekonfronteer. Jy kan nie regtig daarvan wegvlug nie. Soms is onsself die oorsaak van daardie klowe; ons skep dit. Materialisme en individualisme wat onsself geskep het, oorweldig ons en is vernietigend in ons verhouding tot God, mense en op die skepping. Dit is soos ʼn diep donker kloof.>>

Die Psalmdigter begin met ʼn aangrypende belydenis: Die Here is my herder; ek ly geen gebrek nie. In sy nadenke oor God en die lewe word alles vir hom teken van God se sorg. Sy herderstaf word ʼn teken van God wat ook sy herder is en dit stel hom gerus. Die groen gras en dammetjie water word ʼn rusplek. Die broodjie wat vir hom ingepak is, word ʼn feesmaal saam met God voor die oë van sy teenstanders. Die olyfolie verfris hom en die koffiebeker laat hom net besef dat hy ʼn oorvloedige lewe lei.

Dalk moet ons Psalm 23 meer gereeld lees wanneer ons deur die storms en diep donker klowe van die lewe moet gaan.

Top