Finansiële tekort - 'n geloofsonderskeidende strategie
Ons staan voor ʼn uitdaging, ʼn groot uitdaging wat geloofsonderskeidende denke en optrede vra. Die uitdaging is ʼn verwagte tekort van R583 540-00 vir die boekjaar 2018-2019. Eintlik is dit ʼn tekort van ongeveer R1 750 000-00 indien die volgende in berekening gebring word:
I. Daar is 'n R500 000 eenmalige uitsonderlike skenking wat hier aangewend word. Verantwoordelike begrotingbeleid sou die geld buite rekening gelaat het, en nie sommer net laat verdwyn tussen al die uitgawes nie. Dit behoort vir ʼn projek spesifiek te wees, behalwe as dit geskenk is om die kerk se begroting vir 2018/19 te help klop.
II. Daar behoort ten minste nog R420 000 per jaar begroot te word vir onderhoud op die geboue, veral gegewe die feit dat ons bewus is van spesifieke tekortkominge op elektrisiteit nakoming ens.
III. Die kerkkasreserwe staan tans op R389 125. Verantwoordelike Rentmeesterskap sou +-R1,5m reserwe vereis. Die afgelope 3 jaar het die Rentmeesterspan gereeld na die komende probleem verwys, maar die kerkraad het besluit om 'n strategie te volg waar daar net beter met die Gemeente kommunikeer word oor die inkomste behoeftes, en daar is gesoek vir makliker maniere om bydraes te maak. (Soos Snapscan) Spesifieke individue is ook genader om wesenlike bydraes te maak. Die inkomste tendens wou egter net nie verbeter nie.

Geestelike leierskap vra dat die werklikheid in die oë gekyk word en geloofsonderskeidend daaroor nagedink word. Ons sal ʼn groot fout maak as ons dit bloot as ʼn finansiële of inkomste probleem hanteer. Dit is veel groter as dit.>>

 

1. Geloofsonderskeidende denke
Geloofsonderskeiding beteken heel eenvoudig: Ons vra die Godsvrae: Waarmee is God besig? Wat is die Here besig om vir ons te sê? Watter sin en doel kan ons en God saam hieraan gee? Dit beteken om met geestelike oë dwarsdeur menslike motiewe en illusies te sien tot die hart van die probleem, oftewel om uit God se perspektief daarna te kyk.
Om God se hart en wil te onderskei, is ’n proses van
I. Framing (definieer die fokus),
II. Grounding (wat is my/ons identiteit en diepste waardes?)
III. Shedding (afgee van my ego, valse aannames en vooroordele)
IV. Rooting (herverbintenis aan die tradisie waarin ons staan en die bestudering van die Skrif),
V. Listening (wie word geraak deur my besluit, na wie moet ek nog luister?)
VI. Exploring (vrye teuels aan my ‘geestelike’ verbeelding)
VII. Improving (verfyning van die opsies)
VIII. Weigthing (denkende oorweging van al die opsies)
IX. Closing (besluitneming)
X. Resting (toets die besluit deur te bepaal of dit ons vrede en nabyheid aan God gee, of bekommernis en wegbeweeg van God).

Uit Filip 1:9-12 hoor ons dat die proses van geloofsonderskeiding i) slegs kan gebeur terwyl ek liefhet, ii) saam met ander geskied, iii) plaasvind terwyl ek die dele van God se wil doen wat ek reeds ken en iv) dat dit ’n verhoudingskwessie is – ek leer God se “voorkeure” ken, omdat ek Hóm ken.

Die begrotingstekort is nie net bloot ʼn finansiële probleem of uitdaging nie, maar beslis ook ʼn saak wat ons verhouding met God, ons denke oor gemeente-wees en ons rol binne die gemeenskap raak.

2. Vrae waaroor ons geloofsonderskeidend sal moet nadink:
I. Wanneer is ʼn begroting van ʼn gemeente verantwoordelik en realisties? Is dit werklik onverantwoordelik om R8,4 miljoen plus R1, 75 miljoen, dus R10,15 miljoen van ʼn gemeente soos Helderberg met 4 810 belydende lidmate en 1900 dooplidmate (2 733 besoekpunte/huishoudings) te verwag? Dit is R2 100 per lidmaat vir ʼn jaar – ongeveer R175 per lidmaat per maand. As ons werk op 2 500 lidmate is dit R4 040 per lidmaat per jaar – ongeveer R340 per lidmaat per maand. Is dit werklik onmoontlik en onrealisties om van 2 500 lidmate te verwag om ten minste R340 per maand te gee? Indien ons redeneer dat daar eintlik uit die 4 810 lidmate net 2 000 lidmate is wat werklik betrokke is en mede-eienaarskap aanvaar en hulle bereid sal wees om ten minste R500 pm te gee – is dit R12 miljoen. Is dit onrealisties en onverantwoordelik om so te redeneer? As ons dit nie kan regkry nie, sê dit iets van ons as gemeente se verhouding met God en die waarde wat ons daaraan heg om deel te kan wees van Sy liggaam. Dalk is dit die werklike probleem.
II. Waarom gee mense nie? Is dit as gevolg van onbetrokkenheid, ongehoorsaamheid en onverskilligheid? Is dit as gevolg van wantroue in die leierskap oor hul leiding, dit waarmee hul besig is en ʼn persepsie dat geld onverantwoordelik aangewend of spandeer word? Is dit omdat hulle nie meer oor die nodige kontantvloei beskik nie? Is dit dalk dat mense onder die wanindruk verkeer dat dit eintlik finansieel goed gaan met die gemeente? Is dit dalk vir hulle beter om eerder vir ʼn Uitreikprojek of vir die Versorgingsfonds te gee as vir die gemeente? Dit mag een of twee van bogenoemde redes of ʼn kombinasie daarvan wees. Ons weet nie regtig nie.
Mense gee om drie redes vir ʼn gemeente:
• Hulle is geleer/toegerus/ingelig om te gee en gee dus uit gehoorsaamheid aan God.
• Hulle gee uit dankbaarheid vir dit wat hulle binne die gemeente beleef en sien gebeur.
• Hulle gee omdat hulle glo dat die gemeente werklik ʼn verskil maak in hul eie lewe en binne die gemeenskap.
III. Is die grootte van personeelkorps van die gemeente, veral die leraarspan, die eintlike probleem? Enige organisasie, en spesifiek ook die kerk, het ʼn verantwoordelikheid om ʼn wakende oog te hou oor die uitgawes en effektiewe benutting rondom sy personeel.
IV. Is die gemeentegetal van 6 800 lidmate nog realisties? Is die 4 810 belydende lidmate, 1900 dooplidmate en 2 733 besoekpunte/huishoudings soos dit op ons databasis gereflekteer word werklik. Dit sal ons eer moet seker maak.
V. Offervaardigheid: Word daar genoeg aandag gegee om mense in te lig oor die werklike finansiële situasie van die gemeente en genoegsame leiding gegee om ʼn kultuur van offervaardigheid te vestig?
VI. Sekularisme: Het ons die slagoffer geword van sekularisme waar diens aan God, ʼn gemeente en die gemeenskap nie meer hoog op mense se prioriteitslys is nie? Kan ons die tendens van sekularisme omdraai?
VII. Word daar genoeg aandag gegee om lidmate toe te rus en te begelei oor hul verantwoordelikheid of eienaarskap as lidmaat van die gemeente?
VIII. Is dit nie dalk tyd vir ʼn radikale omdraaistrategie as gevolg van die gemeente se bedieningstyl nie? Gee dit waarmee ons as gemeente besig is vir mense hoop en energie? Weet ons waarheen ons op pad is en is ons opgewonde daaroor? Ervaar die gemeente dat ons werklik besig is met dit waartoe die Here ons roep?
IX. Is die begin van Hoop Geloofsgemeenskap by Sitari ʼn wyse besluit? Daar is mense wat reken dat die gemeente se getalle en inkomste met die besluit geaffekteer is.

3. ʼn Paar opmerkings om oor na te dink?
1.) Personeel: Wanneer daar ʼn tekort is, is die eerste vraag gewoonlik of daar nie ten opsigte van die personeel besnoei kan word nie. Die enigste manier om werklik op ons personeeluitgawes te spaar, is om die leraarspan te verklein. Op die oomblik het ons 6 leraars, eintlik 5, want Lizette Louw is in ʼn 50% leraarspos aangestel en 50% van Danie Möller se tyd word deur Hoop Geloofsgemeenskap uitgekoop. Dit beteken dat ons werk op ʼn ratio van 1 342 lidmate of 547 besoekpunte/huishoudings per leraarspos. Een van die probleme in die gemeente is dat lidmate juis kla dat hulle nie genoeg persoonlike kontak met die leraars het nie. Hulle is inderdaad reg, want om vir 1 342 lidmate sinvol verantwoordelikheid te neem, is totaal onmoontlik. In die digitale tyd waaraan ons almal al hoe meer blootgestel word, word die soeke na persoonlike kontak en verhoudinge, veral by die kerk, net groter. Die digitale wêreld maak inligting oor alles, ook oor God en die kerk, vrylik beskikbaar, maar wat dit nie kan doen nie, is die bou van egte verhoudinge en ʼn uniek gemeenskaplike verhouding met die Here Jesus Christus. Op die oomblik is die begroting vir salarisse 70,25% van die begroting en is 'n 5% verhoging vir almal ingewerk. Die verhoging is markverwant.

I. Leraarspan: Indien ons die uitgawes rondom die leraarspan wil verminder sal ons een van die volgende aksies kon neem:
a) Met die 5 voltydse leraars te onderhandel vir ʼn salarisprysgawe van ongeveer R100 000 p.j.
b) Die twee leraars bo 60 te versoek om ʼn vervroegde pensioen te neem en 50% van hul tyd uit te koop.
c) Met een van die leraars bo 60 te onderhandel om ʼn vervroegde pensioen te neem.
d) ʼn Leraarspos te verminder en al die leraars te versoek om op die uitkyk te wees vir ander poste in die kerk en daarvoor aansoek te doen.

II. ʼn Kultuur van offervaardigheid: Ons sal op ʼn persoonlike manier, dalk in kleiner fokusgroepe, met lidmate moet gesels oor die finansies van die gemeente en hul offervaardigheid. Kommunikasie deur die e-nuusbrief, Helderstem en webblad is nie genoegsaam nie. Ons sal dit op ʼn meer persoonlike vlak moet doen.

III. Ons het die afgelope paar jaar baie ingeboet op die gemeenskap van gelowiges omdat daar nie veel gesellige gemeentelike byeenkomste was nie. Gemeentelike etes, basaars, geldinsamelingsaksies skep en bevorder gemeenskap van gelowiges en betrokkenheid.

4. Tendense ten opsigte van inkomste en uitgawes die afgelope paar jaar

5. Moontlike strategiese riglyne

I. ʼn Verbeeldingryke en kreatiewe bedieningstrategie: Die hoof van die kerk is die Here Jesus Christus en Hy is alreeds oral aan die werk, selfs in die toekoms ook. Geestelike leierskap is om saam met mense te ontdek waar God alreeds aan die werk is en om daarby aan te sluit en so deel te neem aan God se sending. Die bepalende saak is dus nie ons visie, drome of strategie nie, maar ons vermoë as geestelike leiers om saam met mense te ontdek waar God alreeds aan die werk is. Dit gee energie en hoop. Met die “Restart” het ons drie fokusareas uitgewys:

a) Ons fokus op God – GODwaarts. Ons is bewus van God se genadige teenwoordigheid by ons en by ander.
b) Ons loop ʼn pad saam met die Here Jesus Christus – METwaarts. As dissipels leer ons om te onderskei wat God wil hê en verander. Ons loop ʼn pad met mekaar en bevorder die gemeenskap van gelowiges.
c) Ons nooi ander om saam met ons dié pad te loop – UITwaarts. Ons beleef graag God se genadige teenwoordigheid saam met mense en ʼn wêreld in nood.

Ons volgende stap is om hierdie fokusse saam met die leraarspan en kerkraad in ʼn verbeeldingryke en kreatiewe strategie met ʼn gepaste bedieningstruktuur en opdragte aan die onderskeie leraars en lidmate van die gemeente te ontwikkel.

Hierdie drie fokusse behoort energie los te maak, want dit lê in die kern van gemeente wees.

Aanbeveling: Die kerkraad stel ʼn taakspan/werkgroep saam om oor so ʼn strategie en gepaste bedieningstruktuur na te dink en aan die kerkraad voor te lê op Donderdag, 3 Mei 2018

II. Fokusgroepe: Dit is tyd dat ons ʼn indringende gesprek met soveel lidmate as moontlik in fokusgroepe sal hê waartydens ons fyn sal luister, ons “nuwe fokusse” deel en lidmate aanmoedig om groter eienaarskap of mede verantwoordelikheid te neem vir dit waartoe God ons roep. Die ideaal sal wees om die fokusgroepe binne die volgende drie maande af te handel en dat ʼn lid van die kerkraad en een van die leraars by elke fokusgroep teenwoordig sal wees.
Aanbeveling: Die dagbestuur van die kerkraad reël in Mei en Junie soveel fokusgroepe as moontlik waartydens die fokusse, strategie en finansies van die gemeente bespreek kan word.

III. Gemeentelike byeenkomste: Die elektroniese en digitale ontwikkeling het die wêreld rondom ons drasties verander. Ek kan al my inkopies doen terwyl ek na my gewilde TV-program kyk; ek kan op ʼn Sondag na ʼn verskeidenheid van eredienste dwarsoor die wêreld luister; ek kan al my banksake afhandel sonder om my voete in die bank te sit; ek met al my vriende kuier op Facebook; ens. Terselfdertyd het hierdie verwikkelinge ook eensaamheid geskep. Die behoefte aan persoonlike kontak en verhoudinge word al hoe groter. Ons sal eenvoudig meer kuier geleenthede binne die gemeente moet skep wat gemeenskap van gelowiges bevorder.
Aanbeveling: Die kerkraad werf ʼn nuwe leier vir gasvryheid, vergroot die span en versoek dat daar ʼn nuwe strategie ten opsigte van gasvryheid uitgewerk sal word en aan die kerkraadsvergadering van 3 Mei 2018 voorgelê sal word.

IV. Kommunikasie: Al hierdie elektroniese en digitale ontwikkeling skep legio moontlikhede vir kommunikasie, maar maak dit ook terselfdertyd ook uiters kompleks en divers. Ons sal meer kreatief moet dink oor sinvolle kommunikasie.
Aanbeveling: Die kommunikasiespan lê op Donderdag 3 Mei ʼn strategie vir kommunikasie aan die kerkraad voor.

V. Samestelling van leraarspan: Die tradisioneel bedieningsmodel van voltydse leraars raak onbekostigbaar vir baie gemeentes en ʼn bedieningsmodel van 6 voltydse leraars vir Helderberg Gemeente is op die lang duur nie volhoubaar nie. Die NG Kerk is besig met ʼn kreatiewe proses om ander kapasiteite vir bedieningsontwikkeling en -poste te skep wat meer volhoubaar is. Die bedieningsontwikkeling behels die volgende poste:

a) Bedienaars (ouderlinge en diakens met bevoegdheid vir spesifieke bedieningsareas soos eredienste, pastoraat, jeug en familie, diakonaat, geloofsvorming, kerkplanting, Aanbidding, ens
b) “Standplaasleraars” met ʼn spesifieke bevoegdheid om as leraar diens te lewer binne ʼn missionale konteks waarvoor hy/sy opgelei is.
c) Diensleraars – gelegitimeerde leraars met ʼn spesifieke opdrag ooreenkomstig die terrein van opleiding en gawes.
d) Leraars (tweede loopbaan) – hulle is alreeds in ʼn bepaalde beroep, maar is ook geroepe om ʼn leraar te wees en ʼn gedeelte van sy/haar tyd vir die gemeente te gee.
e) Voltydse leraars.

Dit sal van 2019 moontlik wees om 2-3 voltydse leraars te hê met 1 of 2 tweede loopbaan leraars, diensleraars en bedienaars.

Aanbeveling: Die menslike hulpbronsspan, in samewerking met die dagbestuur van die kerkraad en leraarspan begin werk aan ʼn strategie om ander kapasiteite te ontwikkel, veral in die lig dat daar twee leraars binne die volgende twee jaar gaan aftree.

VI. Mobilisering van lidmate: Helderberg Gemeente se grootste bate is sy lidmate. Die Here het ons geseën met “begaafde” lidmate – lidmate met besondere gawes wat hulle van die Here ontvang het. Lidmate neem eienaarskap vir ʼn gemeente wanneer hulle beleef dat hulle raakgesien en benut word waarvoor die Here hulle toegerus het. Verbeel jou ʼn oomblik: 1 000 lidmate van Helderberg Gemeente begin om verhoudinge met nie-gelowiges of buitekerklikes te bou, nuwe geloofsgemeenskappe te vorm en mense te begelei om dissipels van die Here Jesus Christus te wees. Net die gedagte en die effek daarvan laat my met ander oë kyk na die begroting.

VII. Nuwe geloofsgemeenskappe, Bybelskool, dissipelskap skool en “spiritual direction”: Eredienste het beslis waarde as ʼn ontmoeting met God, aanbidding, om die Woord te hoor en die gemeenskap van gelowiges. Daar is beslis ook ʼn soeke na meer as net dit wat beskryf kan word as ʼn behoefte aan onderrig, kennis en geestelike leiding om erns te maak met dissipelskap en die Here se aktiewe betrokkenheid by my totale menswees te ontdek en te beleef. In ons nuwe strategie en bedieningsmodel sal ons beslis hieraan moet aandag gee.

VIII. LidmaatdataAanbeveling: Die kerkraad vra Onderlinge Sorg om voor 3 Mei 2018 ʼn proses te loods waartydens die lidmaatdata op datum gebring word.

IX. Sinodale aandeelAanbeveling: Die kerkraad doen by die Sinode aansoek vir afslag in die gemeente se sinodale aandeel in die lig van die Gemeente se tekort in die boekjaar van 2017-2018.

X. Fokusse van leraars: Ons besef dat die teenwoordigheid by lidmate, maar óók by nie-gelowiges en die mobilisering van lidmate om hulself te begin ontdek as waardevolle instrumente in die hande van God wat tekens van die Here se Koninkryk oprig en ʼn voorsmaak daarvan is, van ons belangrikste fokusse is in ʼn tyd soos hierdie. Aanbeveling: Die kerkraad versoek die leraarspan om weer opnuut na hul werksprogram te gaan kyk en dit in lyn te bring met hierdie fokusse. 

XI. Kerkraadsvergadering: Die kerkraad belê ʼn vergadering vir Donderdag, 3 Mei 2018.

Top