Tyd van verootmoediging en gebed - 14 Maart 2018
Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jes 40:30-31 – 1983 Vertaling)

So moeg! Die klagte van soveel mense – oud en jonk. Die lewe is immers so gejaag – daar is eenvoudig nie tyd om te rus nie. En jy aanvaar dit is maar die rede waarom jy nie soggens uit jou bed kan kom nie. Daar kan ook ander redes wees.

Een van die redes kan ‘n geloofsrede wees – voortdurende twyfel, onsekerheid en ‘n soeke na sin in die lewe kan só uitputtend wees. Matteus vertel: Toe Hy (Jesus) die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.>>

Geloof en vertroue in die Here kan energerend wees. Om te glo en geloofsonderskeidend te leef bring rus, gee perspektief op die lewe, maak sin en gee ‘n lewensdoel. Geloof in en gehoorsaamheid aan God gee ‘n rede om voor te leef. ‘n Rede om voor te leef, bring vreugde. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. (Hebr 12:3)

Gebed: Here U gee vir my krag, energie, hoop en vrede. Dit is wonderlik om in U te kan rus. Amen

Top