Tyd van verootmoediging en gebed - 10 Maart 2018
Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. (Mark 6:41-42 – 1983 Vertaling)

Wanneer ons gaan kamp in die veld is dit ‘n groot beplanningstrategie – ‘n lys vir dit en ‘n lys vir dat. Die aankope word fyn beplan. Alles word noukeurig ingepak en dubbeld seker gemaak dat alles wel ingepak is.

Markus vertel van ‘n menigte mense wat Jesus gevolg het na ‘n afgeleë plek en dit is etenstyd. Wat nou? Daar is nie ‘n inkopiesentrum naby nie. Die dissipels was verbaas toe Jesus vir hulle sê: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” “Vyf brode en twee visse.” Dit is wat ons het. Dit is al, net dit. Niks meer nie.>>

Ons leef asof ons niks het om te bied nie; asof daar net tekorte is. Al wat ons het, is die vyf brode en twee visse. Wat doen ‘n mens nou daarmee? Daarom moet ek net meer en meer inpalm, want môre mag daar dalk nie meer wees nie. Ons word voortdurend gewaarsku dat jy nie genoeg het vir eendag nie. Natuurlik moet ons verantwoordelik omgaan met ons bronne en wegsit vir môre, maar ons het eindelik ook so baie wat ons kan deel. Jesus leer ons dat dit wat ons het in sy hande baie word. Eindelik kan ons ‘n lewe van oorvloed lei. Kom ons waag dit met ons bietjie en laat God ons verras met dit wat Hy met die bietjie kan doen.

Jesus se dissipels was stomverbaas oor dit wat alles nog oorgebly het. Miskien moet ons minder ingestel wees op ons tekorte en eerder meer fokus op die baie wat ons het en kan deel.

Gebed: Here ek word oorvloedig geseën. Ek het soveel om te bied en te kan deel. Amen

Top