Ek en Celesté stop onlangs voor ‘n crèche in die armste van arm gebiede in Grabouw om ons Hemel-op-Aarde werkboeke af te lewer. Sy lig my in dat ons maar op die uitkyk moet wees, want die dele waar ons nou beweeg noem mens die “ghetto’s”. Om julle ‘n idee te gee, die crèche is ‘n “container” wat agter hierdie huis staangemaak is.

Ons het skaars uitgeklim, toe ‘n horde skoolkinders uit die rigting van die laerskool in die straat afgehardloop kom. Ek was vas oortuig daar is gróót fout. Miskien ‘n skietery by die skool of iets. Ons kyk uit vir plek om dekking te slaan. Niemand anders as ek en Celesté lyk egter windverskrik nie … Die ou dame wat hoof is by die crèche som ons gedagtes op en verduidelik vinnig: die kinders oefen atletiek!! My hart breek in duisend stukke…

Net daar besef ek: ons het so alles, maar tog bly ons kla en is ons dikwels so onvergenoegd. Ons het atletiekvelde met uitsigte oor Valsbaai en klaskamers met lugversorgers … hierdie kinders oefen atletiek in die strate en gaan skool in containers. Ek voel die knop in my keel toe ek oomblikke later hul ogies sien blink oor hul eie, eie Hemel-op-Aarde werkboeke.

Gebedsversoek: Bid asseblief vir ons vir wysheid vir elke tree vorentoe. Bid vir die klein mensies van ons land wat bitter swaar kry en vir seën vir ons projek, sodat dit nog baie, baie lewens sal aanraak.

Kom maak na die diens ‘n draai by ons in die tent.

Sunette Erasmus

Top