Tyd van verootmoediging en gebed - 7 Maart 2018
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. (Rom 10:9 – 2016 Vertaling)

Die belydenis van die mond en die geloof van die hart gaan onafskeidelik saam. Die belydenis dat Jesus die Here is, was en is ‘n groot uitspraak: Jesus is Here; nié die keiser nie, nié die staatspresident nie, nié ek nie – Jesus is die Here. Hy regeer en het die finale sê oor my lewe. Hy is die almagtige Heer van hemel en aarde én van die kerk. Om met jou hart te glo dat God Jesus uit die dood opgewek het, gee nuwe lewe en hoop.

Oppad na Paasnaweek weet ons net: Die opstanding van Jesus is nie ‘n ander paspoort na ‘n ander wêreld nie. Dit is ‘n nuwe persepsie van hiérdie wêreld waarin Jesus die Here is.

Gebed: Here ek bely dat U Here is en U Jesus uit die dood opgewek het. Dankie vir die nuwe lewe en hoop wat U skep. Amen

Top