“Sometimes your highest calling scares you the most.”

Dit is Oktobermaand. Dit is laatmiddag. My selfoon kry die bewerasies om ’n Whatsapp aan te kondig. Dit is die maatskaplike werker. “Do you know of any temporary safety care mom who is available and ready to take a baby?”

Iewers is daar dus ’n baba wat ’n mamma nodig het. Die ratte in my kop begin draai. As projekleier van die kanga&roo-projek wat tydelike veilige sorg-ouers met melk en doeke ondersteun, het ek kontak met heelwat kanga-mammas. Die een na die ander naam kom by my op en so ook die rede waarom die betrokke mamma nie nou ’n baba sal kan neem nie: “Sy gaan hierdie week in vir ’n operasie.” “Sy het reeds ’n baba.” “Hulle gaan Desember met vakansie.” My lys van name krimp. Ek laat weet die maatskaplike werker dat ek nie nou van ’n mamma weet wat gereed is vir ’n baba nie.

Vroeg die volgende oggend is ek wakker. Ek dink aan die baba en iets in my hart roer. “Wat van ons? Moet ons nie dalk die baba neem nie?” My lys van verskonings groei: “Ek het nog ’n KidsXpress-boek wat afgehandel moet word.” “Ons wil Desember by my ouers gaan kuier – daar is nie plek vir ons as gesin, ons bagasie en ’n baba in die kar nie.” “Ons vorige baba is skaars twee maande gelede na sy aanneemouers toe. Ek geniet nog my deurslaap in die nag.” “Die baba sal nog teen Januarie by ons wees. Dit is ons besigste maand in KidsXpress.” En so aan en so aan....>>

Ek kry egter nie die babadogtertjie wat by Helderberg Hospitaal in die broeikas lê uit my gedagtes nie. Werner het nog skaars sy oë oopgemaak toe hy hoor: “Wat dink jy oor die baba? Moet ons haar nie, maar neem nie? Na ’n lang heen en weer gesprek sê Werner: “Dit is seker tog wat opoffering is, om ten spyte van al die redes hoekom dit nie nou vir ons gerieflik gaan wees nie, JA te sê.” Ek kontak die maatskaplike werker: “We will take the baby.”

’n Dag later stap ons met baba Grace by die hospitaal uit. Byna 4 maande later kyk ons terug op ’n boek wat toe wel klaargekom het, my ouers het Kersfees by ons kom kuier, ons het die besige Januariemaand oorleef en Grace slaap reeds die afgelope twee maande feitlik deur.

En tussen alles deur het ons boonop die vreugde van baba-kraaigeluidjies in die huis en klein, ronde wangetjies wat ons kan opsoen! ’n Soeter baba kry jy nie! Ek dank die Here dat ons nie te bang was om JA, te sê nie. Ons sou soveel armer gewees het!

Baie dankie aan elkeen wat die kanga&roo-projek ondersteun. Dit maak dit vir ons as tydelike-veilige-sorgouers soveel makliker as ons net daarop kan fokus om hierdie kosbare lyfies te versorg en lief te hê en nie nodig het om nog te wonder waar ons die finansies gaan kry vir melk en doeke nie. Die kanga&roo projek ondersteun tans maandeliks ongeveer 18 kanga-gesinne wat tussen hulle 25 babas versorg wat wag op aanneming.

ADOPT. If you can’t adopt, FOSTER. If you can’t foster, SPONSER. If you can’t sponsor, VOLUNTEER. If you can’t volunteer, DONATE. If you can’t donate EDUCATE.

Wat kan jy doen?
Kontak Tania Schultz om meer uit te vind oor die tydelike-veilige-sorg van babas. Die kanga&roo-projek benodig Huggies/Pampers no 1, 2 en 3 weggooidoeke, Infacare of Lactogen no 1 Formule melk en baby wipes. Produkte kan by die kerkkantoor ingehandig word of maak ’n finansiële donasie aan Helderberg Uitreik gemerk: kanga&roo.

Top