Dit gee my hoendervleis om te sien hoe God deur mense werk. Ek voel dikwels soos ‘n toeskouer op Nuweland wat elke nou en dan wil opspring en skreeu “Dis ‘n ses!!” Well done!!

God slaan sesse deur die projekte en mense van Helderberg Uitreik. Nie omdat hulle so goed is nie, maar omdat God so groot is. Getuienisse kom van oraloor by my aan. Van vlugtelinge in Athene wat Jesus begin volg en hulle eie Arabies kerkie gestig het in Omonia, tot ‘n bekeerling uit Islam by ons klein gemeentetjie in Mavago, Mosambiek. Van kindertjies en grootmense wat ontwikkel en groei en leer en uitstyg as gevolg van ons ontwikkelingsprojekte. Baie baie honger mense word versorg van Pakistan tot Sir Lowry’s Pass en oral in die Helderberg Kom. Siekes word genees en gebrokenes word heelgemaak. 194 331 mense is in 2016/17 bedien. Dis alles God se werk.

Terwyl ons nou in die erediens sit, het daar reeds vanoggend vyf eredienste in Sri Lanka plaasgevind (3 wat tot 5 gegroei het), en een in Pakistan. Vier eredienste is tans besig waarvan een op Stellenbosch (Internasionale Studente) een by Curro Sitari (Hoop Geloofsgemeenskap), asook een elk in Mute en Mavago in Mosambiek. Ons Kinderevangelisasieprojek bedien vanoggend drie kinderdienste by Helderberg Gemeente.

Versorg en beman deur Helderberg Uitreik, befonds deur geloofoffers en donateurs – geinspireer en aangevuur deur die Heilige Gees van God.

Top