Om mense te mobiliseer om draers van Christus se hoop te wees en om hoop te bring aan individue en hul kinders wat geraak word deur egskeiding en enkelouerskap, word by Harmony op die volgende maniere uitgeleef:

Die aanbied van die verskeie programme, GriefShare, DivorceCare, DivorceCare4Kids en Single&Parenting wat twee keer per jaar aangebied word. Bo en behalwe die toerusting wat die programme bied, was daar in baie gevalle ook groot noodverligting op emosionele, geestelike vlak en ook met basiese behoeftes. Dit is hier waar Harmony enkelouers kon bedien met kospakkies, klere, warm maaltye, mediese hulp, bederf-pakkies met Moedersdag en Kersfees, terapie deur maatskaplike werker en berading, lewensafrigting, aanbied van professionele hulp vir kinders met leeruitdagings, aanbied van verskeie werkswinkels, mediese hulp en hulp met skoolbenodigdhede en skoolfonds.

Harmony is ook ‘n brugbouer tussen mense in nood en donateurs wat nie op ‘n direkte manier kan betrokke raak nie.>>

Donderdae-aande word daar in ons heerlike fasiliteite ‘n warm en huislike atmosfeer geskep wanneer almal vooraf lekker saamkuier en ‘n lekker warm maaltyd geniet. Vriendskappe word hier gevorm wat onder “normale” omstandighede nooit sou gebeur nie. Daar word verby velkleur, kultuur, ryk-en-arm, die uiterlike en sosiale statusse gekyk; daar word met begrip en empatie na mekaar geluister. Mense en kinders wat nie meer kerk toe gaan nie, is opgewonde om Donderdae kerk toe te kom.

By Harmony word daar ‘n veilige ruimte geskep waar kinders en volwassenes met mekaar kan praat oor hul pyn en gebrokenheid. Dit is hier waar mense weer die genade en liefde van Jesus Christus ontdek, die verhouding met hul Hemelse Vader herstel word.

Die bederfpakkies wat met Kersfees, Moeders- en Vadersdag uitgedeel word, laat mense spesiaal en weer gewaardeerd voel. Mense ontdek hul gawes en kreatiwiteit en kan dit binne die projek uitleef. Hulle kom weer op ‘n plek waar dit vir hulle moontlik is om te kan gee en te kan dien.

Matteus 11:28 - “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee”, word by Harmony ‘n werklikheid.

In groot dankbaarheid teenoor die Here is dit ‘n voorreg om deel te kan wees van Harmony se bestuurspan: Annette Botha, Corneille Barnard, Leandra Minnie, Elsie Lubbe, Evan Marais, Charlene Witten, Sam en Lucy Olsen.

Donderdag, 15 Februarie om 17:30 begin die 1ste rondte van die jaar. Almal, ook nie-lidmate, is welkom.

Vir meer navrae oor die kursusse of om betrokke te raak kontak gerus vir Annette Botha by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Top