Wil sommer iets lekkers met julle deel God wat besig is om ʼn legkaart te bou – ʼn legkaart met Jesus se gesig.

Ek was vandag laatmiddag op ʼn vlug met Safair na Johannesburg, my eerste vlug met Safair. Wanneer ek vlieg, is dit een van my “stilhoutye” waartydens ek wil lees, sommer net sit en dink, musiek luister of lekker slaap. Dan kies ek gewoonlik doelbewus vir my ʼn sitplek teen die venster of paadjie en doen nogal moeite om nie oogkontak te maak of enige geselsies aan te knoop nie. Dit is my “Hannes-tyd” en ek geniet elke oomblik daarvan.

Gister en vanoggend was baie besig en ek het net nie die tyd gehad om na my sitplekbespreking te kyk en dit vooraf te verander nie. So beland ek tussen twee swart jongmans – Thapelo, ʼn 20-jarige, aan my linkerkant teen die venster en Bongani, ʼn 30-jarige, aan my regterkant.

Toe die vliegtuig net so wil begin beweeg, sê Thapelo baie benoud: Ek het so ʼn hol kol op my maag; ek voel naar; dit is die eerste keer dat ek vlieg; ek is bang. Ek sê vir myself: “Hier kom groot sports!” Ek kry sommer ʼn so ʼn ongemaklike gevoel dat die wit hemp wat Louise met soveel liefde, net voor ek by die huis weg is, gestryk het, teen die einde van die vlug anders gaan lyk. Ek probeer hom kalmeer en vertel wat die doel van die papiersakkie voor hom is.

Bongani, wat deel is van die afrigtingspan vir die vroue Springbokrugby en baie vlieg, help ook om hom te kalmeer. Ek en Bongani het mekaar eers leer ken en Bongani sê vir Thapelo: Jy is so gelukkig om langs ʼn dominee te sit; hy sal jou help om kalm te bly. So begin ons drie gesels en lekker kuier onder andere om vir Thapelo kalm te hou. Thapelo vertel ons sy storie hoe daar probleme was met sy geboorte en sy familie vir hom gebid het, daarom is hy Thapelo gedoop; dit is die woord vir “gebed” in Sotho.>>

Hy het groot geword in ʼn plakkerskamp in Johannesburg by sy ouma wat onder andere ʼn shabeen en bordeel vir oorlewing bedryf het. Vier jaar terug ontmoet hy ʼn meisie wat uit ʼn Christen huis kom en haar familie ontferm hulle oor hom en hy ontdek die vreugde daarvan om kind van die Here te wees. Ons gesels lekker saam oor God, Sy genade en Sy wil vir ons lewe. Hierdie 20-jarige jongman begin met my gesels oor geloofsonderskeiding en roeping. Sy droom is om te skryf en te “rap”. Hy wil so graag ʼn verskil onder die jongmense maak deur sy skryfwerk en rap-musiek. Ons gesels lekker saam oor Jazz, Blues en klassieke musiek. Ons wou nog saamgesels oor Bongani se storie toe land die vliegtuig. Bongani is ʼn toonbeeld van liefde, vriendelikheid en hulpvaardigheid. Hy is ʼn afgestudeerde student in sportwetenskap van Kovsies. Toe die vliegtuig land begin die mense rondom met ons gesels en hak aan by ons gesprek.

Ek het vandag die gesig van Jesus op die vliegtuig beleef. Ek het met soveel hoop afgeklim en opnuut besef hoe belangrik dit is om juis in dié tyd met mekaar oor grense heen kontak te maak en net te luister. Thapelo en Bongani kon my seuns gewees het en ek het vandag so baie van hulle twee geleer en ontdek van wie God is. “Thapelo en Bongani – julle was nie gelukkig om langs ʼn dominee te kon sit nie; die dominee was bevoorreg om vandag tussen julle twee jongmans te kon sit. Dit was so spesiaal”.

Ek dank God om juis in dié deel van God se Koninkryk hier in Suid-Afrika te kan wees.

Ek deel dit graag die storie uit dankbaarheid met jou.

Hannes

Top