Wat is jou prentjie van God? Dalk is dit ‘n God wat gereed staan met ‘n lat in die hand? Of God, ‘n groen monster, groen van jaloesie!? Dalk sien jy God as ‘n God van oorvloed; een wat nooit ophou gee nie. Of dalk sien jy Hom as Iemand wat teleurstel? Dalk het jy êrens langs die pad ophou probeer uitpluis wie God regtig is en selfs daarin begin belangstelling verloor…

Ons dink baie keer dat God oor ons dink soos wat ons oor onsself dink. Hierdeur maak ons somtyds vir God iemand wie Hy nie noodwendig is nie. Ons gevoel van onwaardigheid hang direk af van hierdie prentjies wat ons skets in ons koppe oor wie en wat God is. Baie faktore speel ‘n rol in hoe hierdie prentjies lyk – ook die omgewing waarin ons daagliks leef en funksioneer.

Dallas Willard sê: “The acid test for any theology is this: Is the God presented one that can be loved. Heart, soul, mind, and strength? If the thoughtful, honest answer is ‘Not really’, then we need to look elsewhere or deeper.”

Om ‘n gesonde prentjie van God te vorm, moet ek besef dat ek broos en kwesbaar is, en dat ek kwesbaar MAG wees en MOET wees. Brené Brown toon in een van haar studies aan dat mense wat liefgehê/waardig voel, juis diegene is wat gemaklik is met hul broosheid en hulle tekortkominge eerlik en opreg in die gesig staar. Dis tog wat Paulus oor en oor vir ons kom vertel. Maar om rou en naak voor die waarheid te staan, verg moed. En dan…dis dàn wat jy die Skat in die gekraakte kleipot al hoe meer begin raaksien en jy geïnspireer word om nog méér voluit te lewe.

Jesus en Petrus (in Matteus 16:13-20) help ons om eerlik met hierdie vrae en uitdagings te worstel wanneer Petrus self in die heidense stad, Sesarea-Filippi, besig is om (ook saam met ‘n klomp ander mense, gelowiges en ongelowiges) prentjies van God te skilder. Kom luister gerus bietjie na wat hulle dink!

Top