Ons begin op Sondag 15 Oktober met ’n nuwe opwindende erediensreek. Die reeks kyk na die lewensritmes wat ons kan help om ons geloof en ons alledaagse lewe behoorlik te integreer. Dit is gebaseer op Tom Smith se boek Raw Spirituality. Dit kan enigiemand help om die boek saam met die reeks te lees, en om op sy webblad – http://www.rhythmoflife.co.za/ - te kyk vir praktiese oefeninge wat ’n mens kan help om so ’n geïntegreerde spiritualiteit te ontwikkel. Die boek is te koop by CUM Boeke, Takealot (R205-00) en Loot (R165-00), asook op Kindle beskikbaar. Ons kan ook by die kerkkantoor vir jou ʼn boek bestel.

Dit is ook ʼn wonderlike geleentheid om saam met jou gesin, familie en/of vriende hierdie ritmes te bespreek en mekaar te help om saam met ander in die teenwoordigheid van God te lewe en sy dissipels te wees.

Hou die webblad en e-nuusbrief dop vir gedagtes en vrae om jou in die proses te help.

Die reeks loop so:
15 Okt: Nes ons is... 2 Kor 3:13-18; 4:5-7 en Mat 16:13-17
Enige verhouding vra van my twee dinge: Om die ander persoon te ken, en om eerlik te wees oor myself. Dit geld ook vir ons verhouding met God. Ons moet kom “nes ons is...” En ons moet God leer ken soos God regtig is en nie soos ons verkies dat God moet wees nie. As hierdie twee dinge in plek is, kan ons gevorm word as mense wat innerlik en uiterlik dissipels van Jesus Christus is. In die volgende sewe weke gaan ons kyk hoe ek in die daaglikse ritmes van my lewe hierin kan groei.>>

22 Okt: Hoe connect ek met God? Joh 17:21-23

Om nie met God in kontak te bly nie, is soos om op die internet te probeer kom, maar om nie die password te ken nie. Dit werk egter verskillend vir verskillende mense. Mense is verskillend bedraad, maar ons moet elkeen op ons manier ‘connect’ met God.

29 Okt: Met wie sit ek om die vuur? Hebr 10:24-26; 11:1-2, 1 Pet 2:1-10; Kol 3:12-17
Die pad van dissipelskap is nie ’n pad wat ons op ons eie loop nie. Ons het ander gelowiges om ons nodig – mense met wie ek saam kan kuier, met wie ek my gebrokenheid kan deel, met wie ek my geloof in God kan deel.

5 Nov: Enig in jou soort 2 Tim 1:6-7
Elke gelowige is uniek en het ’n unieke bydrae, wat die lewe vir mense om my beter maak. Wanneer ek my onmisbare en unieke plek in die wêreld ontdek, kom ek in aanraking met God se groot doel vir my lewe.

12 Nov: Emigrant of Immigrant Joh 1:14 en Jer 29:7
My geloof raak eers regtig ’n daaglikse werklikheid as ek tuiskom in my omgewing, as ek regtig hier intrek. Dan eers begin ek begrip kry vir die maniere waarop God my kan gebruik in die lewens van die mense met wie ek daagliks kontak het.

19 Nov: Wekker – Dien met wat jy is en het Luk 12:15-21, Fil 2:6-7
God het my gemaak om ’n spesifieke persoon te wees en om spesifieke gawes te hê. Wanneer ons van ons tyd, ons gawes, of wat ookal nodig is begin gee vir ander mense, groei ons geloof en word ek self verryk saam met die mense wie ek dien.

26 Nov: Loop saam 2 Kor 5:11-21
Die pad van ’n eerlike en oop verhouding met God sluit ook ander gelowiges in wat anders is as ons. In die proses word hierdie ander gelowiges en onsself oneindig verryk. Ons ontdek in die proses meer van Jesus in hulle.

3 Des: ½+½=1½ 1 Kor 12, Rom 12, Gal 6:2
Niemand van ons is heel nie. Wanneer gelowiges egter saamgevoeg word deur God, vind daar iets soos sinergie plaas: Die som van die dele is meer as die geheel. Dan gebeur die verrassende soort wiskinde soos in die som ½+½=1½.

Top