Aanbidding is nie iets wat ons doen nie, maar wie ons is.
Ons glo in Helderberg Gemeente dat die Here ons op verskillende maniere gemaak het en dat ons die voorreg het om die Here so te kan aanbid. Ons probeer om dit juis moontlik te maak om ‘n groot verskeidenheid te omhels en vir mekaar ruimte te gee om so die Here te ontdek. Ons wil julle almal nooi om te kom deel raak van ons Aanbiddingsbediening. Daar is ‘n wye reeks geleenthede en jy kan self bepaal watter vlak van betrokkenheid jy tans kan hanteer. Hoe meer hande daar is, hoe meer kan ons saam as gelowiges die Here eer.

Musiekgeleenthede:
Die informele diens het tans 4 begeleidingsgroepe wat een Sondag ‘n maand speel. Die groep oefen die voorafgaande Maandagaand van 18:30 in die kerk. Enigiemand met gawes op akoestiese-, elektriese- of baskitaar; digitale klavier, tromme, viool, trompet en voorsang is welkom. Ons soek veral klavierspelers op die oomblik.>>

Die meditatiewe diens is gerig op ‘n meer mistieke Taize musiekstyl met herhalings en eenvoud. Betrokkenheid behels die speel van een Sondag in ‘n maand se twee dienste. Die musiek word tans hoofsaaklik op ‘n digitale klavier begelei. Ons wil dit graag uitbrei met voorsangers en ander instrumente soos viool, tjello, fluit ens. Hierdie instrumente sal nie ‘n vaste betrokkenheid verg nie, maar afwisselende geleenthede.

Die aanddiens in die Kapel het ‘n informele karakter. Dit vra vir minder instrumente (klawerbord, kitaar, twee stemme). Hierdie kan ‘n wonderlike geleentheid wees om in ‘n klein groepie verantwoordelikheid te neem vir die musiekbediening tydens hierdie diens.

Sommige van ons het die gawes vir daardie agter die skerm take wat die ruggraat is van enige erediens. Vir ons is julle gawes belangrik en ons benodig vrywilligers vir die volgende:
- om die klank en video tydens eredienste te doen. Opleiding word verskaf, jy moet net ‘n goeie oor en tegniese aanvoeling hê.
- om die PowerPoint tydens die eredienste aan te skuif. Dit behels een diensbeurt per maand tydens ‘n erediens van jou keuse.

Ons soek ook vaardige mense om te help met die maak van PowerPoint produksies vir spesiale geleenthede soos Aswoensdag.

Vir meer inligting kontak asseblief vir Corneille Barnard 

Top