Ons verwagtinge vir ons eerste amptelike byeenkoms van Sondag 22 Januarie is heeltemal oortref en daar moes nog stoele nader getrek word om vir almal sitplek by die reeds oorvol tafels te gee.

Die gevoel van die byeenkoms kan beste beskryf word deur ‘n paar aanhalings van ons span:
“Ek geniet die interaksie regtig baie! Dis lekker om “geken” te word, en om die ander mense te leer ken. ‘n Mens voel nie soos net nog iemand wat kan verdwyn in die massa nie.”
“Ek hou van die karakter, intimiteit en informaliteit van om rondom tafels te sit. Die feit dat ons tyd vir groep geselsies het, maak die ervaring soveel meer persoonlik.”
“Die spontane gevoel van vriendelikheid en spontaniteit was tasbaar.”
“Ai, dis opwindend om by iets nuuts betrokke te raak. Dis heerlik om nuwe mense te ontmoet. Alhoewel verandering vir sommige 'n uitdaging sal bly, kan ek met opregtheid sê dat ek 'n ontmoeting met God ervaar het. Die woordverkondiging was 'n seën en ek het baie geleer uit die getuienisse wat rondom die tafel gedeel is. Sommige van die bydraes het my genoop om weer te gaan dink, en weereens tot die besef te kom, dat ons God nooit werklik sal kan begryp nie. Ek glo ook dat 'n mens nie geestelik kan groei as mens in 'n gemaksone verval het nie.”>>

Hoop Geloofsgemeenskap het die jaar afgeskop op Sondag 15 Januarie met ‘n voorbidding en nagmaalbyeenkoms vir die vestigingspan. Die geleentheid is ook aangegryp om beplanning te doen en spesifieke behoeftes te identifiseer en aan te spreek.

Daar is besluit om van die vestigingsfondse wat vanaf die Sinode, Helderberg Uitreik en ander donateurs ontvang is, konserwatief aan te wend om ‘n media skerm aan te skaf. ‘n Logo, waarmee die projek identifiseer kan word, is gevestig en die besluit geneem om baniere en inligtingsmateriaal te laat druk wat hierdie identiteit visueel kan voorstel.

Die Here het egter in ons behoeftes voorsien en seën ons met ‘n gratis klavinova, TV-skerm, welkom banier en inligting blaadjies wat deur weldoeners geskenk word.

Dit was asof ons net kon ervaar hoe Hy elke keer vir ons nog ‘n deur oopmaak. Ons prys die Here hiervoor en kan nou opgewonde beplan om fondse aan te wend vir apparaat vir ons kinderbediening, toerusting by ons koffiekroeg en uitbreiding van musiekbediening.

Daar is wel uitdagings op ons pad maar ons gaan voort met die volle vertroue dat God ons as draers van Sy hoop wil gebruik en ten alle tye in ons behoeftes sal voorsien.

  • Wat is ons uitdagings en behoeftes:
    - Hulp met opstel en opruim van die gedeelde fasiltiteite
    - Volwasse en tiener hulp met kinderbediening
    - Tegniese hulp tov PowerPoint en klank
    - Bemarking
    - Databasis opstelling en onderhoud
    - Ontwerp en instandhouding van ‘n webblad
    - Ronde opvoutafels en tafeldoeke
    - Klein kinder plastiek tafeltjies en stoeltjies
    - Inkleurkryte, papier, ens.
    - Musiekinstrumente- en klankversterkingsapparaat
    - Gebedsondersteuning

Wil jy graag betrokke raak by hierdie opwindende, vars en nuwe geloofsgemeenskap? Kontak: Annaleen Matthee, 083 508 0895 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Top