Ons is op pad Kersfees toe. Die fees van vreugde.
In Afrikaans mis ons dit so bietjie met “geseënde” Kersfees, teenoor “happy Christmas” of “merry Christmas”.
Kerstyd is ‘n tyd om bly te wees en uiting te gee aan ons vreugde. Nie omdat dit vakansie is, of omdat ons geskenke kry en eet en drink nie, maar omdat ons onthou en opnuut gegryp word deur die wonderwerk dat God na ons toe gekom het!
Maar dit is nie vir almal so nie. Ons het so min vreugde in ons lewe en in ons land. Dikwels net ‘n klomp mense wat kwaad is en bekommerd is. Ons eie onmin en hartseer en verlang na geliefdes help ook nie.
Ons het die vreugde van Kersfees nodig – maar dalk sukkel jy ook om in die bui te kom. Sondag gaan ons kyk hoe Sefanja 3:14-20 ons kan help opgewonde en met vreugde oor God en oor Kersfees te dink.