Kersfees is ‘n Jesusfees
“Kersfees is ‘n Jesusfees, Christus het gekom, wees saam bly oor Hom.”
Ons gelowiges weet dat Kersfees oor baie meer gaan as die gee van geskenke. Ons gaan die jaar afsluit met ‘n wonderlike reeks van KidsXpress met die hoop dat nuwe, betekenisvolle rituele en tradisies in baie gesinne sal posvat rondom Kersfees, rituele en tradisies wat ook die volgende geslag kinders in Kerstyd sal laat vra: “Gaan ons weer saam die huis versier en oor Jesus praat?”
Die reeks is aangepas vir ons kleuters en strek oor ses geleenthede. Elke week maak die kinders opgewonde ‘n kersboks oop om te kyk wat hulle daarin gaan kry. Aan die hand van wat uit die boks kom (klokkie, rooi versierings, harte, goud en silwer versierings, sneeuvlokkie) leer hulle dan meer oor Jesus ons Verlosser se koms en dat ons Kersfees vier met harte vol liefde, waaroor die gee van geskenke regtig gaan en oor die verhaal rondom Jesus se geboorte. Die kinders gaan ook elke week ‘n kersversiering maak wat hulle kan huis toe neem aan die hand van die oggend se verhaal.
Mag hierdie paar Sondae ‘n blywende indruk laat op ons kleuters. Baie dankie aan ons passievolle lesaanbieders wat elke week met soveel oorgawe die lesse tuisbring.